Ma van die jaar: Dáái gesprek

Wie moet vir ons oudste vertel waar babas regtig vandaan kom? Ek en Pappa maak soos wat ons altyd maak as ons oor groot kwessies moet besluit.  Dis baie volwasse, ek weet: Ons tjing-tjong-tja

So besef ek ek moet DIE gesprek met my oudste hê. Die een oor die bytjies en blomme wat net mooi niks met bleddie bye of blomme te doen het nie.  Ek begin al wat boek is oor die onderwerp te lees, want ek kort bronmateriaal.  Ek ontdek met hierdie navorsing baie, baie eienaardige boeke, maar ek druk deur. Ek glo ek moet alles met die hulp van navorsing aanpak, so maak nie saak watter uitdaging ek in die lewe kry nie, ek lees eers als moontlik daaroor. Alleen kan ek nie myself in hierdie ding begewe nie. Ek google oor wat kinders op watter ouderdom moet weet en ek verneem van Professor Google dat ek hierdie  sensitiewe sakie al lankal moes aangeroer het.

Die kinders het natuurlik al gevra waar hulle vandaan kom en ek het gesê ‘n ma se saadjie en ‘n pa se saadjie kom bymekaar en dit begin in die ma se maag groei. Hulle was heel  gelukkig met die verduideliking en het darem nie gevra deur watse proses die saadjie in die ma se maag beland nie …

Daar is ‘n beslissende manier hoe ek en my man oor groot kwessies besluit.  Dis baie volwasse en gaan met baie energie en ouerskaplike wysheid gepaard. Ons tjing-tjong-tja.  G’n mens weet hoe word dit gespel nie, maar julle ken dit seker. Handgebare –  papier wen rots, rots wen skêr, skêr wen papier  … Ons sal byvoorbeeld tjing-tjong-tja oor wie watter ding by die skool moet bywoon, wie kos moet gaan koop, wie apteek toe moet gaan, en en en.  Met hierdie kwessie op hande, voel ek dat hy saam moet sit en sy bydrae lewer, maar hy weier volstrek en kry skoon ‘n bleekheid en bewerasie aan hom.  Hy praat oor die spesiale “ma-en-dogter-verhouding” en dat ons eerder alleen met sulke gesprekke moet wees. Ek herinner hom dat ons ‘n seun het en dat hy ook dan maar eendag alleen daardie gesprek gaan moet hê. Nee, sê hy, onthou daardie spesiale ma-en-seun-verhouding … Hy wen  uiteindelik met tjing-tjong-tja en ek besef ek is alleen in hierdie ding.

Op ‘n dag voel ek die tyd is nou ryp.  Pa is nie by die huis nie, Boetie speel speletjies in die sitkamer en sy is in haar kamer. Die tyd is hier.

Ek besluit dit gaan vir ons albei beter wees as ek ‘n glas wyn agter die blad het.  Ek gaan gooi ‘n groot glas en begin wonder of ek regtig nou al die gesprek moet hê. Ek meen sy gaan seker eers ‘n boyfriend hê as sy 30 is en trou as sy so 38 is, of so iets?

Ek vat ‘n sluk en besluit my ma het nie bang kinders grootgemaak nie. Dis sulke tyd.

My hande voel klam, dit voel of ek ‘n hot flush kry en ek wonder of ek my bronmateriaal moet gaan haal. Ek  gaan na  haar kamer toe – met ‘n gedetermineerde uitdrukking op die gesig. 

“Ons moet bietjie gesels,” sê ek.

“Mamma, ek het net tien minute Roblox gespeel, ek belowe,” en sy bêre vinnig die foon.

“Nee, nee, ek wil oor ‘n ander sakie praat.”

Errrmm. Ek vat nog ‘n sluk wyn en sit die waaier in haar kamer vol op my aan. 

Ek wonder of ek my glas maar moet gaan optop en dan later … My foon lui, ek spring op en die sakie is weer daar gelaat tot een Vrydagmiddag …

Ek maak kos en sy sit my by my en vertel my wat by die skool aangaan. Ons gesels oor klaswerk en sy gesels oor al haar huiswerk en sê die een vak waarin sy nie nou huiswerk moet kry nie, is wetenskap, want Meneer sê klein boeties en sussies moet eerder nie sien wat hulle nou behandel nie.

“Sê, hoe?” Ek hou dadelik op met roer.

Sy giggel, rooi in die gesig.

“Mamma, jy moet bietjie kyk wat in ons wetenskapboek aangaan …”

Die departement van onderwys het my dalk net ‘n guns gedoen, besef ek.

“Bring jou boeke dat Mamma sien.”

Ek lees vinnig ‘n paar sinne oor inwendige bevrugting en ek sêvra: “Sussie, jy het seker al die begrip ‘seks’ op TV gehoor …”

“Ermmmm, ja,” en sy lyk baie geïnteresseerd in wat op die meel se verpakking staan.

Ek wonder wie van ons twee is die rooiste. Die ma wat nogal koeklik grootgeword het en eers later die konserwatiewe bande afgegooi het  of die arme kind wat nou haar koeklike ma sien bloos.

“So begryp jy wat dit is en wat dit behels?  Verstaan jy die meganika daarvan … soos wat presies gebeur?”  

Sy keer met haar hande voor haar en bid sekerlik dat die gesprek end moet kry. “Ja, mammie,” en giggel weer. Sy staar nou intensief na haar naels asof sy hulle vir die eerste keer sien.

“Hmm, oukei, so jy verstaan ook dat dit iets is wat grootmense doen, nè? As hulle baie, baie, baie oud is en mekaar baie, baie, baie lank ken en baie lief vir mekaar is …”  Ek gaan met nog ‘n paar sinne aan terwyl sy orals kyk behalwe ná my.

Toe sy uiteindelik wegvlug, besef ek ek het nog ‘n ouerskapshekkie oorleef. Al het die wetenskapkurrikulum vir my die grondslag gelê. Ek besef ook,  met ‘n pyn in my hart, dat my meisiekind grootword en dat daar nog baie hekkies vir ons voorlê.

NS: Liewe Sussie, as jy hierdie blog (en my ander!) eendag lees, vergeef tog jou ma dat sy ons sake so uitblaker en moenie my in ‘n horribale ouetehuis stop nie.  Onthou, my blog is juis daar vir ander ma’s sodat hulle besef ons almal maak foute en is net gewone mense. Ons probeer ons bes en dit doen ek ook met julle. Liefde Mamma (so gepraat van ouetehuise, ek en Pappie hou van die see …)

Send this to a friend