My kind & disleksie | Vrouekeur

My kind & disleksie

my kind en disleksie

Hoe help ’n mens ’n kind met hierdie probleem? Ansja Ferreira het meer gaan uitvind

“Op 28 Junie 2002 is ons gesonde, pragtige babaseuntjie, Ben*, gebore. Hy het al die mylpale op presies die regte tye behaal. Hy was ’n gelukkige en liefdevolle kind wat graag oor sy denkbeeldige plaas en diere gepraat het,” vertel sy ma, Ilze*.

Toe Ben egter skool toe is, is sy ouers ingeroep en ingelig dat hy ernstige leerprobleme het. Hy is deur ’n neuroloog met aandaggebrek-hiperaktiwiteit-sindroom (AGHS) gediagnoseer en het jare lank verskeie soorte medikasie met allerhande newe-effekte gebruik.

“Hy is deur verskeie traumatiese voorvalle – hy is deur onderwysers verskree, soos ’n proefkonyn behandel en tussen skole geskuif. Hy het twee keer ’n week remediërende onderrig ontvang, ons het sy oë en ore laat toets en ons het hom vir arbeidsterapie en ander alternatiewe behandelings gestuur. Ek het nagte op die internet deurgebring.” Ben se spelling was swak, hy het letters soos “d” en “b” omgeruil, hy het gesukkel om te lees en sy handskrif was onduidelik, maar niemand het ooit die woord “disleksie” genoem nie. Hy is uiteindelik deur ’n opvoedkundige sielkundige met disleksie gediagnoseer.

“Ben het toe nie AGHS, epilepsie, ’n vorm van Aspergersindroom, of enige ander sindroom (soos wat ook vermoed is) nie. Hy is disleksies en sy IK is bogemiddeld. Ons kan nou vir die eerste keer in ons lewe trots sê ons kind is disleksies en hy verduidelik dit ook aan almal wat wil luister dat hy nie so dom is as wat hy gemaak is om te glo nie. Ben is inderwaarheid ’n baie slim seun!”

Wat is dit presies?

Disleksie kom by ongeveer 10%–20% van die wêreldbevolking voor. Die internasionale disleksie-vereniging definieer disleksie as ’n neurologies-gegronde, dikwels oorerflike versteuring, wat met die verkryging en verwerking van taal inmeng, sê Sandra Stark, voorsitter van die Rooi Appel-disleksiespesialiste.

“Afhangend van die ernstigheidsgraad manifesteer hierdie gebrek dikwels in die onvermoë om ontvanklike en ekspressiewe taal deur middel van lees, skryf, spelling en dikwels wiskundige berekeninge te verwerk.” Die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Gesondheid definieer disleksie as ’n leesversteuring met ’n neurologiese oorsprong. Disleksie word gekenmerk deur ’n gebrek aan akkurate en/of vloeiende woordherkenning en swak spel- en dekoderingsvaardighede.

Dieselfde instituut het ná jare se navorsing die volgende bevind:

  • Disleksie affekteer minstens een uit elke vyf kinders (20%).
  • Disleksie kom onder seuns en dogters voor.
  • Kinders ontgroei nie die onvermoë om te lees, of disleksie, nie tensy hulle terapie ontvang.

Sandra verduidelik die sleutelkenmerke van iemand met disleksie. So ’n persoon …

  • … beskik dikwels oor ’n gemiddelde tot bogemiddelde IK, hoewel sy of haar toetspunte dit nie weerspieël nie.
  • … voel “dom”, het ’n lae selfbeeld en het min selfvertroue.
  • … raak dikwels gefrustreerd en emosioneel oor skool, lees, toetse en gebruik gereeld vermydingstaktiek om hierdie elemente te ontwyk.
  • … “dwaal af” of dagdroom gereeld, verloor tred met tyd en mag aandagafleibaar voorkom.
  • … lees of skryf met toevoegings, weglatings, vervangings, herhaling, omkerings en transponering van letters, syfers en woorde.
  • … verwar dikwels links en regs, bo en onder.
  • … vind dit moeilik om tyd te lees, betyds te wees en om opeenvolgende instruksies of take uit te voer.
  • … spreek lang woorde verkeerd uit, transponeer frases, woorde en lettergrepe terwyl hy of sy praat.
  • … het dikwels ’n gebrekkige werksvermoë – so iemand vind dit moeilik om dinge in sy of haar kop “uit te werk”.

Dit moet ouers en onnies weet

Volgens Sandra behoort elke ouer en onderwyser te weet dat so ’n kind se lyding ’n realiteit is en dat niemand kies om ongeorganiseerd of onoplettend te wees nie. Hierdie tipiese kenmerke is buite die kind se beheer en dit is wreed van die samelewing om na so iemand as “dom”, “lui” en “dig” te verwys, sê sy. “Die meerderheid mense met disleksie is baie kreatief. Dis juis hierdie kreatiwiteit wat vir ons ’n werklike weergawe van hul kognitiewe vermoë gee,” sê Sandra.

“Disleksie is reeds van geboorte af teenwoordig en kan nie ontgroei word nie.Dink daaraan as slegs ’n ander vorm van neurologiese bedrading in die brein. “Lees is nie ’n ingebore en natuurlike vaardigheid nie en daarom kan daar nie verwag word dat alle mense hierdie vaardigheid met gemak kan aanleer nie,” sê sy. “Hoewel daar slegs vanaf graad 3 ’n amptelike diagnose van disleksie gemaak kan word, is daar reeds vanaf ’n vroeë ouderdom sekere tekens sigbaar, soos laat spraakontwikkeling, onvermoë om rympies te onthou en begryp asook ’n familiegeskiedenis van lees- en leerprobleme,” verduidelik sy.

Sandra verduidelik watter probleme kan by kinders met disleksie voorkom:

  • Omkerings van letters en lettergrepe
  • Uitlating van letters in ’n woord
  • Stadige en huiwerige leesvermoë
  • Verloor plek in ’n sin tydens lees en skryf
  • Laat woorde en woordgedeeltes uit
  • Onvermoë om woorde korrek uit te spreek
  • Lettervolgorde van ’n woord is foutief
  • Spel woorde soos dit klink
  • Lees met swak begrip
  • Swak en/of stadige handskrif, wat dikwels onleesbaar is
  • Familiegeskiedenis van leesprobleme
  • Swak koördinasie en probleme met links-regs-dominansie
  • Onvermoë om verskille en ooreenkomste tussen woorde te identifiseer
  • Swak korttermyngeheue

Hoe kan kinders met disleksie gehelp word?

Die heel belangrikste is ’n diagnose, sê Sandra. “Daar bestaan sewe verskillende soorte disleksie en alvorens ’n mens nie die tipe en ernstigheidsgraad daarvan bepaal het nie, kan terapie nie begin nie,” sê sy. “Die Stark-Griffin-disleksietoets is die enigste Afrikaanse en Engelse gestandaardiseerde toets vir Suid-Afrikaanse leerders. Opgeleide professionele persone wat by die Mediese Raad van SA geregistreer is, kan die toetse verskaf.”

Hoe kan ouers hul kind met huiswerk help?

Daar is ongelukkig geen kitsoplossings nie, maar wel die moontlikheid om die kind se algemene skolastiese funksionering met praktiese oefeninge en riglyne te verhoog, sê Lana Kleingeld, ’n opvoedkundige sielkundige. Sy gee die volgende riglyne:

  1. Dit is geweldig belangrik vir enige mens met disleksie om die fonetiese alfabet te leer ken en toe te pas. Ouers kan hul kinders help om ’n fonetiese alfabetkaart of -tabel te maak. Wanneer jou kind lees, moet hy of sy dan oefen om die woorde in kleiner fonetiese klanke op te breek.
  2. Help jou kind om ’n woordelys op te trek van alle nuwe en moeilike woorde en dit dan in lettergrepe en klanke op te breek om makliker te onthou.
  3. Moedig jou kind aan om hardop te lees sodat hy of sy visuele en ouditiewe sintuie kan gebruik en sodoende brein-en-oog-koördinering bevorder wat sal help om die korrekte spelling van woorde te onthou.
  4. Help jou kind om assosiasies met die woorde te maak. Byvoorbeeld: “Dit klink soos …” of “Dit lyk soos …”
  5. Disleksielyers raai gereeld woorde as die woord op die oog af onbekend of soortgelyk aan ’n ander woord lyk. Wanneer hulle onbekende woorde raaksien, moet hulle dit in lettergrepe klank en só seker maak hul lees die woord korrek.
  6. Moedig jou kind aan om met aandag en bewustheid te lees. Hy of sy kan hom- of haarself ná elke sin en paragraaf afvra: “Wat is die hoofgedagte van die sin/ paragraaf?”
  7. Mense met disleksie vind dit moeilik om met hul oë die sinne te volg – hulle spring maklik in sinne rond en kan woorde maklik rondskommel of heeltemal uitlaat, wat hul begrip van die teks beïnvloed en tot waninterpretasie lei. Daarom help dit wanneer hulle met ’n liniaal en selfs met vinger lees om seker te maak hul lees een woord op slag in die regte volgorde.
  8. Emosionele ondersteuning is die belangrikste en ouers behoort die volgende in gedagte te hou:
    • As ouer is jou belangrikste rol dié van motiveerder. Moedig jou kind gedurig aan om aan te hou probeer en realistiese doelstellings vir homof haarself te stel.
    • Verseker en prys jou kind gereeld wanneer jy kan sien hy of sy probeer sy of haar bes. Leer jou kind om nie sy of haar waarde aan prestasie te heg nie, maar eerder aan hul karaktertrekke soos deursettingsvermoë, hardwerkendheid en entoesiasme.
    • Dit is belangrik om gedurig jou kind te verseker dat disleksie niks met intelligensie te doen het nie. mense met die hoogste IK is soms disleksies.
Kontak die Rooi Appel-disleksiespesialiste by [email protected] of besoek www. disleksie.co.za;Kontak Lana by [email protected] co.za of [email protected] * Skuilnaam

Send this to a friend