Kies ‘n boek: Vlakwater

Willie Burger kyk na Ingrid Winterbach se boek Vlakwater

Willie Burger

Ingrid Winterbach het die vermoë om lesers met enkele sinne van ’n nuwe roman reeds in ’n ander wêreld in mee te sleur. Of eintlik in ander wêrelde in, want in Vlakwater, soos in Die aanspraak van lewende wesens en in Die benederyk, is daar meer as een verhaallyn. Met elk van hierdie verhaallyne word die leser in ’n verstommende wêreld ingelok.

In Vlakwater is die een hoofkarakter ’n kunstenaar (soos dikwels in haar romans). Niek Steyn se verhouding het verbrokkel en hy sukkel om in dié tyd van verlies weer op dreef te kom (wat natuurlik baie dieselfde klink as Aaron in Die benederyk). Hy trek in ’n nuwe woning in Kaapstad in en neem ook ’n huurder in. Dan sien hy op ’n dag onverwags ’n vark in sy tuin! Hy en die vark se eienaar, Marthinus Cloete, word vriende en deur hom kom hy ook by ’n plaas teen die berg uit (waarskynlik dieselfde plaas as die onheilspellende plek in Die aanspraak van lewende wesens waarna Karel moet reis om sy broer te gaan help). Wanneer Niek se huurder, ’n jong fotografiestudent, skielik verdwyn, bring Marthinus hom met ’n vreemde groep mense in aanraking (soos Blackie die albino wat van alle misdaad in die stad kennis dra) wat onwettig langs die plaas op die berg woon. Niek probeer by hulle uitvind wat van sy huurder geword het.

Niek gee ook by ’n private kunsskool klas, maar is gefrustreerd met die onbelangstellende rykmanskinders daar. Boonop raak een van sy studente by satanistiese rituele betrokke en haar ma lê by Niek aan. Geheimsinnige kopers wil sy huis koop en hy is agterdogtig dat hulle dit vir onheilige doeleindes wil bekom. In die ander verhaallyn is ’n vrou met ’n haaslip van Stellenbosch besig om ’n boek oor die Olivier-broers te skryf, twee film-kunstenaars wat internasionale roem verwerf het en wat in die buiteland woon. Sy probeer om ’n onderhoud met hul pa te voer – ’n afgetrede professor, wat haar jare tevore, toe sy nog ’n jong student was, geteister het.

Die twee verhaallyne kruis nie direk nie en die twee hoofkarakters uit die verhaallyne ontmoet mekaar nooit. Maar al twee se lewens word deur die skrywer Viktor Schoeman geraak. Hy het in die 1990’s ’n roman met die titel Vlakwater geskryf. Die roman het egter nie ’n goeie ontvangs gehad nie en hy is landuit. Wanneer Niek ’n vreemde poskaart ontvang en allerlei ontstemmende dinge gebeur – wat die ontsnapping van geestesversteurdes en ’n motorongeluk insluit – wys Marthinus daarop dat hierdie gebeurtenisse met die gebeure in Vlakwater ooreenstem en hy vermoed dat Viktor Schoeman iets met al die ontstellende gebeurtenisse te doen het.

Niek het destyds vir Viktor gehelp om Vlakwater te publiseer, maar hy wil niks met Viktor te doen hê nie. Viktor duik aan die Weskus in ’n hotel op waar hy die vrou wat die boek oor die films van die Olivier-broers skryf, ontmoet. Sy is onthuts deur die “holwangkêrel” met die “maniese blik” in sy oë wat haar nooi om saam met hom op reis te gaan. ’n Boks sywurms word in haar sorg gelaat en dan weer gesteel. Hierdie raaiselagtige wêrelde waarin vreemde dinge gebeur, sleep die leser in en terwyl dit soms vreeslik snaaks is, is die verhale terselfdertyd ook op ’n vervreemdende manier onthutsend.

Wat Winterbach egter weer met al die vreemde en onverwagte gebeurtenisse, die geskakeerde, humoristiese taalgebruik en die klem op verrassende detail regkry, is om die leser in te trek in die wêrelde soos deur die karakters beleef. Dit word duidelik dat die karakters op verskillende maniere diep deur trauma of deur angs en agterdog getref is en daarom is die wêreld soos hulle dit beleef, ’n vreemde, dreigende en dikwels somber plek. Juis daarom is die verrassende woordkeuses en gebeurtenisse so snaaks. Die leser besef dat die maniere waarop hulle hul wêrelde beleef, hoe hulle alles verstaan, nie ’n volledige beeld van die wêreld kan wees nie. Maar daar is ook geen ander beeld van die wêreld wat as korrektief kan dien nie. Hierdie vreemde, paranoïese wêrelde is die enigste wat bestaan.

Daar is geen verklarings en oplossings vir die raaisels nie. Baie van die dinge waarmee die karakters hulle besig hou, lyk futiel en onsinnig, maar hulle is onverbiddelik ernstig daaroor. Op hierdie manier ondersoek Winterbach die manier waarop elkeen van ons die wêreld vir onsself tot stand bring – elkeen met sy of haar eie beperkings, psigologiese probleme, persoonlike geskiedenis en toevallige gebeurtenisse waaraan ons uitgelewer is. Ons beste pogings om ons eie bestaan te verstaan, is gebrekkig en onvolledig. Nóg kuns, nóg wetenskap bring begrip of oplossings vir alles, of troos. En van buite gesien, is al die pogings en veral die erns waarmee ons die wêreld benader, eintlik snaaks. Die humor bring ’n deernisvolle blik op ons onvoldoende pogings om in die wêreld in te pas.

Send this to a friend