Wynmaker: Elmarie Botes | Vrouekeur

Wynmaker: Elmarie Botes

Elmarie-Botes-web

Elmarie Botes is die nuutste lid van Nederberg se wynmaak-span

Deur MARYKE ROBERTS

Foto verskaf

Sy het vroeër vanjaar haar eerste oes vir dié bekende Paarlse wynkelder, een van Suid-Afrika se mees bekroonde kelders, as nuwe witwynmaker voltooi.

Elmarie, wat in die Kaapse Wynlande grootgeword en haar hoërskoolloopbaan by die gesiene Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch voltooi het, het geweet dis ’n uitdagende bedryf. Maar waar fisiese krag dalk ontbreek, vergoed sy beslis met deursettingsvermoë en dryfkrag. Haar ouers is haar inspirasie, want hulle het hard gewerk om te verseker dat sy en haar ingenieur-broer, hul drome kon bereik.

Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?

Ek het halsoorkop verlief geraak op die idee van wynmaak toe ek as ’n graad 11-leerder ’n keldertoer meegemaak het. My sintuie het onmiddellik ontwaak en dit was dit. Net daar het ek besluit om in te skryf vir die BSc Wyn- en Wingerdkunde-graad, wat by Stellenbosch Universiteit aangebied word.

Wat geniet jy aan jou nuwe pos?

Ek geniet myself gate uit, ten spyte van die 16-uur-werksdae gedurende parstyd, wat ek sy-aan-sy met ons keldermeester Andrea Freeborough, rooiwyn-maker Samuel Viljoen en die assistent-wit- en rooiwynmakers Chandré Petersen en Heinrich Kulsen meemaak.

Daar is niks opwindender as om die eerste druiwe die kelder vir ’n nuwe oesjaar te sien inkom nie. Die afwagting is tasbaar. En dis net ongelooflik om die wyn van die grond tot die bottel te sien ontwikkel! Dan geniet ek waardige uitdagings, die natuur wat ons almal onderhou en ’n goeie wyn.

Waar het jy voor Nederburg gewerk?

Nadat ek my studies voltooi het, het ek my wynmaak-loopbaan met ’n kort oes by Lanzerac Wynlandgoed op Stellenbosch begin, voor ek ook by Groot Constantia, Steenberg, Kanonkop en by Jordan as ’n intern gewerk het. Ek het in 2013 by Fleur du Cap in Stellenbosch as assistent-witwynmaker aangesluit en is in 2016 as witwynmaker aangestel.

Jy was deel van die Kaapse Wynmakersgilde (KWG) se Protégé-program. Vertel ons meer daaroor?

Ek is in 2011 gekies om ’n internskap van drie jaar saam met die Kaapse Wynmakersgilde as deel van sy Protégé-program te voltooi. Ek was bevoorreg om saam met uitsonderlike wynmakers te werk en het die geleentheid gehad om ongelooflike plaaslike en internasionale wyne te proe.

Die wyn wat ek gedurende my tyd as protégé gemaak het, was die The 43 Bush Pinotage, die eerste wyn wat ek my eie kon noem, en dis my hoogtepunt sover. Dit was heerlik om hierdie wyn te maak. Dit het my die geleentheid gebied om elke stap van die wynmaakproses self te behartig – van die druiwe proe tot die pluk; tot ontvangs daarvan in die kelder; die prosessering; afdruk; bottelering; en etikettering. Dit het my ’n groot waardering gegee vir elkeen se rol in die wingerd en kelder, wat deel van die proses uitmaak.

Het jy al oorsee gewerk?

Ek het in 2013 die geleentheid aangegryp om ’n oes in Frankryk mee te maak, waar ek gehelp het om chardonnay by Domain Pattes Loup in Courgis, Chablis te maak. Hierdie onvergeetlike ervaring het my gewys hoe fassinerend die wynmaak-proses kan wees. Dit het ’n heel nuwe vlak van nuuskierigheid by my laat ontbrand. Terwyl ek in Frankryk was, was ek ook bevoorreg om die wêreldbekende Domaine de la Romanée-Conti in Boergondië te besoek. Dit was heerlik. Hulle het my – ten spyte van die taal-hindernis – so welkom laat voel! Ek sal nog graag na die Mosel-wynstreek in Duitsland en die Rhône-wynstreek in Frankryk wil reis en ook die hele Italië wil ontdek. Mens kan nooit ophou leer en ontdek nie.

LEES OOK: Wynmaker Narina Cloete

Hoe sal jy jou benadering tot wyn beskryf?

Ek glo minder is meer. Ek probeer so min as moontlik met die wynmaakproses inmeng. Volgens my moet ’n wyn sy ware karakter en terroir weerspieël. En as ’n wynmaker sien ek my rol as ’n begeleier om die druiwe tot hul volle individuele potensiaal te lei. Wanneer jy wyn met passie maak, is dit sigbaar! Dit beteken dat jy alles oor elke wingerd wat die druiwe verskaf waarvan die wyne gemaak word, moet leer; en voortdurend moet eksperimenteer om jou vaardighede te slyp om te verseker dat wynliefhebbers net die beste in elke bottel kry.

Wat geniet jy die meeste aan wynmaak?

My liefde vir wynmaak oorheers my hele lewe. Wanneer jy ’n glas wyn drink, neem dit jou na ’n spesifieke plek of tyd in jou lewe en dit word deel van jou storie. Ek geniet die manier hoe wyn verskillende mense saamsnoer en vriende maak en hoe goed mens dit met kos kan pasmaat. Ek glo dis meer kuns as wetenskap.

Met watter kultivar werk jy die graagste?

Ek geniet dit om veral met chenin blanc, een van Suid-Afrika se vroegste en algemeen-aangeplante druifvariëteite, te werk, omdat dit so veelsydig is. Internasionale wynkritici, -skrywers en smaak-vormers het die afgelope paar jaar begin om chenin blanc as Suid-Afrika se troefkaart te erken. Ek glo ons land se sterkste eienskap is ons vermoë om hierdie wyn in ’n wye verskeidenheid style te maak.

Na watter wynmakers kyk jy op?

Ek bewonder die vroue in die wynbedryf wat my vooruitgegaan het om die weg te baan vir vrouewynmakers. Dit het dinge vir ons – die volgende generasie – baie makliker gemaak om ons plek in die Suid-Afrikaanse wynbedryf vol te staan en ons stempel af te druk.

Hoe ontspan jy?

Oor naweke sal jy my heel moontlik in die gim gewaar, of aan’t voetslaan in die berge, of waar ek op die strand ontspan of lekker kuiertyd met vriende, goeie pasta en wyn inruim. Ek is passievol oor die natuur en oor Suid-Afrika; só passievol dat ek ten doel het om te leer om Xhosa vlot te praat en my MBA in die volgende tien jaar te voltooi.

Wat is jou lewensleuse?

Daar is soveel potensiaal in ons land, maar ons moet almal saamwerk om hierdie hoogtes te bereik. Wees dapper. Wees veerkragtig. Wees honger vir sukses.

 

Send this to a friend