Klassieke klanke: Johannesburg se International Mozart Festival | Vrouekeur

Klassieke klanke: Johannesburg se International Mozart Festival

0125-vk1-roosenschoon-web

Hans Roosenschoon

Hans Roosenschoon is vanjaar Johannesburg se International Mozart Festival se feeskomponis

Deur JOHAN MYBURG

Die 11de internasionale Mozartfees in Johannesburg (JIMF) begin Saterdag (26 Januarie) met Ein musikalischer Spass (musikale pret) as tema vir dié fees van net meer as ’n week. Dié tema is ontleen aan Mozart se Divertimento vir twee horings en strykkwartet, K. 522, wat hy in 1787 gekomponeer het.

Dié fees word sedert 2009 aangebied en val saam met die geboortedagviering van Mozart op 27 Januarie, 263 jaar gelede in Salzburg. Hoewel die tema jaarliks met die musiek van dié komponis verband hou, sluit die program ook die werk van ander komponiste in. Die werk van ’n Suid-Afrikaanse komponis word jaarliks wyer bekendgestel op die JIMF en vanjaar is Hans Roosenschoon die feeskomponis. Roosenschoon was tot einde 2017 professor in komposisie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy ’n energieke leerskool vir jonger komponiste tot stand gebring het, maar wat ook beteken het dat hy nooit ’n heeltydse komponis kon wees nie.

Nietemin is sy lys werke omvattend, die meeste daarvan vir orkes. In ’n artikel het Stephanus Muller waarderend oor Roosenschoon se werk geskryf en Timbila (1985) uitgesonder as die orkeswerk wat konseptueel die weg gebaan het vir gekomponeerde musiek in die kunsmusiektradisie wat raakpunte met Afrika-musiek soek. Dié werk, vir marimba en orkes, maak vir Chopi-marimbaspelers van die suide van Mosambiek en ’n Westerse simfonieorkes voorsiening. Sy werke vir stem sluit in Vier gebede (2004), ’n toonsetting van Van Wyk Louw se vier seisoensonnette, en Ars poetica (1979), uit Louw se Tristia, ’n werk vir koor en orkes. Maar dan het menige Unisa-student ook met sy klaviermusiek kennis gemaak – onder meer Kriek uit Goggaboek (1972), Credo (1975) en Fingerprints (1989).

LEES OOK: Klassieke klanke: Modest Moessorgski

Gramophone, die gesaghebbende Britse musiektydskrif, het jare gelede na die “sterk, meesleurende kontinentale stemme” verwys – dié van Luciano Berio, György Ligeti, Witold Lutosławski en Karl- Heinz Stockhausen – wat onderliggend aan Roosenschoon se werke is. Dit verg heelwat toewyding, het Gramophone geskryf, om bó ’n blote nabootsing van dié Europese reuse uit te troon. Roosenschoon is in 1952 in Nederland gebore en het die volgende jaar saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis. Hy het klavierles by Fred Poetzch in Pretoria geneem, aan die Universiteit van Pretoria studeer, tjelloles by Betty Pack gekry en meesterklasse in komposisie by Jeanne Zaidel-Rudolph, die eerste vrou in Suid-Afrika wat ’n doktorsgraad in komposisie verwerf het.

Anton Hartman, dirigent van die SAUK se destydse Nasionale Simfonieorkes, het Roosenschoon se musiek aanvanklik bekendgestel deur sy eerste uitvoerings daarvan. In 1976 het Roosenschoon die Samro-beurs gewen wat hom in staat gestel het om in Londen aan die Royal Academy te gaan studeer. By sy terugkeer na Suid-Afrika is hy in 1978 as Standard Bank se Jong Kunstenaar vir musiek aangewys. In 1989 het hy sy meestergraad in komposisie aan die Universiteit Stellenbosch behaal en in 1991 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad.

Benewens die feit dat hy in die buiteland aansien verwerf het – hy was in 2004 besoekende professor aan die Mozarteum in Salzburg en het in 2007 seminare oor sy musiek in Bristol en York aangebied – het Roosenschoon plaaslik ook ’n bydrae as radio-omroeper en musiekregisseur by die SAUK gelewer. Daarby het hy deurgaans vir Suid-Afrikaanse musiek in die bresse getree en was hy ook beoordelaar in verskeie musiekkompetisies. Besoek die JIMF se webblad by www.joinmozart- festival.org vir meer inligting oor Roosenschoon se deelname aan die fees, asook vir die volledige program.

Send this to a friend