Kuns: Louise Bourgeois

Met ’n tamaai beeld van ’n spinnekop, Maman, kry die Frans gebore kunstenaar Louise Bourgeois wêreldwyd erkenning

Deur JOHAN MYBURG

Louise Bourgeois was 89 toe Maman, haar reusagtige beeld van ‘n spinnekop, in 2000 vir die opening van Londen se Tate Modern in die Turbine Hall opgerig is.

Dié beeld, wat meer as nege meter hoog is en ook Bourgeois se grootste en bekendste werk is, is van staal gemaak en later is ses bronsweergawes gegiet wat wêreldwyd vertoon is.
Op agt slanke pote is die lyf met ‘n eiersak hoog bokant mens se kop sigbaar; daarin is 17 grys-en-wit marmereiers.

Die titel van dié beeld, wat “Mamma” beteken, het sy só verklaar: “Die spinnekop is ‘n ode aan my ma. Sy was my beste vriendin. Soos ‘n spinnekop was my ma ‘n wewer. Ons familiesaak was dié van tapytrestourasie en my ma was in beheer van die werkswinkel. Soos spinnekoppe was my ma baie slim. Spinnekoppe met hul vriendelike teenwoordigheid, eet muskiete. Ons weet dat muskiete meer as lastig is en ook vir siektes verantwoordelik is. Spinnekoppe is waardevol en beskermend, net soos my ma.”

Bourgeois (1911–2010) se werk strek oor sewe dekades en dra die letsels van kinderdae-trauma, onder meer die ontrou van haar pa en die vroeë dood van haar ma. Bourgeois was 21 en besig met studie in wiskunde en geometrie aan die Sorbonne toe haar ma dood is. Sy het haar studie net daar gestaak en begin kuns studeer.

Jare later het sy opgemerk: “Ek het ‘n kunstenaar geword om ‘n manier te vind om te oorleef.”
Fernand Léger het haar skilderwerk gesien en haar aangemoedig om ‘n beeldhoukoers in te slaan.
Bourgeois se benadering tot beeldhou en die onderwerpe wat sy getakel het – dikwels besonder seksueel eksplisiet – het haar vroeg laat uitstaan. Sy het haar ervarings op ‘n hoogs persoonlike manier omgesit: met mitologiese en argetipiese verwysings waarmee sy iets van die vroulike innerlike skoonheid en sielkundige letsels gesimboliseer het. 

In haar hantering van ‘n wye verskeidenheid media het sy uitdrukking gegee aan die spel tussen die manlike en die vroulike, seksualiteit en die lyf, die onderbewuste en die dood.In 1938 het sy van haar werk – skilderye en grafiese werk – in Parys vertoon, maar het haar nog in dieselfde jaar ná haar huwelik met die kunshistorikus Robert Goldwater in New York gaan vestig. Hy het haar aan die New Yorkse kunswêreld voorgestel en in 1953 het die Museum of Modern Art (MoMA) een van haar werke aangekoop.

In 1955 het sy ‘n Amerikaanse burger geword en het die VSA op die Venesiese Biënnale verteenwoordig. Goldwater is in 1973 dood. Bourgeois het begin klasgee, gereeld uitgestal en ook performance-werk begin doen. In die 1970’s het sy as sosialis en feminis polities aktief geraak en by die Fight Censorship Group aangesluit, ‘n beweging wat seksueel eksplisiete kuns verdedig het.

In 1982 het MoMA ‘n oorsiguitstalling vir Bourgeois aangebied – die eerste sodanige uitstalling vir ‘n vrouekunstenaar. Louise Bourgeois se groot bydrae tot die vestiging van ‘n feministiese beweging binne die kunste was ‘n aansporing vir talle jonger kunstenaars teen die middel van die 20ste eeu – kunstenaars soos Lynda Benglis en Judy Chicago.

Laat in haar lewe het sy nietemin opgemerk: “Die feministe het my as rolmodel aanvaar, as ‘n ma. Dit pla my. Ek stel nie daarin belang om ‘n ma te wees nie. Ek is steeds ‘n meisie wat myself probeer verstaan.”

Send this to a friend