Chanette Paul

chanette_paul

9 vrae aan die skrywer Chanette Paul, wat pas haar deurbraak oorsee behaal het met haar jongste boek, Offerlam wat by Lapa Uitgewers verskyn het:

1. Wie is jou skryfhelde?

Skrywers vir wie ek groot agting koester, is Minette Walters, Tana French, Sue Monk Kidd, Irma Venter en sommer ’n hele klomp ander. Eintlik enige skrywer wat daarin slaag om my mee te voer en te laat vergeet van wat om my aangaan.

2. Wat lê op jou bedkassie?

’n Stapel boeke! Onder meer Skarlaken van Irma Venter, Pretty Girls van Karin Slaughter, Recipes for Love and Murder van Sally Andrew en Nina George se The little Paris Bookshop.

3. iPad/Kindle of gedrukte boek – wat verkies jy?

Gedrukte boek. Dit hou lekkerder vas en ek kan voel – sonder om te kyk – hoeveel daar nog van die boek, en dus storie, oor is. Dis belangrik om te weet aangesien ‘n mens dan kan raai wanneer die werklike keerpunt in die storie kom. ’n E-leser is egter nuttig vir navorsingsboeke en ook wanneer ‘n mens reis.

4. Wat is die beste skryfraad wat jy al ontvang het?

Love wat you write and write what you love.” Ek het in my jonger jare gedink ‘n mens moet Letterkunde (met ’n hoofletter) skryf, om werklik iets betekenisvols te kan sê. Dis twak. Elke voël sing soos hy gebek is en ek is vir ontspanningsfiksie gebek. ‘n Mens kan in enige genre betekenisvolle onderwerpe aanraak – dis net die manier hoe jy dit aanbied en die graad van toeganklikheid wat verskil.

5. Na watter SA skrywers kyk jy op en sal jy gaan vir raad?

Wilna Adriaanse. Sy is my keurder vir die afgelope twee boeke en red my van vele flaters en swakker oomblikke. Ek vertrou haar hoogs intelligente oordeel en het oneindig baie by haar geleer.

6. Wat sal jy as hoogtepunt van jou loopbaan uitsonder?

Tot dusver die vertaling van Offerlam in Nederlands en die vooruitsig van die Engelse vertaling. Dit was egter ook vir my ‘n groot hoogtepunt dat my boeke drie keer in ‘n ry deur lesers as Lekkerlit-boek van die jaar aangewys is. En natuurlik daardie Woordveertjie.

7. Aan watter skryfgewoonte (van jouself of ander skrywers) het jy ’n broertjie dood?

’n Storie vanuit ’n eksterne perspektief geskryf. As leser wil ek voel ek word self die hoofkarakter; ek wil nie voel asof ek van buite af inkyk nie.

8. Waarvan droom jy vir die toekoms?

’n Deurbraak in Amerika. Dit gaan nie oor roem nie, ek wil net genoeg boeke verkoop sodat ek my oudag met ’n mate van gerustheid kan benader. Skrywers het nie goed soos pensioen en ’n gesubsidieerde mediese fonds nie.

9. Wat is jou gunstelinggenre om a. Te skryf en b. te lees?

In albei gevalle spanningsromans en veral spanningsromans met vroulike hoofkarakters wat nie noodwendig besonder briljant is nie, maar in die loop van die storie wysheid opdoen. As leser geniet ek egter ander genres ook. My leessmaak is veel wyer as my skryfsmaak, hoewel ek as skrywer ook al ’n hele paar genres aangepak het.

Send this to a friend