WYNMAKER: MICHELLE LOUW

Michelle Louw is die assistent-witwynmaker van Zonnebloem. Sy het verlede jaar ma geword en sê daar is dae wat sy stokflou is, maar sy geniet elke oomblik van wynmaak en ma-wees.

 

DEUR: Maryke Roberts
FOTO’S: verskaf
 wynmaker_michelle_louw

Sy is op Standerton in Mpumalanga gebore, maar woon al sedert haar sesde jaar in die Kaap.

Sy wou oorspronklik farmakologie gestudeer het, maar het heel toevallig een dag terwyl sy nog op skool was, met ‘n familievriend gesels wat wynmaak en wingerdbou aan haar voorgestel het. Sy het op skool wetenskap en biologie geweldig geniet en wou dit graag in haar daaglikse lewe kon gebruik. Sy het in 2005 die graad BSc Agric met wyn- en wingerdboukunde as hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is die eerste wynmaker in haar familie.

Haar man, Brady, werk ook in die wynbedryf. Hulle het ´n eenjarige dogtertjie, Tiané.

Wat is volgens jou die voordeel van vrouewynmaker wees?

Reuk, persepsie en smaak. Ek het veral tydens my tweede trimester toe ek swanger was, besef watter voordeel ek gehad het. Ek het nie noodwendig die vrugtige geure van die wyn meer prominent ervaar nie, maar vir die kleiner, meer netelige aspekte soos wanneer ons die spesifieke nuwe oesjare regkry en versny, kon ek foute baie makliker identifiseer.

Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?

Tans geniet ek die Zonnebloem Blanc de Blanc baie. Hierdie droë versnit van chenin blanc en sauvignon blanc is pragtig helder van kleur, en oorrompel ‘n mens met vrugtigheid op sowel die neus as die tong, met koejawel, spanspek en tropiese vrugte die mees opvallende. Dis die ideale wyn vir elke dag van die jaar en pas uitnemend saam met risotto, slaaie en self ‘n smaaklike varkboud. Dan het ons nog nie eens gepraat oor hoe goed dit by ? verskeidenheid van kase en vrugtige nageregte pas nie. Perfek vir winter en somer – of sommer net!

Hoe het jy by Zonnebloem beland en hoe lank is jy nou daar?

Ek was vir ses jaar die wynmaker op die Dormershire-wynlandgoed naby Kuilsrivier. Daar het ek onder leiding van die eienaar, Paul Frost, en die wynadviseur Kowie du Toit waardevolle ondervinding opgedoen. Daarna het ek vir een oes by Die Bergkelder saam met Pieter Badenhorst gewerk. Adam Tas, die kelderkompleks waar Zonnebloem-wyne gemaak word, is sinoniem met Stellenbosch se geskiedenis en wynmaak. Ek trots om te kan sê dat ek sedert 2013 deel van die Adam Tas-familie is.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?

Deesdae, na ‘n lang dag by die werk, is dit nie meer moontlik om by die huis te kom, skoene uit te skop en terug te sit met ‘n glasie wyn nie. Daar is baie ander goed wat eers gedoen moet word voor ek daardie punt bereik. Wanneer dít afgehandel is, en dit stil en rustig in die huis is (m.a.w. wanneer ons kleinding slaap!), kan ek en Brady ontspan en gesels – oor ‘n glasie Zonnebloem natuurlik! Ek moet sê daar is niks lekkerder as om aan ‘n wyn te teug en te dink “Sjoe! Ek het gehelp om hierdie wyn te maak” nie.

Hoe voel jy oor Zonnebloem se beeld onder die publiek?

Zonnebloem is ‘n gerekende kwaliteitshandelsmerk wat die publiek herken en vertrou. Ons het nie net jarelange ondersteuners nie, maar kry ook deurlopend nuwes by wat aangetrokke voel tot die handelsmerk namate dit ontwikkel en vernuwe. Dit maak my opgewonde oor die toekoms, aangesien daar vorentoe soveel potensiaal vir uitbreiding van die bestaande wynreeks is. Dit is ‘n handelsmerk wat, danksy sy wye verskeidenheid wyne wat by elke smaak en elke geleentheid pas, ewe veel aan die wynkenner en die nuwe toetreder tot die mark bied.

Wat was jou droomberoep as skoolkind?

My groot droom was om farmakologie te studeer en my passie op skool was wetenskap. Nou kan ek daagliks hierdie nisvaardigheid aanwend om saam met die res van die Zonnebloemspan wyne van gehalte te maak.

Wat is jou mening omtrent wynkompetisies en neem julle gereeld daaraan deel?

Wynkompetisies bied oor die algemeen ‘n goeie grondslag waarop ‘n mens kan voortbou om die gehalte van jou wyn te verbeter. Die beoordelaars van erkende kompetisies, ook in Suid-Afrika, is gerespekteerde individue en kenners in die bedryf met jare se ondervinding. Ons neem gereeld deel aan Suid-Afrikaanse kompetisies soos Veritas en die Ou Mutual-Trofeewynskou om enkeles te noem, asook aan verskeie internasionale kompetisies.

Wat is die beste raad wat jy as wynmaker ontvang het?

Iemand het eendag dié raad aan my gegee: “Probeer altyd die groter prentjie sien en moenie jouself blind staar aan die hede nie.” Ek probeer daardie benadering uitleef – nie net in my werk en in die wyne wat ek maak nie, maar probeer dit ook deurdra in my persoonlike lewe.

Waarop is jy besonder trots in jou loopbaan?

Ek was nog nie een dag spyt dat ek ‘n wynmaker geword het nie. Die hoogtepunt van my loopbaan tot dusver is dat ek vir Zonnebloem werk. Daar gaan nie ‘n enkele dag verby dat ek nie daarop trots is om te kan sê ek is lid van die span wat die wyne van een van die land se voorste handelsmerke maak nie.

Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die berging van wyn?

Die oorgrote meerderheid van verbruikers berg nie wyn onder ideale omstandighede nie. Indien wyn vir storingdoeleindes gekoop word, moet die wyn op die koelste plek in die huis neergelê word – verkieslik in ‘n donker plek waar die temperatuur redelik konstant is. Rooiwyne moet verkieslik teen minstens 20°C of laer gestoor word.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?

Min mense weet dalk hoe lank dit neem voor ‘n bottel wyn jou tafel bereik. Dit begin daar waar die druiwe van Januarie tot April gepluk en gepars word; dan al die prosesse waardeur die sap tot wyn gemaak word, die veroudering in vate, versnyding, bottellering, verdere veroudering in die bottel en so meer. Dis ? lang proses wat veel toewyding verg om te verseker die eindproduk is die beste wat dit moontlik kan wees.

Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?

Vir my is dit die verskeidenheid en uiteenlopendheid daarvan. Wanneer ons wynmaak, kyk ons ook hoe ons dit so omgewingsvriendelik moontlik kan doen en terselfdertyd so kostedoeltreffend as wat ons kan. Vir my is die opwindendste deel van my werk die versnyding van verskillende wyne om die uiteindelike wyn te skep wat in die bottel kom.

Het jy ‘n gunstelinghoekie op Adam Tas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?

As ek sonder steurnis wil nadink oor ‘n besluit wat ek moet neem of hoe ek ‘n bepaalde saak moet benader, dan klim ek tot bo uit teen die trappe van ons hoogste tenks. Van daar het jy ‘n asemrowende uitsig op die Stellenbosch- en Simonsberge. In daardie “arendsnes” kan jy jou gedagtes laat gaan en sonder enige steurnisse besluite neem.

Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?

Miskien dat jy nie aan die natuur kan voorskryf nie. Dit gaan sy gang en al wat jy kan doen, is om die beste te maak met wat die natuur jou in ‘n gegewe jaar bied, soos nou weer met die jongste oesjaar waar die droogte baie hoë eise aan ons aanpasbaarheid en vindingrykheid gestel het.

Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?

Kowie du Toit was jare gelede op die Dormershire-landgoed ‘n baie belangrike leermeester en ‘n rigtinggewer vir my wat my toe pas as wynmaker bekwaam het. Hier by Zonnebloem wend ek myself vandag allereers na ons keldermeester Elize Coetzee, en haar voorganger, Deon Boshoff. Albei is vir my belangrike bronne van inspirasie.

Is dit moeilik om ‘n vrouewynmaker te wees – behandel mense jou anders?

Toe ek pas in die bedryf begin werk het, het ek die indruk gekry dat nie almal jou ernstig opneem nie. Daar was veral die persepsie dat vrouewynmakers nie werklik fisiek opgewasse is vir die taak – veral gedurende parstyd – nie. Ek het egter besef dit hang van myself af of mense my ernstig opneem of nie. Soos my kollegas en ek mekaar van nader leer ken en ek myself met die tyd bewys het, het daardie vooroordele ook verdwyn. Vandag is die situasie heel anders, ook danksy die groeiende getal vrouewynmakers wat hulle in die bedryf bewys het, en daar is ook waardering vir die perspektief en finesse wat ons bring om wyne van gehalte te skep.

Waarvan droom jy vir die toekoms?

Soos enige jong wynmaker droom ek daarvan om eendag aan die hoof van ‘n kelder te kan staan, maar ek begeer veral dat Zonnebloem as handelsmerk van krag tot krag sal gaan.

Send this to a friend