Kies ’n boek: Asem, elf dae in Parys en Al wat ek weet

Willie Burger kyk na drie boeke vir tieners (wat hul ouers net so sal geniet!)

DEUR: Willie Burger

Soms kla mense dat daar nie Afrikaanse boeke vir tieners is nie. Natuurlik is daar nie soveel soos in Engels nie, maar jy hoef nie te dink Afrikaanse boeke het in die Keurboslaan vasgehaak nie! Hier is drie wat jy sommer dadelik vir jou tieners behoort te koop.

Jan Vermeulen se Geraamtes dra nie klere nie (2000) is destyds met die Sanlamprys, die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ‘n ATKV-kinderboektoekenning bekroon. Sy jongste roman, Asem, was die wenner van die LAPA-jeugromankompetisie. Asem gaan oor Barries Barnard wat diep in die moeilikheid beland as hy en sy vriende wild partytjie hou en, onder die invloed van drank en dwelms, ‘n verkeerskonstabel omry. As gevolg hiervan moet hy weg uit die stad, na sy pa wat op ‘nplaas by die see bly. Dit lyk soos ‘n goeie oplossing om die seun wat met ‘n bose dwelmhandelaar soos Butcher deurmekaar geraak het, uit die stad en onder sy pa se toesig te kry. Die probleem is net dat Barries sy pa haat. Sy pa het ‘n drankprobleem en het hom kleintyd geslaan voordat hy vir Barries en sy ma gelos het. Barries moet probleme met dwelms en met sy ouers te bowe kom: hy worstel met skuldgevoelens teenoor sy ma en haat vir sy pa. Dan is daar ook nog meisieprobleme, soos Olga wat haar kaal lyf saam met dwelms vir hom aanbied. Maar geleidelik kry hy juis met sy pa se hulp weer kans om asem te haal. Die cliché wil dit hê dat Parys die stad van die liefde is.

Elizabeth Wasserman se Elf dae in Parys (Tafelberg) is ‘n heerlike liefdesverhaal vir en oor tieners. Geen dwelms en geen sterftes in die gesin nie. Nietemin is die roman vol raaisels wat die leser enduit boei. Emma kry ‘n elf-dag-lange Franse kursus in Parys as ‘n16de verjaardaggeskenk van haar ouma. In die betowerende stad leer sy vir Luc ken. Maar sy ontdek ook Parys. Die roman is eintlik ‘n opwindende gids van hierdie wonderlike stad en as jy hierna nie oor liefde droom nie, sal jy ten minste oor ‘n besoek aan Parys droom.

 

Die veelsydige Marita van der Vyver het geen bekendstelling nodig nie. Sy het nie net as romanskrywer (van die grensverskuiwende Griet skryf ‘n sprokie tot romans soos Wegkomkans, Stiltetyd en Vergenoeg) naam gemaak nie, maar het ook baie lesers gewen met vertellings oor haar lewe in Frankryk (Franse briewe: pos uit Provence) met kortverhale (Stiltetyd) en ‘n boek oor kos (Winterkos in Provence). Haar boeke is al tot suksesvolle rolprente verwerk (Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom) en onlangs is Dis koue kos, Skat uitgereik. Onlangs het ek in hierdie rubriek geskryf oor Die dinge van ‘n kind wat vroeër vanjaar, 20 jaar ná die eerste verskyning daarvan, heruitgegee is. Die dinge van ‘n kind het ‘nweek of twee op my lessenaar by die universiteit gelê en byna elke student wat daar ingekom het, het dit opgewonde opgetel en uitgeroep dat dit een van hul gunstelingboeke is! Van der Vyver het ook as kinder- en jeugboekskrywer naam gemaak. Dink maar aan Olinosters op die dak, die gewilde Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom en Swemlesse vir ‘n meermin.

Met Al wat ek weet (LAPA), sleep haar taalgebruik ‘n mens van die eerste paragraaf af in. Soos Hanna Hoekom wat moeite het met haar gesin en dan in woorde troos soek, vind ook Gabriel, die hoofkarakter in Al wat ek weet, troos in woorde. Anders as wat die sielkundige wat hom aanmoedig om te skryf dalk bedoel het, skryf hy rap-liedjies. Rap (sommige mense praat van kletsrym, maar dis ‘nbietjie hardlywig vir ‘n jeugboek!) is immers dié genre wat by uitstek geskik is om woede te verwoord, en Gabriel word geleidelik deur Sasha – mooier as Sneeuwitjie – gehelp om ná sy ma se dood en talle ander terugslae weer figuurlik op die been te kom. Sy help hom ook om weer op die verhoog te rap. Sy lirieke is wonderlik. Kyk na die begin van hierdie een: Dis ‘n ou-ou storie wat ek nou gaan vertel Van ‘n beautiful girl met ‘n spierwit vel En ‘n mond moerig rooi soos ‘n druppel bloed En hare so swart soos die nag, so swart soos roet Jy ken haar van kleins af, kom ons noem haar Snow White Sy’s mooi soos ‘n prinses en boonop bright Haar mense is ryk, sy woon in ‘n paleis Met ‘n security gate, ja, daai soort huis …

Send this to a friend