Kies ‘n boek: Fotostaatmasjien

Willie Burger kyk na Bibi Slippers se debuutbundel, Fotostaatmasjien

In Joan Hambidge se digbundel Lykdigte (2000) is daar ’n naskrif by die gedig “E-pos aan DJ Opperman” wat lui: “Ons kort ’n helse donderslag om ons weer te laat glo in die poësie se krag.”

Bibi Slippers se debuutbundel, Fotostaatmasjien, is so ’n donderslag. Werklik kragtige poësie laat ’n mens nadink oor die aard van die digkuns, oor die krag van woorde, oor wat poësie eintlik is. En laat jou weer daarin glo. Die gedigte is ál bogenoemde dinge: Sy laat ’n mens besef hoe kragtig woorde kan wees; sy verlê die grense van tradisionele poësie. Haar verse het ’n ligte en vars klank, maar wat haar werk eintlik opvallend maak en dit laat uitstaan bo baie ander jong wannabe-digters s’n wat wilde eksperimente met “nuwe media” uitvoer en wat resensente na outydse woorde soos “eietyds” of na hardlywige uitdrukkings soos “gedigte vir die sosiale mediagenerasie” of die millenials laat gryp, is dat haar werk stewig in die tradisie gegrond is.

Kuns wat nie aan die tradisie deelneem waaruit dit kom nie, kan nie werklik vernuwend wees nie. Fotostaatmasjien is vars, eksperimenteer met die nuwe media, spog met die eietydse popkultuur se afdruk daarop, maar is slim bewus van die tradisie en buit die moontlikhede daarvan uit. Neem as voorbeeld “my pop val stukkend” met die opvallende verwysing na Ingrid Jonker in die titel en na Van Wyk Louw se “Alleenspraak”: Poësie is pop wat flop weens te min

 bobeen te veel kop dit maak afgrond

en oonde oop waar pop dansbaan bou

 en partytjies hou jy kan pop vertrou

 vir daaglikse soetbrood en sewe sakke

 suiker popsterre is mooier en aansienlik

 ryker as hul digterlike susters só arm aan

 sex-appeal en sequins verslaaf aan swaarkry

 versigtig vir verhooglid heeltemal

te bang om bietjie boudwang te laat uithang

 poësie probeer te permanent wees

 wil monumentaal omgaan met pyn

 pop spin spookasem van als wat

 seermaak of plooie veroorsaak

 hou dit lig en pienk en eetbaar, poëte

 vergeet die gewete en hogere kuns

 gaan koop vir jou hoëhakskoene

 en ’n hotpant laat staan jou righteous

 rant en word ordentlik meegevoer

 deur die dinge wat nét flikker om die grense

 van enige goedbeligte disko-dansvloer

’n Skepsis oor bestaansreg van (tradisionele) poësie is deurgaans in die bundel teenwoordig, terwyl die woordgebruik self dikwels die skepsis teenspreek, soos in “Inkwell”, ’n gedig uit die siklus van 15 “Instagram-gedigte”: Ek weier om te sukkel met woorde/as ek op Instagram kan poetry maak/met ’n swipe, ’n tap, en ’n vintage filter. my foto van Juan se voet in ’n Converse high top is een enkel poësie, bitch. om te suffer vir jou art is old hat./#aintnobodygottimeforthat

Die bundel as geheel laat ’n mens aan Willem Boshoff se visuele poësie in Kykafrikaans (1980) dink, want dit is in elke opsig ’n visuele ervaring waarin die papierkleur, die lettertipes, en die buitengewone tipografie sentraal staan. Die heldergeel omslag is opvallend en die buiteblad bevat al die gedigte in die bundel wat oor mekaar daarop afgedruk is. Die eerste 27 bladsye is geel, daar is pikswart bladsye met wit letters en dikwels het die bladsye daardie grys kleur wat so kenmerkend van fotostate is.

Soms loop die gedigte dwars, soms skuins. Die kleur en tipografie skep ’n uitbundige atmosfeer, maar dit beteken nie dat alles oppervlakkige spel is nie. Juis nie. Hier is polities-betrokke gedigte, godsdiens word aangeroer, sosiale probleme word uitdagend aangepak, soms ligweg bespot, die speelsheid deurgaans deur ironie gebalanseer. Slippers se gedigte behoort as bundel gelees te word en nie – soos dikwels met poësie gebeur – slegs aan enkelgedigte in ’n bloemlesing gemeet te word nie.

Die idee van fotostate, van afdrukke, van kopiëring word op verskeie maniere ondersoek: Wat is oorspronklikheid? Wat is nie op die een of ander manier gekopieer nie? Wat is die gevolge van afkyk, van afskryf, van naboots en kopieer? Slippers voeg haar hier by die eeueoue strydvraag oor afbeelding waaroor Aristoteles en Plato al haaks was. Op satiriese wyse span sy die vals tolk by die Mandela-roudiens ook in vir nadenke oor vertaling en vertolking en probleme met die weergee van enigiets.

Die hele bundel staan in die teken van die openingsgedigte waarin hulde gebring word aan Chester Carlson, die uitvinder van die fotostaatmasjien. Telkens is daar tekens van afkyk by digters, maar ook by die popkultuur. Gun my ’n laaste voorbeeld: punt ek skryf jou af en eindig/ons verhaal met ’n punt/agter jou naam/finaal. maar dis altyd so met my/as ek my weer kom kry/ is daar nog twee punte by/… Die slim woordspel en speelsheid moenie met ligsinnigheid verwar word nie. Dit is ’n ernstige bundel – die soort bundel wat my in poësie se krag en relevansie, in ons eie tyd laat glo.

Send this to a friend