Sjef: Louise Veldhuizen

Louise-Veldhuizen2-web

Louise Veldhuizen is die uitvoerende sjef by Blaauwklippen Landgoed buite Stellenbosch se Bistro-restaurant

Deur Maryke Roberts

Foto’s verskaf

Haar wyn-en-kos-pasmaat-spyskaart bied aan gaste die geleentheid om die plaas se bekroonde wyne met gepaste disse te proe, maar die á la carte spyskaart bied van deelborde tot spesiale swart-bord-aanbiedinge van vars produkte in seisoen.

Het jy ’n gunstelingdis wat jy graag berei as jy tuis onthaal?

Ons braai graag as ons onthaal en geniet om als op die kole te gaar te maak. ’n Asiatiese varkpens met soetpatat in die kole is een van ons gunstelinge.

Wat is jou een swakpunt waarvoor jy alle reëls oorboord gooi?

Wyn, ek is baie lief vir goeie rooiwyn.

Na watter sjefs kyk jy op?

Michael Broughton, Wade van der Merwe en George Jardine

As jy enigiemand vir aandete kan nooi, wie sal dit wees en hoekom juis hulle?

Cas Abrahams, omdat sy al die geheime van ’n goeie kerrie ken.

Wat sal jy vir haar voorsit om te eet en te drink?

Ek sal vra dat sy vir my kook.

As jy ’n dis kon wees, watter een sou dit wees?

’n Sjokoladekoek.

LEES OOK: Sjef: Annelien Pienaar

Hoe dink jy sal jou vriende jou beskryf?

My ma se stoutste kind.

Wat is jou kookstyl?

Ek geniet om verskillende Spaanse tapas te maak, sodat almal om ’n gesellige tafel kan saamdrom en klein porsies van als eet.

Wat is jou mooiste kinderherinneringe aan kos?

Ek en ouma wat suur lekkers probeer maak en die hele kombuis taai los.

Hoe moet die perfekte tafel vir gaste lyk?

Ek is nie ’n persoon wat hou van blomme en tierlantyntjies nie; minder is meer. ’n Lang houttafel vol lekker stink Franse kase, suurdeegbrood en Suid-Afrikaanse wyne om gaste te verwelkom, is tops.

Wat is jou gunstelingkookboek?

Kook en geniet

Wat is jou mooiste sêding oor kos?

Vet mense is moeiliker om te ontvoer.

Wat is die grootste kos-flop wat jy al gehad het?

Ek het ’n voedselverwerker aangesit met spinasiesop in en vergeet om die deksel vas te draai.

Is daar een dis/metode wat jy lank gesukkel het om te bemeester?

Franse macarons, ek sukkel steeds daarmee.

Is daar iets wat jy nie berei nie?

Vrugtekoek

Waarvoor trek jy jou neus op as dit by eet kom?

Brusselse spruitjies

Wat was die maaltyd wat nog die grootste indruk op jou gemaak het?

My kêrel het een dag vir my as ’n Naked chef gekook. Ek was nie so beïndruk met die kookvermoë nie, maar meer met die vermoë om die kerslig te vermy.

LEES OOK: Sjef: Martelize Brink

Waarsonder kan jy nie kook nie?

Regte botter, suurlemoen en vars kruie.

As jy iets vinnig aanmekaar moet slaan, wat kook jy?

Korslose souttert

Wat is jou gunstelingkrui?

Koljander

Wat is die krui wat Suid-Afrikaners die minste gebruik en jy dink meer aandag verdien?

Sumac

Waar kom jou inspirasie vir nuwe geregte vandaan?

Ek besoek graag vars markte en ander restaurante.

Wat is jou gunsteling Blaauwklippen-wyn?

Die Zinfandel-produkte.

Louise se springboklendeskyf met macadamianeut en bosbessiesous met mieliepap-en- parmesaan-krokette:

Krokette

250 ml melk

¾ koppie mieliepap

Knippie sout en peper

125 g gerasperde parmesaankaas.

½ koppie gekapte kruie van jou keuse.

½ koppie meel

1 eier

1 koppie Panko-broodkrummels

Metode

Verhit die melk met die mieliepap op ’n lae hitte. Bring tot kookpunt en voeg genoeg sout en peper by. Verwyder van die hitte; roer die kaas by en laat afkoel. Knie jou kruie by en rol in bolletjies.

Rol die bolletjies deur die meel, doop in die eier en rol deur die krummels tot bedek.

Verhit die olie tot ’n medium hitte en diepbraai tot bros en ligbruin van kleur.

Springboklendeskyf

200 g vleis per persoon.

30 ml macadamianeutolie

30 g gekapte macadamianeute

100 ml geblikte bosbessies

Sout en peper

Metode

Strooi sout en peper oor die vleis; verhit ’n pan met macadamiaolie en braai die vleis tot medium (ongeveer 2 min aan elke kant). Haal dan uit die pan om te rus.

Braai die gekapte neute tot goudbruin en voeg die bosbessie by.

Roer tot alles saam gesmelt is en bedien saam met jou mieliepap-krokette en springboklende.

Springboklendeskyf

Send this to a friend