Maak ‘n besonderse swartbord met mosaïekversiering vir die kombuis waarop alles en nog wat neergeskryf kan word
Marlo Kitshoff-Carstens
Mosaïekswartbord
BENODIGDHEDE
houtbord van 52 cm x 41 cm
stukkie hout van 10 cm (vir bordkryt)
skuurpapier
swartbordverf
klein kwas
terpentyn
potlood
3 gepunte keramiekboompies
3 ronde keramiekboompies
5 keramiekhuisies in verskillende groottes
1 keramiekmannetjie
1 keramiekvroutjie
1 keramiekhondjie
1 keramiekkatjie
1 keramiekkarretjie
7 keramiekblomme in verskillende groottes
9 keramiekblaartjies, in verskillende groottes
2 lang groen keramiekblomstammetjies
2 keramiekvoëltjiehokkies
1 keramiekliewenheersbesie
2 keramiekduifies
2 pakkies klein vierkantige lemmetjiegroen teëltjies
1 pakkie klein vierkantige donkergroen teëltjies
1 groot groen “perlemoen”-teël
1 groot blou “perlemoen”-teël
1 groot donkerblou “perlemoen”-teël
1 wit keramiekteël met groen patroontjies
paar swart teëltjies
houtgom, soos Ponal
teëlsnyer
teëlknipper
ou handdoek
liggrys voegbry (grout)
weggooibare bakkie
plastieklepel
ou bankkaart
koerantpapier of wit kombuispapier
ou spons
sagte lappie
Begin só
1 Skuur kante van groot reghoek en klein stukkie hout glad.
2 Plak 10 cm-stukkie hout aan onderkant van houtbord met houtgom vas en laat oornag droog word.
Voorbereiding
1 Merk 10 cm van bo met potlood op houtbord en 7 cm langs sykante van bord en ook 7 cm aan onderkant.
2 Gebruik foto as aanwysing en teken met potlood vryhandvorm waar die swartbordverf gaan kom.
3 Verf binneste gedeelte van houtbord met twee lae swartbordverf en ook kant van bord en houtstukkie vir bordkryt sodat dit netjies afgerond lyk.
4 Laat oornag droog word.
5 Maak kwas met terpentyn skoon.
Beplanning en plak
1 Smeer dun strook houtgom al om houtrand en plak een rytjie van lemmetjiegroen vierkantige teëlts rondom.
2 Smeer ook dun strook houtgom al om swartbordverfgedeelte en plak donkergroen vierkantige teëltjies vas. Laat oornag droog word.
3 Gebruik foto as aanwysing en pak grootste en mees prominentste voorwerpe soos boompies, huisies, blomme, ensovoorts.
4 Trek buitelyne van voorwerpe met potlood op hout na sodat dit maklik is om weer regte plek vir regte voorwerp te kry.
5 Plak grootste voorwerpe met houtgom op hout vas en laat oornag droog word.
6 Gebruik weer foto as aanwysing en vul agtergrond van mosaïek met klein stukkies teëls in.
7 Gebruik teëlknipper om teëls in kleiner stukkies te breek.
Vul die gleufies
1 Maak 500 ml (2 k) liggrys voegbry in weggooibare bakkie aan met bietjie water.
2 Voegbry moet dikte van tandepasta wees. Voeg nog water by as voegbry te dik is.
3 Meng voegbry tot glad en sonder klonte.
4 Gebruik ou bankkaart en vee aangemaakte voegbry in gleufies. Doen dit so netjies as moontlik, dan is skoonmaakproses soveel makliker.
5 Laat voegbry vir ongeveer 15 minute staan om hard te word.
6 Gooi weggooibare bakkie en plastieklepel weg.
7 Moet nooit voegbry in wasbak probeer skoonmaak nie, dit verstop pype.
Die laaste stap
1 Vee oortollige voegbry met koerantpapier af.
2 Maak ou spons klam en vee oor mosaïekbord sonder om voegbry uit te vee.
3 Laat mosaïekbord vir 2 tot 3 uur staan sodat voegbry kan verhard.
4 Vee met sagte lappie enige oortollige vaalheid van voegbry, weg tot glad en blink.
Benodigdhede beskikbaar by The Clay Club. Bel 012 804 0815 of besoek www.theclayclub.co.za. Hierdie mosaïekswartbord is as ‘n “kit” beskikbaar.
SOURCES
Andrea Caldwell