Jou kind en probleme by die skool | Vrouekeur

Jou kind en probleme by die skool

Volgens Wezet Botes, ’n maatskaplike werker in privaat praktyk, moet drie aspekte ondersoek word om vas te stel waar die probleem lê:

Jou kind

Elke kind het sy eie temperament – sommige kinders is baie sensitief, sommige is maklik prikkelbaar. Sensitiewe kinders is meer geneig om raas baie persoonlik op te neem waar prikkelbare kinders negatief teenoor ’n onderwyser se riglyne sal reageer veral as hulle dink dat die juffrou onregverdig was.

Jou kind kan ook moontlik ’n ongeïdentifiseerde leerprobleem hê wat dit vir jou kind moeilik maak om by die pas van onderrig in die klas te bly. Kinders kom ook skool toe met hul eie pakkie bagasie van te laat gaan slaap, hulle het ontbyt gemis of moes die hele nag lê en luister hoe Pa en Ma baklei. Al die gebeure gaan ook inwerk op hoe jou kind in die klas gaan reageer. Dit is nie realisties om te dink dat een onderwyser ewe goed met almal se persoonlikhede, leerstyle en spesiale behoeftes sal kan werk nie. As jou outjie spesiale aandag of ekstra stimulasie benodig, sal jy meer betrokke moet wees om dit te verwesenlik.

Die onderwyser

Net soos ek en jy het jou kind se juffrou ook soms ‘n ‘af dag’ en ons moet geduld met hulle hê. Solank dit nie elke dag gebeur nie, kan ‘n mens daarmee saamleef. Elke juffrou het ook haar eie dissiplinestyl. Te min ervaring mag dalk die gevolg hê dat die juffrou sukkel om die klas te beheer. Te veel ervaring kan maak dat die onderwyser uitgebrand is en nie meer sensitief vir die behoeftes van die kinders in die klas is nie. Soms gebruik onderwysers veralgemenings en persepsies oor kinders om hul klas te orden wat ook dan die onderwyser se gedrag teenoor jou kind rig. Hierdie veralgemenings kan kinders baie negatief benadeel veral as die kind nie ‘n kans kry om in eie reg geken te word nie. Veralgemenings oor “seuns” en “dogters” se tipiese gedrag kan baie skade berokken in ‘n kind wat volgens die onderwyser buite die norme val. Die ideaal is dat die juffrou of meneer ‘n reeks emosies en stemtone gebruik om leer interessant te maak en nie net kwaai is nie.

Die skool en omgewing

Daar is tans baie druk op skole om kinders op te neem wat tot gevolg het dat die aantal leerders per klas soms baie hoog is. Geen juffrou kan ‘n klas van 40 kinders doeltreffend leer sonder om êrens baie streng dissipline toe te pas nie. Die skool se kultuur het ook ‘n invloed op die algemene benadering teenoor onderwys en dissipline. Ongelukkig is daar vele skole waar kinders nog pak kry. Dit is teen die wet en kan tot skorsing van die onderwyser lei. Daar moet ‘n gesonde balans en gebruik van mag in ‘n skool wees. As die magsbalans tussen die onderwysers en kinders baie groot is en die kultuur van die skool die regte en waardes van kinders ondermyn, mag daar dalk meer kweekgrond vir streng en ontoepaslike dissipline bied.

Lana Kleingeld, ’n opvoedkundige sielkundige, gee raad vir ouers wie se kinders verskree of “geboelie” word:

  • Versoek die skool om bemiddeling deur ‘n neutrale party tussen die kind en die spesifieke onderwyser te fasiliteer, om te bepaal of dit ‘n resultaat van opstandige en parmantige gedrag van die kind is en of die onderwyser onredelik optree en op die kind pik.
  • Herinner jou kind gereeld aan sy selfwaarde en dat hy of sy waardig is om gerespekteer te word en moet daarom ook sy of haar onderwysers respekteer.
  • Leer die kind vaardighede hoe om die onderwysers te hanteer wat hom of haar sleg behandel. Gee die volgende raad:
    • Sê na afloop van die klas vir jou onderwyser hoe dit jou laat voel wanneer hy/sy jou verskree.
    • Vra die onderwyser wat dit van jou is wat hom of haar irriteer en hoe hy of sy verwag dat jy jou gedrag moet verander?
    • Vra om verskoning vir ongemanierde gedrag en vra vir ‘n nuwe kans.
    • As dit steeds nie verander nie, rapporteer dit aan ‘n gesagsfiguur by die skool wat kan intree, byvoorbeeld die onderhoof of graadvoog.

Onderwysers se frustrasie

“Mense dink onderwysers werk net soggens, maar inderwaarheid werk hulle baie lang ure en word onder geweldige druk geplaas, omdat elke skool daarna streef om die hoogste punte en slaagsyfers te hê, sê Martha*, ‘n oudonderwyseres en departementshoof.

“Aan die begin van die skooljaar, word jy met 36 tot 44 kinders in die klas gekonfronteer wat jy nie ken nie en wat elkeen hul eie geaardheid en huislike omstandighede het. Die geraas in die klas is ook ‘n faktor wat stres kan veroorsaak en die onderwyser kan dan op die leerders skree om hulle stil te probeer kry. Hiperaktiewe kinders verg baie aandag, sowel as kinders wat stadig van begrip is en ook stadig skryf, sê sy.

Daar is ook kinders en ouers wat “tantrums” gooi as hul kind nie die A-rugbyspan gehaal het of die hoofrol in die skoolopvoering gekry het nie. Dit kan gebeur dat al hierdie stres daartoe bydra dat die onderwyser op ‘n punt kom waar hy of sy ‘n paniekaanval kry of depressiesimptome begin toon, sê Martha.

Kenners

• Kontak Wezet by[email protected] of besoek www.vitanova.co.za.
• Kontak Wietske by epos [email protected] of besoek haar webwerf by www.childtherapist.co.za
• Kontak Lana by [email protected] of [email protected]

Send this to a friend