Chalk paint: Verf ’n spieëlkas

Staan daar ’n afgeremde, verweerde, lelike of ek-hou-nie-meer-daarvan-nie-meubelstuk in jou huis? Moenie dit weggooi nie …

Deur Eldaleen Hugo

Nicolas de Beer van The Bamboo Palace in Johannesburg staan bekend as die “furniture whisperer” en hy gaan een keer per maand vir ons stap vir stap wys hoe om met Granny B’s Old Fashioned Paint nuwe lewe aan meubels te gee. Dis makliker as wat jy dink en met dié verfghoeroe se hulp kan selfs diegene wat dink hulle het nie ’n ons kreatiwiteit nie, speel-speel ’n nuwe stokperdjie leer.

Voor

Tydsduur

Vyf uur se verf (wag oornag voordat jy die seëlaar opsit)

Verfkleure

Granny B’s Old Fashioned Paint (Sea Green, Purple Reign) en Granny B’s Liquid Metal Gold met Granny B’s Classic Sealer as afronding.

Besluit vooraf watter kleure jy waar wil verf en watter jy bo-oor mekaar wil verf. Soos wat jy verf en selfver troue kry, kan jy besluit om jou oorspronklike plan aan te pas.

Stap 1

Berei die meubelstuk voor deur dit eers oraloor met 220-grein-skuurpapier te skuur. Onthou om met die grein langs te skuur. As die meubelstuk baie vuil, taai en vol ou olie is, gebruik eers fyn staalwol en spiritus om dit mee te skuur. Vee die meubelstuk dan eers met ’n nat en dan met ’n droë lap af voor jy begin verf.

Stap 2

Begin altyd met die onderste dele. Draai die meubelstuk onderstebo sodat jy nie sukkel om die onderkant te verf nie.

Stap 3

Die geheim lê daarin om nie soos met gewone verf lang, egalige hale te verf en die hele oppervlak te bedek nie. Verf “morsig” deur die kwas amper soos ’n pen vas te hou en verf heen en weer (beweeg jou gewrig liggies) totdat die verf op die kwas al minder raak. Gebruik min verf op ’n keer. Verf die verskillende dele met die onderskeie kleure. Die verf word gou droog. Die dele waar jy wil hê die hout moet plek-plek deurskyn, moet jy uiteraard nie heeltemal toeverf nie.

Stap 4

Wanneer jy die laaie verf, is dit goed om die laaie eers met ’n elektriese skuurder aan die kante af te skuur om seker te maak die laai gaan maklik instoot en uittrek.

Stap 5

Wanneer die verf droog is, begin jy met die fyn werk – stewige klein borsels werk goed hiervoor. Jy kan dit by kunswinkels koop, maar grimeerkwaste doen ook die ding. Met die fyn werk moet jy baie min verf gebruik – jy droogborselverf met ’n ligte hand en beweging van jou gewrig. Hou ’n lap byderhand om oortollige verf mee af te vee of om ’n spesifieke effek te kry. Moenie bang wees om sommer met jou hande ook te werk nie en jy kan hier en daar liggies skuur om meer verf vir effek af te haal.

Stap 6

Verf die gietvorms voor jy dit opsit en maak dit vas met klein spykertjies (panel pins). Hou die spykers met ’n skerppunttangetjie vas sodat jy nie lelik praat as jy jou vinger raakslaan nie, maar veral om nie die gietvorm te beskadig nie. Tik met die hamer op die tangetjie hoe dieper die spyker ingaan.

Stap 7

Sit nou titsels goud aan op die laaie, kante, gietvorms en laaiknoppe. Weer eens moet jy droogborselverf, maar die verf moet so lig op die kwas wees dat dit amper is asof jy die verf op “poeier”.

Stap 8

Wanneer jy seker is die meubelstuk is droog, skuur baie liggies oraloor af (fyn staalwol werk ook) om die oppervlakte satynglad te kry. Vryf met ’n droë lap skoon en sit die seëlaar met ’n groot kwas oraloor op. Laat dit oornag droog word.

Nicolas de Beer bied werkswinkels op Saterdae by sy studio, The Bamboo Palace in Johannesburg, aan. Gaan loer op sy Facebook-bladsy, The Bamboo Palace, of bel hom by 071 337 0644 vir meer besonderhede.

Send this to a friend