Die ware verhaal agter ‘An American Girl in Italy’

Foto: Ruth Orkin Photo Archive

In hierdie week se Vrouekeur het Eldaleen boksies geverf. Een van dié boksies het ’n ikoniese foto op. Mense wonder dikwels of dié ikoniese foto van Ninalee Craig nie eg is nie.

Bron: (CNN)

Sy hoor dié vraag dikwels. Sommige mense meen die swart-wit foto uit ´n vroeëre era is net té perfek. Craig, wat destyds 23 was, stap kop omhoog met haar sjaal en handsak in haar hand by groepies mans op ´n sypaadjie in Florence, Italië, verby asof sy nie geraak word deur hul uitlokkende kyke nie.

Craig is nou 89 en hou vol dat die antwoord nee is: “Dis hoe dit gebeur het.”

Die volgende vraag wat dikwels aan haar gestel word, is een wat Craig vir so lank as wat die foto in die openbare oog was, probeer vermy het: Was sy bang? Was sy vies dat sy nie in vrede met die straat kon afloop nie?

Weer eens is die antwoord nee. “Ek was op my stukke. Ek het dit geniet,” sê Craig.

“Ek was Beatrice wat deur die strate van Florence gestap het. Dit het gevoel asof ek enige oomblik deur Dante raakgesien kon word.”

Ten spyte van al die teenstrydighede wat dit ontlok het, het die fotograaf Ruth Orkin se foto An American Girl in Italy baie jare teen die mure van vroue se koshuiskamers en slaapkamers gepryk en het gesprekke oor feminisme en straat-teistering aan die gang gesit lank voordat dit temas van die dag geword het.

Craig en Orkin se dogter, Mary Engel, wat die Amerikaanse fotograaf se boedel hanteer, sê die foto is nou meer relevant as ooit vantevore vir wat dit inderdaad daarstel: onafhanklikheid, vryheid en selfbeskikking.

Dit was per slot van sake waaroor die foto eintlik gegaan het.

Craig het Orkin in 1951 in Florence ontmoet, ´n tydstip toe dit ongewoon was om Amerikaners in Europa aan te tref, veral vroue wat alleen reis.

Craig het geld gespaar toe sy in New York onderwys gegee het. Sy het haar ma se raad gevolg om in Europa rond te reis totdat haar geld opraak. Sy het Frankryk, Spanje en Engeland besoek voordat sy in Florence kunsklasse begin neem het.

Orkin het toe pas ´n fotosessie in Israel vir Life magazine afgehandel. Die twee het mekaar by die American Express-kantoor raakgeloop, van waar af ´n mens briewe en telegramme kon stuur, telefoonoproepe maak en geld wissel voor die aankoms van die huidige massakommunikasie.

Die vroue was bly om mekaar te ontmoet, veral toe hulle agterkom dat hulle in dieselfde hotel teen $1 per nag (maaltye ingesluit) bly. Toe hulle agterkom hulle deel ´n passie vir reis, het Orkin voorgestel dat sy foto’s van hul avonture neem.

“Ruth het gesê, ‘Hei, weet jy, ek kan miskien ´n bietjie geld maak as ons sommer rondspeel en wys hoe dit is as ´n vrou alleen reis,'” onthou Craig.

Die twee het Florence se strate ongeveer 10 uur die volgende oggend ingevaar. Die foto van Craig wat by die mans verbystap, was een van Orkin se eerstes. Sy het nog ´n foto vanuit ´n ander hoek geneem voordat die twee van hulle voortgegaan het om bekende tonele van Italië vas te vang: kafees, standbeelde, piazzas en keisteenstrate.

Die fotosessie het omtrent twee ure geneem en toe het elkeen haar eie pad gevolg, hoewel nie vir lank nie. As seldsame Amerikaners in Europa het hulle mekaar weer in Parys en Venesië raakgelooop en Orkin het nog foto’s vir haar reeks geneem.

Die foto’s het in 1952 in die tydskrif Cosmopolitan onder opskrif “When You Travel Alone…” verskyn, met wenke oor “money, men and morals to see you through a gay trip and a safe one.”

Die opskrif by die foto van Craig wat by die straat af stap weerspieël die kulturele gebruike van die tyd.

“Openbare bewondering … moet jou nie verbouereerde maak nie. In baie oorsese lande is dit ´n gewilde, onskadelike en vleiende gewoonte om dames aan te gaap. Die mans is gewoonlik luidrugtiger en meer demonstratief as Amerikaanse mans, maar hulle het geen slegte bedoelings nie.”

Dis ver verwyder van wat vroue nou hoor, maar destyds was dit al progressief om vroue aan te moedig om alleen te reis. Dit het die foto’s so spesiaal gemaak, sê Craig. Hulle bied ´n seldsame blik op twee vroue – voor en agter die kamera – wat die era se gender-rolle uitdaag en elke oomblik daarvan geniet.

“As ek daarna kyk, word ek dadelik terugverplaas, en dit was wonderlik,” sê sy. “Ek was ´n kunsstudent. Ek was kommerloos. Ek was 23 en die wêreld was my oester.”

Vir die grootste deel van die 20ste eeu was Craig onder haar bynaam, Jinx Allen, bekend. Toe is die foto in die tagtigerjare in Life magazine gepubliseer en haar identiteit is geopenbaar.

In die tussentyd het sy veelvuldige lewens gelei, sê sy, eers as ´n gravin in Italië deur haar huwelik met ´n Italianer, dan as die vrou van ´n Kanadese staamagnaat. Ná sy dood het sy ´n tuiste in Toronto se ontluikende kunstoneel gevind. Veertig jaar later noem sy haarself grappenderwys “the Canadian girl” in plaas van “the American girl”.

Sy geniet dit om oor haar ses maande in Europa en haar ontmoeting met Orkin te praat. Die twee het mekaar uiteindelik weer in Amerika ontmoet en lewenslange vriendinne geword tot Orkin se dood in 1985.

“Sy was ´n wonderlike vrou,” sê Craig oor Orkin. “Ons het lekker saam gekuier.”

Send this to a friend