Ken jou storie: resensies

Willie_Burgercrop

Natuurlik is daar baie redes daarvoor dat resensies nie altyd is wat hierdie leser daarvan verwag nie, sê Willie Burger

Ná ’n boekbekendstelling keer ’n man my voor. Hy wil weet waarom so baie resensies niks meer as vervelige beskrywings van boeke is nie. Hy verlang meer van ’n resensie as ’n beskrywing van die skrywer se slim toertjies, verduidelik hy toe ek versigtig uitvra, hy wil weet wat die boek nou eintlik vir ons in ons wêreld beteken.

Natuurlik is daar baie redes daarvoor dat resensies nie altyd is wat hierdie leser daarvan verwag nie. Maar een van die redes het te doen met ’n bepaalde beskouing van letterkunde wat in die 1960’s ontstaan het en wat steeds soms ’n invloed op resensente het. Storievertelling word al vir eeue as deel van literatuurstudie ondersoek – die ou Grieke, Aristoteles en Plato, het al breedvoerig daaroor geskryf, maar veral die tydperk van die middel 1960’s tot die 1980’s kan as ’n bloeityd vir die studie van vertellings in letterkundestudie beskou word. In hierdie tyd is die term “narratologie” geskep ten einde te verwys na die werk van teoretici soos Tzvetan Todorov, Roland Barthes, Claude Bremond, Gerard Genette en AJ Greimas.

Hierdie teoretici het ’n “vertelwetenskap” probeer vestig, deur die ontwikkeling van “wetenskaplike modelle” van vertelling, gebaseer op die beginsels van die taalwetenskap. In die taalwetenskap van destyds is onderskei tussen ’n algemeen geldende, onderliggende struktuur van taal, en ’n spesifieke uiting. Met ander woorde, daar is aan die een kant ’n beperkte aantal vaste reëls en patrone van taal wat ’n mens moet aanleer en dan kan jy met behulp hiervan klanke en woorde kombineer om ’n onbeperkte klomp dinge te sê. Die wetenskaplike ondersoeker probeer die onderliggende struktuur verstaan, nie om die spesifieke uitings se betekenis vas te stel nie.

Baie “letterkundiges” wat romans en kortverhale gedurende die 1960’s en 1970’s bestudeer het, wou op soortgelyke wyse probeer om algemene reëls en strukture bloot te lê waarvolgens alle stories vertel word. Die betekenis van spesifieke verhale of romans het nie aandag ontvang nie. Algemene reëls is byvoorbeeld vir plotstrukture gesoek: wat is die basiese maniere waarop gebeurtenisse gerangskik kan word sodat dit ’n storie maak? In watter volgorde kan gebeurtenisse aangebied word? Wat is die basiese vereistes vir ’n gebeurtenis? Daar is ook modelle opgestel vir karakters: wat is die basiese “rolle” wat karakters in vertellings kan vul? (Moet daar ’n protagonis wees, ’n teenstaander of ’n helper?) Verder is onderliggende strukture ook gesoek ten opsigte van die wyse waarop vertel word: word dit chronologies vertel of deur gebruik te maak van terugflitse en vooruitwysings? Word daar in fyn besonderhede vertel, of sommer opsommenderwys? Wie vertel? Is die verteller betroubaar?

LEES OOK:So skryf ‘n wenner (hopenlik nie!)

Hierdie soort ondersoeke is “strukturalisme” genoem. Die gevolg van hierdie soort strukturalistiese ondersoeke is dikwels ’n benoeming, ’n beskrywing van die onderliggende struktuur van ’n roman of kortverhaal, en lei nie noodwendig tot ’n meer bevredigende interpretasie daarvan nie en dit het by sommige mense die indruk gewek dat literatuurstudie eintlik maar irrelevant vir “gewone lesers” is. Die probleem is dat strukturalistiese analises bly vassteek in die struktuur van die teks, en dalk ’n vergelyking van tekste met mekaar. Volgens ’n streng strukturalistiese opvatting kan ’n teks nie na ’n werklikheid daarbuite verwys nie – al die woorde word immers ingespan volgens die onderliggende struktuur van taal en van stories, en dit het niks met die struktuur van die wêreld daarbuite uit te waai nie.

Gevolglik het baie letterkundiges en resensente hulle weerhou van die lê van verbande met die wêreld buite die teks. Die “streng denke” van die taalwetenskap het wel ook ’n positiewe invloed op die letterkundestudie gehad, aangesien dit voorkom dat sommer enige persoonlike indrukke oor literêre tekste gemaak word. Verder is ’n fyn woordeskat ontwikkel wat as “gereedskap” aangewend kan word om tekste deeglik te ondersoek en te beskryf. Ook ander dissiplines as die letterkundestudie het gebaat by die gereedskap van die narratologie wat al meer ingespan is om na vertellings buite die letterkunde te kyk: hoe vertel getuies in die hof, of pasiënte in die dokter se spreekkamer of op die sielkundige se sofa? Hoe vertel arm mense hul stories, of rykes? Hoe vertel mans of vroue of kinders of misdadigers? Hoe word geskiedenis vertel? Hoe vertel politici of reklameagentskappe stories?

Terwyl die ander dissiplines by die winste van narratologie baat, het die letterkunde daarby gebaat dat die konteks van vertelling in spesifieke politieke, sosiale, kulturele situasies aandag begin ontvang het. Daar is aanvaar dat vertellings nie verwysingloos en konteksloos bestaan nie. Vertellings verwys na ’n wêreld, neem deel aan ’n wêreld en resensente kan nie maar net in bewondering bly staan voor die ingewikkelde spel van die teks en die interessante verwysings na ander tekste nie. As daar nie óók iets gesê word oor die wêreld waarin ons leef nie, is die studie van letterkunde en die skryf van resensies net ’n speletjie vir ’n klompie bewonderaars wat niks vir die wyer leefwêreld beteken nie.

Send this to a friend