Kies 'n boek: Swartval | Vrouekeur

Kies ‘n boek: Swartval

Willie Burger kyk na Martin Steyn se misdaadroman Swartval

Willie Burger

Die afgelope tyd het daar regtig baie misdaadfiksie verskyn. So baie dat ek nie altyd lus het om nóg ‘n tipiese misdaadroman te lees nie. Ek het dus Martin Steyn se Swartval effens teësinnig oopgemaak. Ek het besluit ek sal dit sommer so vluglees, net hier en daar kyk en gou besluit of dit die moeite werd is om die roman te lees.

Dit was ‘n fout. Ek het gou die eerste paar bladsye gelees. Toe ‘n klomp oorgeslaan en weer bietjie gelees, en toe teruggegaan en alles tussenin gelees. En aanhou lees tot ek móés werk toe gaan. En die hele dag was my gedagtes kortkort by Claire in die donker kelder waarin sy met haar hande agter haar rug vasgebind op die koue sement lê. So gou as wat ek kon, het ek die boek weer opgetel en verder gelees. Elke bladsy.

Steyn skep ‘n donker nagmerriewêreld wat ‘n mens bly boei. Ek hou nie eens van sielkundige rillers nie, maar ek het dié roman verslind omdat die verhaal met soveel vaart bly voortsnel en omdat die karakters al veelkantiger raak en die leser bly boei. Steyn se debuutroman, Donker spoor, is met ‘n ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur bekroon. Swartval is nog beter. Die ongelooflike leed wat een mens aan ‘n ander kan doen, word sonder om een oomblik weg te skram, in fyn besonderhede beskryf. Maar wat sy werk merkwaardig maak, is dat die bose skurke mense word, mense wie se handelinge en wreedheid en weerloosheid jou nuuskierig hou.

Genrefiksie (romans wat binne ‘n kategorie soos “misdaadfiksie” of “liefdesverhale” geplaas word) volg altyd ‘n soort “formule”. Hierdie formule – ‘n herhalende storielyn, herkenbare karakters – kom algemeen onder ‘n groot groep romans voor en juis daarom hou mense daarvan. Jy weet by voorbaat dit is die “soort storie” waarvan jy hou. Alle formulefiksie is egter nie ewe boeiend nie. Soms voel dit vir ‘n mens of die verhaal eintlik maar dieselfde is as baie ander wat jy al gelees het – die karakters het net ander name en dalk speel die gebeure op verskillende plekke af, maar basies is dit oor en oor dieselfde. (Soos die talle TV-reekse ook maar telkens dieselfde formule volg.)

Wat goeie genrefiksie van al die ander onderskei, is wanneer die bekende formule of die bekende soort karakters net so effens van die bekende afwyk. Dan is die roman nie maar net nóg ‘n liefdesverhaal waarin hulle mekaar op die einde ontmoet en lank en gelukkig saam woon of nóg ‘n misdaadriller waarin die speurder uiteindelik net betyds die moordenaar vang voordat hy nog ‘n moord pleeg nie. Goeie genrefiksie slaag daarin om die leser te verras. Al ken jy die formule, en al val die roman steeds in die bekende genre waarvan jy hou, is daar iets wat jou laat regop sit as alles nie meer so voorspelbaar is nie. Swartval is só ‘n roman wat meer as die bekende bied.

Claire werk as ‘n ontkleedanser (Hoeveel paaldansers was al die hoofkarakter in ‘n Afrikaanse roman?). Haar broer is ‘n speurder. Sy droom daarvan om na Peru te reis, om saam met die pienk dolfyne in die Amasone te gaan swem en probeer net om so vinnig moontlik geld te maak om haar ideaal te bereik. ‘n Mens kry ‘n blik in die wêreld van ontkleedansers, maar uiteindelik hou die misdaad, haar ontvoering en trauma nie direk daarmee verband nie. Die monsteragtige optrede van haar ontvoerder en sy ma bied ‘n donker en siek, dog meesleurende wêreld. En die verhaal hou ook nie by die gewone ontknoping van die tipiese misdaadriller op nie – die traumatiese gevolge word deurgevolg. Agterop die boek is ‘n waarskuwing dat die roman “nie vir sensitiewe lesers” is nie. Dit is waar. Maar dit is ‘n meesleurende verhaal wat ‘n baie interessante blik op die brose, menslike psige gee.

Send this to a friend