Witwarm wenke vir die slaapkamer

Kenners gee witwarm wenke wat hopelik die vonk in jou sekslewe sal terugsit

Deur BENESCKE JANSE VAN RENSBURG

Navorsing aan die Rutgersuniversiteit in Amerika het bevind dat getroude mense wat gereeld seks het, emosioneel en fisiek beter daaraan toe is as eenlopendes of diegene wat saamwoon. Maar hoe gemaak as dinge in die slaapkamer vervelig begin raak?

“Seks is een van die belangrikste elemente van ’n gesonde huwelik,” sê  Timothy Kieswetter, seksraadgewer van die Facebook-bladsy “Gesonde Seks” en skrywer van verskeie boeke, onder meer sy jongste, Maak jou huwelik affair-bestand. Ook dr Elmari Mulder Craig, kliniese seksuoloog, verhoudingskenner en president van The Southern African Sexual Health Association, beskryf ’n gesonde seksuele verhouding as die sement wat ’n paartjie aanmekaarbind.

Sy sê dat min of geen seks dus tot huweliksprobleme bydra, aangesien dit op ’n gebrek aan emosionele intimiteit in die verhouding of op ander verhoudingsprobleme soos onopgeloste konflik of gebrek aan vertroue dui. Elmari noem ook dat as daar seksuele probleme is, voel een of albei maats verwerp of dat hy of sy nie goed genoeg is nie. “As die seksuele in ’n verhouding goed werk, is dit 10% van die verhouding, maar as daar seksuele probleme is, kan dit 90% van die verhouding raak en na al die ander komponente van die verhouding oorspoel.”

Timothy sê ’n onlangse studie het bevind dat die oorgrote hoeveelheid mense wat in die skeihof beland, direk of indirek probleme in die slaapkamer ervaar het.

Waarom raak seks vervelig?

“Pyn”, “Al weer?”, “Agge nee”, “Fantasties”. Hierdie is van die uiteenlopende reaksies tydens ’n opname waarin vroue gevra is om hul eerste reaksie te noem as hulle die woord “seks” hoor. Hierteenoor was die mans se reaksie oorweldigend positiewer.

Die vraag is egter waarom paartjies mettertyd beleef dat seks vervelig raak. Volgens Elmari verval paartjies maklik in ’n groef waarin seks voorspelbaar en vervelig raak. “Mense fokus soveel op oorlewing en die daaglikse bestuur van werk, kinders en huishouding dat hulle vergeet dat ’n opwindende sekslewe kreatiwiteit, beplanning en motivering verg.” Sy noem dat paartjies vir alleentyd moet beplan en seker maak dat hulle nie in verskillende rigtings groei nie. Paartjies moet ook vir mekaar ruimte skep om oor hul behoeftes (emosioneel en seksueel) te praat. “Dikwels voel die vrou die man sien haar net raak as hy wil seks hê en die man voel soms hy is laaste op die lys onder die hond en die kat en is dan nie lus om moeite te doen en na haar emosionele behoeftes om te sien nie.”

LEES OOK: Is jou sekslus geblus?

Elmari benadruk ook dat iemand met seksuele probleme by ’n geregistreerde seksuoloog wat binne ’n multiprofessionele span werk moet uitkom. “Seksuele probleme het fisiologiese en emosionele oorsake. Om die probleem op te los, moet alle fisieke oorsake van die probleem, insluitende pyn, erektiele disfunksie en lae seksdrang uitgeskakel word.”

Timothy voeg by dat wanneer die aanvanklike verliefdheid vervaag, dit meer werk verg om die sekslewe kreatief en spontaan te hou. “Paartjies moet dus deurentyd moeite doen om ander maniere te vind om seks opwindend te hou. Kyk na onder meer gereelde date nights, nuwe stokperdjies en nuwe seksposisies.” Elmari moedig paartjies aan om vroegtydig hulp te kry. “Sien dit as ’n belegging in jul verhouding en in jouself en mekaar.” Sy noem ook dat paartjies met ’n seksuele wanfunksie soos pyn tydens seks (pyn is nooit normaal nie), anorgasmia, erektiele disfunksie, lae libido of vertraagde ejakulasie hulp kan kry as hulle dit vroeg genoeg hanteer.

As ander dinge ons sekslewe bederf

Volgens Elmari kan onopgeloste konflik, woede, skuldgevoelens en ander emosionele probleme ’n negatiewe impak op ’n paar se sekslewe hê. “Dit is hoekom seksterapie altyd verhoudingsterapie moet insluit.” Timothy voeg by dat ons sekslewe nie afsonderlik van die res van ons emosies bestaan nie. “As jy ’n nare dag by die werk gehad het, sal dit jou libido vir seker beïnvloed.

LEES OOK: Seks en roosmaryn kan jou BAIE oud laat word

As daar ’n atmosfeer tussen jou en manlief is, gaan jou selfvertroue om ‘kinky’ met hom te wees, geaffekteer word.” Sy raad is egter om nie te wag totdat jou huwelik reg is vir goeie seks nie. “Gebruik eerder jou gawe van seksualiteit om jou huwelik weer op die regte koers te sit. Dit gaan egter met ’n wilsbesluit begin en nie met ’n ‘lus’-besluit nie.”

Waar begin seks?

Volgens Elmari begin seks in die oggend met ’n soen met ’n toekoms. “Dit begin met omgeeboodskappe en innige soene om mekaar ’n bietjie uit te lok. Dit begin deur spesiale dinge vir mekaar te doen en jou maat spesiaal te laat voel. Dit gaan oor voorspel. Dit gaan oor sensualiteit en nie oor doelgedrewendheid van orgasme nie. Soms kan voorspel dae lank duur en eers later met penetrasie en orgasme eindig.” Timothy stem met Elmari saam en sê dat seks in die brein begin. “Jy kan jou vrou soveel opvryf soos jy wil, as sy nie seksuele gedagtes het nie, gaan daai voorspel baie lank vat.”

Kikker jul sekslewe kreatief op

Elmari gee ’n paar wenke wat kan help om die vonk in die huwelik terug te sit:

  • Fokus op sensualiteit en om mekaar se liggame op ander maniere te ontdek.
  • Eksperimenteer met nuwe dinge, insluitend gehaltehulpmiddels, smeermiddels en vibrators. Besoek gerus www.tussendielakens.co.za waar ek as seksuoloog sekere hulpmiddels onderskryf en wat mense diskreet kan bestel.
  • Praat oor jul seksuele behoeftes en fantasieë – dalk kan julle rollespel oorweeg.
  • Stel die orgasme soms uit.
  • Leer die kuns van erotiese massering aan.
  • Berei die omgewing voor met alles wat jou sintuie wakker maak – kerse, musiek, iets wat lekker ruik en sorg dat die vertrek nie te warm of te koud is nie.
  • LEES OOK: Vroue, hul lywe en seks
  • Hê seks op interessante plekke. Kom ’n bietjie uit die slaapkamer uit. Wat van die bank in die sitkamer of die swembad …
  • Kinders is nie ’n verskoning om nie ’n goeie sekslewe te hê nie – jy moet dit net bestuur.
  • Dans kaal.
  • Raak gemaklik met jou lyf en leer jou eie lyf ken. Wat werk vir jou?
  • Om jou maat te blinddoek, sal sy of haar ander sintuie verhoog. Dit kan baie eroties wees.
  • Bring ’n bietjie die pret en humor terug. Malvalekkers in die mond, of ’n warm mond of sherbet in die mond kan orale seks ’n ander dimensie gee.
  • Daar is baie hulpmiddels in jou kombuis en yskas. Raak kreatief met spuitroom, ys en vrugte.

Paartjies moet dus deurentyd moeite doen om ander maniere te vind om seks opwindend te hou

Dit kan weer goed gaan

Elmari se voorstel aan ouers met klein kinders is om jou kinders so gou moontlik in ’n goeie roetine te kry sodat hulle in hul eie beddens slaap. “Sorg ook dat julle ’n baba-oppasser het en gereeld op ’n date night gaan. Julle kan ook dalk probeer om so twee keer per jaar alleen vir ’n naweek weg te gaan.” Sy noem dat ’n date night ook ’n kamer in ’n hotel op ’n Saterdag of Sondagmiddag kan beteken. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg!

LEES OOK: Hoeveel seks het jou verhouding nodig ok gelukkig te bly?

Timothy stem saam en sê dat seks ’n geskenk is wat paartjies bymekaar hou. “Probeer gerus seks in jou huwelik ’n groter prioriteit maak,” sê Timothy, “en jy mag verstom staan hoe dit julle as paartjie skielik soveel meer krag en emosionele kapasiteit gee om die res van die probleme in jul huwelik uit te sorteer.”

Bronne: Timothy Kieswetter: “Gesonde Seks” op Facebook, www.gesondeseks.co.za Dr Elmari Mulder Craig: www.elmaricraig. co.za www.facebook.com/ElmariMCraig Ten Important Research Findings on Marriage and Choosing a Marriage Partner: Helpful Facts for Young Adults (New Brunswick, N.J.: National Marriage Project at Rutgers University, November 2004)

Send this to a friend