25 Januarie 2013 – Ons word wat ons beleef

In Luisa van der Linde se artikel dié week “Mamma, my dag was vrot!” sê Judith Graham, ’n menslike ontwikkelingspesialis by die Universiteit van Maine in Amerika: “Kinders se erva­rings, goed of sleg, beïnvloed die bedrading in hul brein en die verbin­dings in die senustelsel.

In Luisa van der Linde se artikel dié week “Mamma, my dag was vrot!” sê Judith Graham, ’n menslike ontwikkelingspesialis by die Universiteit van Maine in Amerika: “Kinders se erva­rings, goed of sleg, beïnvloed die bedrading in hul brein en die verbin­dings in die senustelsel.”
Ons almal het goeie en slegte ervarings, maar dis interessant hoe dit meestal die slegte ervarings is wat sulke diep paadjies in ons brein uitkalwe dat ons dit met moeite regkry om nie in dié gevestigde patrone te dink en voel nie. Ons foeter mos graag telkens in dieselfde gat in. Die goeie nuus is dat positiewe paadjies gelukkig ewe deeglik gevestig kan word. Dit onderstreep net weer eens die verantwoordelikheid wat ouers het om positiewe volwasse gedrag in ons interaksie met ons kinders te openbaar om sodoende geborge en selfversekerde kinders die wêreld in te stuur.
Dis Hodding Carter wat gesê het: “Daar is net twee standhoudende dinge wat ons kan poog om aan ons kinders na te laat, die een is wortels en die ander is vlerke.” Ek stem saam, maar dink ouers moet ook versigtig wees om nie in die poging om hul kinders te anker, hulle só te versmoor met reëls, regulasies, dogma, moets en moenies dat hulle eendag gewoon te bang is om te vlieg nie. Soos Frank A Clark gesê het: “Die belangrikste ding wat ouers hul kinders kan leer, is hoe om sonder hulle te kan klaarkom.”
Kinders is nie verlengstukke van ons nie, hulle is individue en mag maar ander drome, ideale en denkwyses hê. Ek dink die kuns in die grootmaak van kinders is om voortdurend in gedagte te hou dat kinders grootword en gouer as wat ons besef as volwassenes op gelyke voet met ons is. ’n Ouer-kind- of ’n onderwyser-kind-verhouding met ’n wisselwerking tussen mag en vrees, is en was nog nooit my idee van ’n ideale verhouding nie. As kinders gerespekteer word, is die kanse goed dat die respek wederkerig sal wees. En as ons kinders se positiewe breinpaadjies meer as hul negatiewe breinpaadjies is, het ons dalk iets in die grootmaakproses reggekry. 
Tot volgende keer.

Kinders word dit wat hulle beleef
As kinders kritiek beleef, leer hulle om te veroordeel.
As kinders vyandigheid beleef, leer hulle om te baklei.
As kinders vernedering beleef, word hulle skugter.
As kinders afkraking beleef, leer hulle skuldgevoelens aan.
As kinders verdraagsaamheid beleef, leer hulle geduld aan.
As kinders aanmoediging beleef, leer hulle selfvertroue.
As kinders erkenning beleef, leer hulle waardering.
As kinders regverdigheid beleef, leer hulle geregtigheid.
As kinders sekuriteit beleef, leer hulle vertrou.
As kinders goedkeuring beleef, leer hulle om van hulself te hou.
As kinders aanvaarding en vriendskap beleef, leer hulle om liefde in die wêreld te vind.
– Dorothy Law Neite

Hou jou gedagtes positief, want jou gedagtes bepaal jou woorde. Hou jou woorde positief, want jou woorde bepaal jou gedrag. Hou jou gedrag positief, want jou gedrag bepaal jou gewoontes. Hou jou gewoontes positief, want jou gewoontes bepaal jou waardes. Hou jou waardes positief, want jou waardes bepaal wie jy is
– Mahatma Gandhi

Send this to a friend