Daai jaar na matriek

jaar na matriek

Dis heeltemal oukei as jou kind nié die jaar ná skool gaan studeer nie, meen kenners. Wat wel belangrik is, is dat so ’n jaar konstruktief aangewend word om jou kind te laat groei

Deur MARETHA BOTES

Dit is dikwels een van die opwindendste, maar skrikwekkendste tye van ’n mens se lewe – dié tyd vandat die matriekeindeksamens begin tot jy die eerste treë in die grootmenswêreld moet gee. Dikwels word verkeerde loopbaanbesluite onder druk of uit pure onkunde geneem.

Slegs een derde van Suid-Afrikaanse studente wat vir ’n driejarige kwalifikasie by ’n tersiêre instelling ingeskryf is, voltooi hul graad. Dit is volgens navorsing deur prof Amanda Lourens van die Noordwes- Universiteit. Die navorsingstudie het hoofsaaklik gefokus op die bepaling van studente- uitvalsyfers by dié wat vir driejaargrade registreer. Die navorsingstudie het bevind ongeveer 24% van studente wat vir ’n driejaarkwalifikasie inskryf, val gedurende die eerste studiejaar uit. Ongeveer 43% van studente val ná die derde jaar uit (en voltooi nie die graad nie) en slegs 21% voltooi ’n driejaarkwalifikasie in die minimum tyd.

Volgens Amanda is hierdie uitvalsyfers heelwat hoër as dié van internasionale universiteite. Van die belangrikste redes vir hierdie hoë uitvalsyfer is dat studente die aanpassing na die universiteit met die skielike onafhanklikheid te groot en veeleisend vind; studente maak verkeerde beroepskeuses en kies halsoorkop studierigtings sonder om regtig te weet wat die studierigting of werk behels; en studente kom nie finansieel die mas op nie.

Toe Linda de Rooster, opvoedkundige sielkundige van Pretoria, besef haar oudste seun is onseker oor wat hy ná skool wil doen, het hulle op ’n sogenaamde gap-jaar ooreengekom. “Ons glo nie daarin om jongmense universiteit toe te stuur om sommer enige kursus te doen net sodat hulle darem ‘iets doen’ nie. Dit is geldmors,” sê Linda. Dié seun, Jurie, het ’n jaar in ’n restaurant gewerk en ná die jaar het hy self besluit om ingenieurswese te studeer. “Hy het baie daaroor gelees, met mense gesels en self besef dis waarin hy belangstel,” sê Linda. Haar jongste seun, Kris, het egter in sy matriekjaar reeds besluit hy wil ’n BCom-rigting inslaan en is glad nie spyt daaroor nie. “Hy was 100% seker wat hy wou doen. Dit hang dus van die individu af,” sê Linda.

“Ouers moet egter baie seker maak hulle stuur nie hul kind teen wil en dank universiteit toe om iets te gaan studeer waarin hy of sy glad nie belangstel nie. Dit werk dikwels nie uit nie. As ’n kind se belangstellings gedurende sy of haar matriekjaar nog nie vorm aangeneem het nie, is dit beter om ’n slypjaar te neem.” Linda sê so ’n slypjaar moet ’n kind verantwoordelikheid en onafhanklikheid leer.

“Verantwoordelikheid, want hulle moet elke oggend opstaan en werk toe gaan (byvoorbeeld) en leer om met geld uit te kom; en onafhanklikheid, want hulle moet leer dat hulle nie altyd op Ma en Pa kan terugval nie.” “’n Loopbaankeuse is net so ’n groot en belangrike keuse soos dié van ’n huweliksmaat,” sê dr Hanri de la Harpe, hoof van die Equilibria School of Life op Potchefstroom. “’n Rypwordingsjaar is van onskatbare waarde om jongmense te help om hulself te leer ken, agter te kom wat hul unieke passies, talente en aanleg en wat hul ‘plek in die lewe is’.

Wanneer die hoë uitvalsyfers op universiteite in ag geneem word, voorkom ’n slypjaar dat ouers geld verkwis aan universiteitskoste(wat gemiddeld R45 000 per jaar beloop) wanneer studente weens aanpassingsprobleme of verkeerde loopbaankeuses uitval. Dis nou moeiliker as ooit tevore om ’n ingeligte en korrekte beroepskeuse te maak.” In die ou dae was daar ’n paar hoofstroomberoepe waaruit jongmense kon kies.

Die beroepswêreld bestaan egter vandag uit talle nuwe spesialiteitsrigtings wat uit die moderne tegnologie ontstaan het. Dit word al hoe moeiliker vir beroepsvoorligters om met die vinnig veranderende bedryf tred te hou. “Om dinge te vererger, is skoolverlaters dikwels genoodsaak om te midde van ’n druk program en eksamens een van die belangrikste besluite van hul lewe te neem, naamlik watter loopbaan om te volg,” sê dr Hanri. Sy het besluit om ’n postmatriekjaarprogram te ontwikkel wat daarop gerig is om jongmense selfstandig te maak en te help om hul “plek in die wêreld” te vind. “Heelwat tyd in die studieprogram word aan beroepsleiding, persoonlike beroepsnavorsing, intensiewe selfkennistoetse en profileringstoetse (wat persoonlikheidstipe en aanleg bepaal) bestee.

’n Beroepseminaar, wat ’n oorsig oor verskillende beroepe gee, bied ook aan studente die geleentheid om meer oor ’n verskeidenheid beroepe te leer. Die slypjaar bied verder die tyd en omgewing vir persoonlike groei en ontwikkeling wat jongmense help om ’n ingeligte beroepskeuse te maak wat op ’n persoonlike toekomsvisie gegrond is,” sê dr Hanri.

Volgens Lizette Odendaal, organiseerder van die ATKV se postmatriekjaarprogram, is só ’n jaar die ideale geleentheid vir jongmense om hulself beter te leer ken en dan die regte loopbaankeuse te maak. “So baie skoolverlaters is nie seker wat om ná matriek te doen nie. Daarom is dit ’n goeie idee om ná skool ’n blaaskans te neem en binne ’n veilige omgewing te besin oor die opwindende, maar uitdagende toekoms wat op jou wag. Die ATKV bied deur Postmatriek die geleentheid om nie net keuses oor jou loopbaan en toekoms te neem nie, maar ook om deur ervaringsleer verskillende vaardighede te ontwikkel en terselfdertyd lewenslange vriendskappe te smee,” sê sy.

Volgens Lizette word daar ná die voltooiing van elke kursus en module baie tyd afgestaan om oor die doel van die aktiwiteit te besin om sodoende die beste leerervaring te bewerkstellig. “Van die hoofdoelwitte van die jaar is om tydens ’n program gevul met visie, doelwitte, avontuur en uitdaging nie net leierskappotensiaal te ontdek nie, maar ook die insig en vermoë te ontwikkel om verantwoordelike en ingeligte besluite oor jou toekoms en loopbaanrigting te neem,” sê sy.

Ons het DIT gedoen

Rikus Lotriet (20)

Ek was nie heeltemal seker oor wat ek ná skool wou swot nie. Ek het gedink aan farmasie, maar het besluit om eers ’n jaar ander dinge te doen, soos om ’n persoonlike afrigterskursus te doen, by ’n restaurant te werk en later het ek werk by ’n bekende gim as fiksheidsinstrukteur gekry. Ek het in dié jaar baie meer volwasse geword en verantwoordelikheid en dissipline aangeleer.

As jy werk, kan jy nie sommer elke aand tot laat partytjie hou en kuier nie. Dis jou verantwoordelikheid om vars by die werk op te daag. Baie groentjies op universiteit is nie gewoond aan die vryheid nie en bunk sommer klasse. Ek het ook die waarde van geld geleer, want ek moes vir my geld werk. Ek het in die jaar ook met baie mense gesels wat in die farmasiebedryf is en besef dis nie vir my nie. Nou swot ek BA Regte en wil dit met LLB opvolg.

Lara Blignaut (21)

Ek het in 2010 gematrikuleer en nie geweet wat presies ek wil studeer nie. Ek was ook baie besig in my skooljare – het aan baie aktiwiteite deelgeneem soos sport en kultuur, asook leierskapverpligtinge wat ek by die skool gehad het (ek was hoofmeisie) en het eintlik nie baie kans gehad om te dink oor wat ek wil swot nie. Ek het ’n gap-jaar gesien as iets wat my gaan help om te besluit wat ek moet studeer en het by Equilibria School of Life op Potchefstroom ingeskryf.

Ek het beslis geleer om selfstandig te wees; hoe om my tyd te bestuur sodat ek by alles uitkom en elke ding die nodige aandag kry en hoe om my geld te bestuur. Ek het ook emosioneel gegroei en geleer hoe om moeilike situasies reg te hanteer. Ek het ook besef my passie lê by die onderwys en studeer nou onderwys met wiskunde en wetenskap as hoofvakke.

Tanita Roets (21)

Ek sien baie studente wat nie hou van wat hulle swot nie en dan opskop. Omdat ek ’n jaar langer tyd gehad het om my opsies te oorweeg, swot ek 100% in die rigting waarin ek belangstel (BSc verbruikerswetenskappe). Ek is nou meer doelgerig en gemotiveerd. Ná matriek sou ek heelwaarskynlik onder druk een of ander sakerigting gaan swot het net om te kan sê ek het ’n graad.

Interessant genoeg is daar sakevakke saam met die kreatiewe deel by my huidige kursus ingesluit. Wat Postmatriek (deur die ATKV) uniek maak, is die ongelooflike pas waarteen jy groei en jouself leer ken. Die jaar bied geleenthede waar jy al die fasette van jou menswees uitdaag en ontdek as jy dit toelaat. In een jaar het ek meer van myself geleer as in 19 jaar. Behalwe vir die praktiese vaardighede soos selfverdediging, noodhulp en lewensredding dink ek werklik dat jy as mens volwasse word. Mense beskryf dit as “straatskerp”, maar ek dink dis integriteit en insig wat ’n tweede natuur geword het.

Send this to a friend