Kies ‘n boek: kinderboeke

kjs_cowboy

Om as jongeling te lees, is nie net pret nie, maar dis ook van groot waarde, sê Willie Burger

LAPA Uitgewers se naam is nie oorspronklik afgelei van ’n grasafdak in die agterplaas langs die braaivleisplek nie, maar is eintlik ’n akroniem vir “Lees Afrikaans, Praat Afrikaans”. Hierdie uitgewer het inderdaad ook baie vermag om leesstof in Afrikaans beskikbaar te stel sodat mense in Afrikaans kan lees.

Om Afrikaanse lesers te hê, moet kinders van kleins af reeds Afrikaans lees, en in hierdie verband lewer LAPA ’n besonder waardevolle bydrae. Daar was ’n tyd toe baie ouers met reg kon kla dat daar nie baie Afrikaanse leesstof vir hul kinders is nie, maar danksy onder meer LAPA, is daar deesdae regtig baie Afrikaanse boeke waarmee jong lesers aangemoedig kan word om in hul moedertaal te leer lees. Navorsing oor taal het al oor en oor bevestig dat dit noodsaaklik is om ’n mens se moedertaal deeglik te bemeester ten einde goed te kan leer – selfs al sou ’n mens later in ’n ander taal onderrig ontvang.

Een van die hoekstene van taalbemeestering bly die ontwikkeling van leesvaardighede. Deur die lees van fiksie, doen ’n mens meer op as om bloot woorde te kan herken. Die jong leser ontwikkel die vermoë om verbande te lê, om ’n volgehoue argument te kan volg, om sin te maak uit losstaande gebeurtenisse wat beskryf word en om ’n wêreld tot stand te verbeel en om dit uit ’n ander oogpunt te kan ervaar. Daarom is dit so belangrik om kinders van vroeg af te laat lees. Twee van LAPA se jongste publikasies is op daardie jong lesers gerig wat pas hul leesvaardigheid begin ontdek:

Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die Petrolpadda en Die fantastiese avonture van Theo die kat. Soos dit vir lesers van ongeveer sewe jaar oud pas, is die lettertipe groot en duidelik leesbaar, en die verhaaltjies is kleurryk geïllustreer. Die fantastiese avonture van Theo die kat, deur Wendy Hartman en geïllustreer deur David Theron, bevat drie verhale, “Theo die biblioteekkat”, “Theo en die kattedief” en “Theo en die sirkus”, wat voorheen as afsonderlike boekies verskyn het. Hoewel die verhaaltjies taamlik stereotiep verloop – soos meestal die geval met kinderboekies is – is daar ook ’n wonderlike verbeeldingryke oomblik in “Theo en die kattedief” wanneer die dief by die biblioteek in vlug en ’n boekrak daar op hom val. Hy beland onder so baie boeke dat hy tot “binne-in iemand anders se storie gedruk word” en nie weer gewaar word nie. Sewejariges is ’n baie moeilike ouderdomsgroep om boeke voor te skryf, want dikwels is die kinders se leesvermoë ver agter die soort stories wat hulle al kan volg indien dit voorgelees word. Veral ouers wat baie vir hul kinders voorlees, sal vind dat die kinders al gesofistikeerde verhale kan volg en daarom ’n bietjie bedroë sal voel deur hierdie verhaaltjies wat soms te laf is en nie weldeurdagte plotstrukture aanbied nie. Die boekies bied wel goeie leesoefening.

Gerig op ’n effens ouer ouderdomsgroep is Fanie Viljoen se Dromers. Die verhaal volg die resep van iemand met talent (danstalent in hierdie geval) wat uit moeilike en armoedige omstandighede eintlik geen uitsig het nie. Gelukkig is daar die moontlikheid om te droom. Die dromers kry ’n geleentheid om hul drome te laat waar word, word eers byna daaruit gekul en beland in verdere verknorsing, maar uiteindelik word die droom bewaarheid, die talent raakgesien en ’n triomfantlike oomblik beleef. Die reekse gewilde dansflieks werk ook almal met hierdie resep en dit behoort vir kinders bekend te wees. Die duidelike didaktiese element sal waarskynlik weerstand by sommige lesers wek en dit is nie die soort boek wat lesers bekendstel aan die verwondering wat lees kan bied en daarom leeslus sal aanwakker nie. Dit mag wel vir sommige lesers ’n soort praktiese hulp bied – soos die hulpnommer vir mense wat alkoholverwante probleme ervaar agterin die boek.

Meer pret om te lees, is die bundel kortverhale saamgestel deur Marianna Brandt, Skool is ’n riller (uitgegee by Human & Rousseau). Marianna Brandt is bekend as skepper van Poppie-Dot en sy is onder meer verantwoordelik vir die prettige “historiese” verhaal oor die VOC en Jan van Riebeeck, Die stoutsterte: Van Texel tot Tafelbaai, en die ruimtereisverhaal van Mark Shuttleworth uit die oogpunt van ’n muis, Markus Stermuis. Haar eie werk is gewild in Afrikaans, maar word ook wyd in Engels gelees (en is selfs al in Italië vir ’n prys benoem). Brandt kan ’n grillerige spookstorie uitstekend vir jonger lesers vertel en bied die spanning van speurverhale met haar “Emma”-boeke: Emma en die geheime gang en Emma en die creepy plot. Brandt het haar kennis van rillers en speurverhale benut om ’n bundel van 20 rillerverhale in Skool is ’n riller saam te stel. Die verhale is deur ’n verskeidenheid skrywers soos onder andere Troula Goosen, Elrien Scheepers, Stephan Lategan, Eudore Allers en Antoinette Diedericks geskryf. Die byna 300 bladsye bied baie spanning en pret en is die soort boek wat van jong lesers volwasse lesers sal maak.

kjs_theokat

kjs_dromers

kjs_riller

Send this to a friend