As Pappa en Mamma skei

pappa_en_mamma_skei

Jou egskeiding is nie net vir jou traumaties nie, maar ook vir jou kind. Dit is van kardinale belang dat jy die nuus van jou egskeiding sonder noodleuens en soetsappighede met jou kinders deel

Die sangeres Lieze Stassen vertel: “Dit is nou reeds jare sedert ek hierdie nuus met my kinders moes deel. Ek weet – nee glo – dat selfs die ‘vreedsaamste’ egskeiding traumaties vir kinders is en wanneer ‘n mens self op die emosionele wipplank ry, is dit veel makliker om goeie raad te hoor as om dit prakties uit te voer en te laat werk.

Daar is egter een ding wat ek weet van kardinale belang is. Dit is om te onthou dat die kind se DNS 50% van die ma en 50% die pa af kom. Ons weet dit as ‘n feit, maar kinders weet, voel en ervaar dit net met die emosies. Daarom is dit van uiterste belang dat nie een van die ouers deur ‘n ander ouer sleg gemaak moet word nie. Ek vermoed dat kinders dit direk op hulself projekteer en maklik in die onderbewussyn begin glo ‘n deel van hulle is sleg. Maak dubbel seker dat daar nie in die teenwoordigheid van die kinders oor, van of teen die een ouer gepraat word nie. Verwyte, beskuldigings en aanklagte, bakleiery en trane is vir die kind ‘n geweldige traumatiese ervaring. (Kinderoortjies kan maklik “deur” mure hoor.)

“Kinders wil veilig en geliefd voel. Maak maar dubbel seker dat die kinders duidelik verstaan dit is ‘n gesamentlike ooreenkoms en werk ‘n plan uit wat op die duur vir almal die beste sal wees. Verduidelik baie mooi dat niks van hierdie besluit iets met hulle te doen het nie en maak seker hulle is bewus van albei ouers se liefde en toewydig aan hulle.

“Ek glo nie daaraan om kinders met ingewikkelde detail en verduidelikings te bemoei nie. Ek glo ook dat daar sekere dinge is wat net tussen die ouers moet bly. Nie omdat ‘n mens geheimsinnig wil wees nie, maar omdat kinders nie emosioneel en geestelik opgewasse is om grootmensedinge te hanteer nie. Daar is ‘n gesegde wat sê dat ‘n mens weet ‘n kind is gereed vir ‘n antwoord of verduideliking sodra hy vra. Wees maar wys en dink mooi hoe jy vrae sal beantwoord, sonder om te jok of ‘n noodleuentjie te vertel, maar terselfdertyd hulle nie te vroeg in hul lewe met grootmenssake te belas nie.”

Send this to a friend