Gay is geen vloekwoord

Homoseksualiteit word dikwels met vernederende woorde as abnormaal, defektief en onaanvaarbaar veroordeel. Hoekom gebeur dit en wat moet ons weet om ons eie en ander se seksuele voorkeure te verstaan?
Deur Carla van der Spuy

Homoseksualiteit word dikwels met vernederende woorde as abnormaal, defektief en onaanvaarbaar veroordeel. Hoekom gebeur dit en wat moet ons weet om ons eie en ander se seksuele voorkeure te verstaan? 
Deur Carla van der Spuy

Een van my gay mansvriende het voor hy amptelik “uit die kas” geklim het, as student al sy sakgeld aan psigiaters bestee, want hy wou nie gay wees nie. “Niemand is uit eie keuse gay nie, want niemand wil die risiko loop om verwerp te word nie. My pad na selfaanvaarding was hel,” vertel hy vandag wrang en voeg dan by: “Mof is ek gebore, mof sal ek sterf.”

Die soeke na ’n geen
Baie gays dring daarop aan dat hulle gay gebore is. Hoekom is daar ’n gaygeenteorie en wat is die oorsprong van die aanname dat gaywees geneties is?
Die teorie van genetiese bepaling wat twee dekades gelede as ’n wetenskaplike “deurbraak” gepubliseer is, blyk nou net so omstrede te wees as die siening dat dit normaal is om gay te wees of dat ’n mens he­teroseksueel gebid kan word – standpunte wat met sterk gevoelens gepaardgaan.
Die wetenskapsteorie het in 1991 ontstaan toe Simon LeVay, self gay, volgens hom subtiele verskille in die hipotalamus van die breine tussen heteroseksuele en homoseksuele mans in nadoodse ondersoeke gevind het. Daar is aanvaar dat hierdie deel van die brein ’n rol in die “regule­ring van tipiese manlike gedrag” toon.
Op bewerings dat Simon se motivering vir hierdie navorsing persoonlik was, het hy onderneem om sy wetenskapsloopbaan prys te gee as hy nie bewyse sou vind nie. Die belangrikste studie oor die “gaygeen” is in 1993 deur dr Dean Hamer en ’n span genetici van die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut gedoen. Hulle het bevind dat die DNS van 33 uit 40 pare homoseksuele broers oënskynlik met hul ma’s verbind word nadat bevind is dat hulle vyf merkers op die lang arm van die X-chromosoom deel.
Dr Dean is daarvan beskuldig dat hy nie sy bevindinge in konteks geplaas het deur woorde, soos “aandui” of “moontlik” te gebruik nie – al het hy gesê dat daar “waarskynlik honderde gene in die gebied” was en dat die meeste van hulle nie geïdentifiseer is nie. Die reaksie was ’n media-ontploffing en USA Today het berig dat ’n geneigdheid tot homoseksua­liteit skynbaar in die gene van party mans geleë is en dat hulle dié gene van hul ma’s oorgeërf het.
Fel kritiek het gevolg, soos dat dr Dean nie die probleme wat die navorsingspan ervaar het, geopper het nie en beriggewing hieroor selektief was. ’n Mens kan nie die resultate van een eksperiment as wetenskaplik feitlik beskou nie, is gesê.
Antigayaktiviste het die “gaygeen” met genetiese liggaamlike en geestesiektes, wat deur die samelewing as afwykend beskou word, vergelyk.
Progayorganisasies het gemengde gevoelens oor die geenteorie gehad. As seksuele oriëntasie geneties bepaal is, sou dit die “blaam” wat ouers en gays op hulself lê, verwyder, maar om gay te wees sou terselfdertyd dan aan ’n genetiese “siekte” te wyte wees, wat ’n verguising van ’n ander aard sou meebring, het hulle gesê.
Mettertyd is dr Dean se studie al meer bevraagteken en gekritiseer. Daar is gevra hoekom broers wie se genetiese bevindings die teorie weerspreek het, nie by die studie ingesluit is nie? Daar is ook aangevoer dat dit blote toeval kon wees dat die gay broers in die studie dieselfde merkers deel en dat die genetika van homoseksua­liteit deur die media oorvereenvoudig word.
Gavin Hayward sê heelwat gays het vroeë herinneringe van aangetrokkenheid tot mense van dieselfde geslag, wat ’n aanduiding kan wees dat mense inderdaad gay gebore is. “Tog is daar talle mense wat gay verhoudings aanknoop nadat hulle in heteroseksuele verhoudings was,” sê Gavin. “Hulle is dalk gay gebore, maar hulle was nie daarvan bewus nie of kon weens druk van die gemeenskap nie hul gay voorkeure uitleef nie,” redeneer hy.
In 2004 het Italiaanse navorsers ’n studie onder 4 600 mense onderneem wat bloedverwante van 98 homoseksuele en 100 heteroseksuele mans was. Hulle het bevind dat vroulike familielede van die gay mans heelwat vrugbaarder was as dié van die heteroseksuele mans in die groep. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat genetiese materiaal wat deur die X-chromosoom deurgegee word, vrugbaarheid in die ma’s en homoseksualiteit in hul seuns bevorder.
In ’n studie aan die Nederlandse Instituut vir Neurowetenskap in Amsterdam is getoon dat testosteroon ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die manlike fetale brein vertolk. Blootstelling aan verskillende hormoonvlakke in die brein gedurende fetale ontwikkeling kan glo die “vermanliking” van die brein in babaseuns blokkeer. Daarbenewens is daar ook bevind die gebruik van sekere medikasie en stres speel ’n rol.

Gavin Hayward redakteur van die Exit-gaykoerant
Dr Abel Pienaar Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit
Yngve Sjolund redakteur van die CD4-nistydskrif vir mense wat met MIV leef
Prof Johannes Vorster Departement Nuwe Testament en Vroeg Christelike Studies, Unisa
Delene van Dyk konsultant vir die organisasie OUT en aktivis vir LGBTI (lesbiese, gay, biseksuele, transgender- en interseksmenseregte), fasiliteer werkswinkels om menslike seksualiteit beter te verstaan
Proponent Hennie Pienaar pastorale berader

Watter rol speel jou omgewing?
In die nature vs nurture-debat meen die nurture-aanhangers die feit dat ons deur ons sosiale omgewing beïnvloed word, ’n bepalende faktor in ons seksuele voorkeur is.
Oorbeskermende ma’s, afwesige pa’s, seksuele mishandeling, huislike omstandighede en huisvesting in seunskoshuise is volgens die teorie dat geslagsidentiteit in die eerste jare ná geboorte bepaal word, onder meer faktore wat seksuele oriëntasie kan beïnvloed. Dis waarom veral gods­diens­groepe meen mense het ’n keuse of hulle gay wil wees of nie, dat homoseksualiteit omkeerbaar is en mense heteroseksueel gebid kan word. Daar word van “genesing van gays” gepraat, maar die organisasie OUT sê die vraag of gays “genees” kan word, impliseer dat hulle siek is, terwyl homoseksualiteit in die mediese beroep nie as ’n siekte beskou word nie.
Dr Abel Pienaar sê dis vir hom hartseer dat daar vandag steeds groepe is wat gay mense as immoreel, siek of sondig wil kategoriseer. “As jy vertel word dat jy ’n sekere deel van jou menswees moet onderdruk of ontken, veroorsaak dit diep innerlike wanbalans,” sê hy.
Yngve Sjolund sê die begrip “homoseksueel” is negatief gelaai en insinueer dat gay mense met seks behep is. “Waar pas homo-emosioneel of homoromanties dan in die prentjie in?” vra hy. “Dalk moet ons begin dink aan gays wat ’n waardevolle bydrae tot die samele­wing maak en ook na intieme verhou­dings smag. Hulle het immers dieselfde universele kenmerke wat spi­ri­tuele en gesinslewe, liefde, vriendskap en aanvaarding betref,” sê hy.

Gay is niks nuuts nie
Prof Johannes Vorster verkies die Engelse begrip “same sex” (seksuele verhoudings met mense van dieselfde geslag) in plaas van die begrip homoseksualiteit en meen dat dit, soos in die geval van he­teroseksualiteit, ’n normale sosiokulturele verskynsel is.
“Die siening kan sover terug as sofis­­me geneem word, waar daar ’n onderskeid gemaak is tussen die Griekse begrippe ‘phusis’ vs ‘nomos’, wat kontemporêr die siening, natuur vs kultuur, reflekteer. Ek ervaar weens verskeie redes probleme met gaynavorsing, onder meer omdat daar binne die veld van dié genetiese navorsing van die resultate geproblematiseer is.”
Prof Johannes deel die standpunt van prof John J Winkler, ’n klassikus, wat as die voorste vertolker van die antieke Griekse en Romeinse kultuur beskou word en ’n vurige aktivis vir feministiese, gay- en minderheidsgroepe was. Hy is van mening dat die beskrywing van dit wat konvensioneel en betaamlik is as “natuurlik” beskou word terwyl dit wat onkonvensioneel is as “onnatuurlik” beskou word.
“Ons moet besef wanneer ’n verskynsel as ‘natuurlik’ verklaar of bewys kan word, dit ongelooflike sterk retoriese waarde het,” sê prof Johannes. Wanneer daar dan vir iets soos gaywees ’n verklaring in die natuur gesoek word, moet ’n mens vra wat lê daaragter? Het dit nie te make met die feit dat ons nie wíl aanvaar dat dit gewoon normaal is nie? Of dalk met die feit dat die moderne gesin steeds voortplanting as die gevolg van normale seksualiteit beskou? En wanneer die meerderheid van genetiese navorsing met die defektiewe te doen het, loop ons nie die gevaar om net weer op ’n ander manier gaywees tot ’n soort van ’n uitgelewerdheid te verdoem nie?
“Daarom meen ek ’n mens moet die navorsing rondom die gaygeen nie bloot sonder probleme aanvaar nie, want ’n aanspraak op die natuurlike het geweldige groot oorredingswaarde. 
“Alle seksuele voorkeure word sosiokultureel bepaal – dit het met smaak te make, soos of jy van pampoen of broccoli hou. Om dit presies op ’n chromosoom aan te dui, is vir my problematies. ’n Mens sou dan ook graag wil weet waarom dieselfde hoeveelheid aandag nie aan die lokalise­ring van die gaygeen by lesbiese vroue geskenk word nie.
“Seksuele verhoudings met mense van dieselfde geslag was altyd deel van die mens se geskiedenis. In talle kulture is geen wenkbrou daaroor gelig nie en in antieke Griekeland was sekere vorme daarvan selfs aangemoedig.”
Prof Johannes sê in die antieke wêreld het verhoudings met mense van dieselfde geslag wydverspreid voorgekom en is dit selde as “teen die natuur gesien”. “Dit was heeltemal “natuurlik” dat seëvierende mi­litêre krygers hul verslane teenstaanders met seks gedomineer het, dat slawe-eienaars seks met slawe van albei geslagte gehad het en dat ouer mans jong seuns seksueel kon inisieer tot hulle baard begin groei het – iets wat uiteraard in ons samelewing ondenkbaar is. Benewens hierdie verhou­dings waarin magshiërargieë ’n oorwe­gende rol gespeel het, was daar ook mans wat mans gewoon liefgehad het en vroue wat vroue liefgehad het.
“Dit was in dié samelewing aanvaarbaar dat mans ook met mans seks het, maar omdat seks deur statusverhoudings bepaal is, was dit ’n probleem om van jou rol as man af te sien en in die proses soos ’n vrou te wees.
“Vroue was sosiokultureel as min­derwaardig beskou en mans wat soos ’n vrou opgetree het, het dan dieselfde minderwaardige status verkry. Jy moes dus steeds ‘manlik’ wees al het jy seks met mans gehad.Hoewel ons kan aanvaar dat vroue ook met vroue seks gehad het, soos ons aan Sappho, van die eiland Lesbos, se gedigte kan sien, is daar nog meer op hulle neergesien en is hul optrede selfs as ‘monsteragtig’ beskou.”

Waar kom die begrip ‘homoseksualiteit’ vandaan?

“Kort voor die 19de eeu, tydens die Victoriaanse tydperk, word seks tussen mans as ’n misdaad beskou en word dit sodomie genoem,” vertel prof Johannes. “Dis eers aan die einde van die 19de eeu, met die totstandkoming van die menslike wetenskap, wat ’n ‘persoonlikheid’ en ‘identiteit’ vir ’n man wat met ’n man seks het, geskep is: homoseksueel. Dit is toe in Europa as ’n patologiese toestand en ’n ‘afwyking’ gesien wat bepaalde oorsake sou kon hê, wat ‘genees’ kon word as dit aan sekere genesingsmetodes onderwerp is.
“Sedertdien is daar vanuit verskillende velde ‘ondersoeke’ gedoen om aandag aan die ‘verskynsel’ te gee. Só het die kerk na oorsake en antwoorde in die Bybel begin soek en kommissies bestaande uit sogenaamde kenners is aangestel om te gaan soek wat die ‘Woord van God’ vir hulle oor die verskynsel sê. Die soeke het ook na die gebied van die opvoedkunde uitgebrei en word ook in sielkunde en psigiatrie bestudeer, soos ook die geval is in die genetika met die soeke na ’n geen as oorsaak.
“Dit is van tyd tot tyd sosiaal verskillend geëvalueer, maar verhoudings met mense van dieselfde geslag was nog altyd deel van alle samelewings, hoewel nie altyd openlik sigbaar nie. Die toekenning van ‘natuurlikheid’ aan heteronormatiewe sekshandelinge, wat die meerderheid as die ‘regte’ en enigste vorm van seks beskou, gee onregverdiglik ’n status van mag daaraan om enige ander vorms van seks as abnormaal en selfs as siek te kan klassifiseer,” sê prof Johannes.

Verstaan ons menslike seksualiteit?
Delene van Dyk deel prof Johannes se siening heelhartig en sê: “In die werk wat ek doen wil ek juis van die ‘nature vs nurture’-debat wegbeweeg of mense ten minste bewus maak oor hoekom die vraag steeds vandag gevra word!
Die probleem lê nie by homoseksuali­teit nie, maar by die feit dat menslike seksualiteit as geheel misverstaan word en dit boonop met skuldgevoelens, stereotipes, mites en stigma belaai is.
Delene het 18 jaar gelede “uit die kas” geklim, is twee jaar gelede met Marna getroud en is gemaklik met haar seksualiteit. Dit was wel met tye ’n opdraande stryd.
“Ek glo my rol is om te help om stereotipes en stigmas af te skud en om mense van die negatiewe impak van heteronormatiwiteit bewus te maak.”

Heteroseksuele norme gee die pas aan
Delene verduidelik dat heteronormatiwiteit dié lewenstylnorme is wat deur die hetero­seksuele meerderheid van die samelewing as die “regte” en “normale” kriteria gebruik word.
Dit bepaal dat heteroseksualiteit en ’n seksuele verhouding tussen ’n man en ’n vrou die enigste aanvaarbare vorm van seksuele oriëntasie is. Heteronormatiwiteit onderdruk, stigmatiseer en marginaliseer mense en bemoeilik hul selfvervulling.
“Die lewe is eenvoudiger as alles in boksies pas, veral as dit oor mense en dinge gaan wat ons nie ken of verstaan nie. Die ironie is dat die heteronormatiewe model vir baie heteroseksuele mense ook nie meer 100% werk nie, dink maar aan enkelouergesinne as ’n voorbeeld. Die heteronormatiewe model, ten spyte van ons seksuele oriëntasie, is só deel van ons samelewing dat die meeste van ons nie daaraan dink dat daar mense is wat nié die model volg nie. Deur te verwag dat almal daarvolgens moet optree, word andersdenkendes onderdruk, te na gekom en verstoot.”
Volgens Delene gee hierdie model ook aanleiding dat heteroseksueles en sommige gays self, dink gay pare is veronderstel om hulself binne die perke van die model uit te leef. Daarom wonder heteroseksueles dikwels wie die “man” en wie die “vrou” in ’n homoseksuele verhou­ding is. 
“Daar is nog talle mites oor gay mans en vroue. Die enigste verskil tussen jou en my is wie ons intiem liefhet.
“Ek wil hê mense moet probeer om vanuit ’n ander oogpunt na menslike seksualiteit te kyk eerder as om te vra waar dit vandaan kom, want ons weet ook nie waar heteroseksualiteit vandaan kom nie. As jy heteroseksueel is, hoef jy nie jou eie seksualiteit te bevraagteken nie. Ek glo as jy menslike seksualiteit beter verstaan, sal jy die lewe beter verstaan,” sê Delene.

Seksualiteit is meer as seks
Volgens Delene is seksualiteit ’n komplekse begrip wat uit vier hoofdele bestaan, naamlik geslag, gender, seksuele oriëntasie en seksuele praktyke en elke individu is ’n kombinasie van dié vier dele.
“Geslag is die biologiese konsep waarmee ’n mens gebore is en dit sluit chromosome en hormone in.
“Gender is ’n sosiale konstruksie en nie iets waarmee ’n mens gebore word nie. Genderidentiteit verwys na hoe mense as ’n man of ’n vrou oor hulself in die wêreld voel. Op grond van hierdie sosiale konstruksie is daar die sosiale verwagting dat ’n manlike geboude persoon manlike karaktereienkappe moet hê, terwyl ’n vroulik geboude persoon vroulike eienskappe moet hê.”
“Maar,” sê Delene, “genderrolle is nie in gips gegiet nie, aangesien die samelewing en kultuur voortdurend verander. Seksuele oriëntasie sluit onder meer in hoe mense hulself op emosionele, romantiese, intellektuele, seksuele en intieme vlak teenoor ander individue of ’n sekere geslag uitdruk. Daar is tans drie seksuele oriëntasies naamlik, homoseksualiteit, biseksualiteit en heteroseksualiteit.
“Seksuele oriëntasie,” sê Delene, “is ’n identiteit om ’n lewe saam met iemand anders te bou met verskillende vlakke van intimiteit.
“Seksuele praktyke is wat mense met hul lywe doen, met of sonder ander mense, om seksuele plesier met toestemming te ervaar. Dit is soveel meer as net die gebruik van ’n penis en vagina. Mense het seks vir verskeie redes!
“Hoe ons onsself as manlik of vroulik uitdruk, met wie ons ’n lewe bou en met wie ons seks het, is dus vir elke mens verskillend – nie net vir gays nie,” sê Delene.
“Om ’n penis te hê, maak nie van jou ’n ‘man’ nie, soos borste jou nie ’n ma maak nie. Om heteroseksueel te wees, beteken nie dat jy ‘normaal’ is nie.”
“Ons taal is een­voudig te beperk om mense se seksualiteit en seksuele uitdrukking te beskryf,” sê Delene.

Ek was van kleins af bewus dat ek
anders as die norm is of
wat as die norm voorgegee word


Aanvaarding deur die samelewing

Yngve sê hoewel talle moontlikhede ondersoek is, is daar tot dusver nie een absolute verduideliking vir homoseksualiteit gevind nie. En sou dit gebeur, is die vraag: Sal die samelewing dit aanvaar?
Prof Johannes stem saam dat seksuele verhoudings met mense van dieselfde geslag nooit aan een enkele aspek gekoppel kan word nie, maar dit geld ook vir seksuele verhoudings met mense van die teenoorgestelde geslag.
“Baie van die genetiese navorsing het met voortplanting en oorerwing te make. Ek wil nie daarmee sê dat genetika irrelevant is nie, maar ek dink ook nie ’n mens moet te veel mag daaraan toedig of dit as retoriese argument gebruik om gaywees volgens heteronormatiewe maatstawwe te ’normaliseer’ nie. Ons moet op ’n punt kom waar mense besef dat om gay te wees net so ’normaal’ is as om nie gay te wees nie.”

Ons leef in ’n wêreld van verskeidenheid
Proponent Hennie Pienaar sê die feit dat ons net aan twee oorsake vir gaywees dink, is deel van ons irrasionele werklikheid en toon dat ons lui denkers is. Hy meen ons moet dalk in die debat ook tussen homoseksuele mense en homoseksuele gedrag onder heteroseksuele mense onderskei.
“Daar is mense soos ek wat gay gebore is. Ek is nie emosioneel of seksueel gemolesteer nie en het ewe veel liefde van albei my ouers ontvang. Ek was van kleins af bewus dat ek anders as die norm is of wat as die norm voorgegee word. Ek wou my gaywees verander, maar dit het nie gebeur nie. Dis deel van my psige.
“Die mens het rasionele, emosionele, seksuele, fisieke, sosiale en spirituele kenmerke wat nou verweef is en mekaar beïnvloed. Jy kan nie die een ontken of onderdruk sonder dat dit ’n negatiewe uitwerking op die ander kenmerke het nie.
“Geen regdenkende mens sal kognitief kies om gay te wees en hom- of haarself deel maak van ’n minderheidsgroep wat deur eeue heen die teiken van diskriminasie is of was nie. Solank gay mense gebrandmerk word dat hul seksuele orïentasie hul eie keuse is, sal daar teen hulle gediskrimineer word. Sodra homoseksuali­teit aanvaar word as ’n normale seksuele orïentasie, sal daar ook genesing en transformasie plaasvind, nie net in die gay gemeenskap nie, maar ook oor seksuele grense heen.
“Volg eerder die goue reël vir liefde en as jy nie skade aan jouself of ander doen nie; leef en laat leef en aanvaar dat daar meer as net twee moontlikhede vir ’n saak is. Ons leef in ’n wêreld met groot verskeidenheid en sonder resepte. Ons maak dinge hopeloos te ingewikkeld,” sê hy. Vk

 

Send this to a friend