Kies ’n boek: Mahale Mashigo en Sue Nyathi

intruders-web

Willie Burger kyk na die nuwe boeke van Mohale Mashigo en Sue Nyathi

Mohale Mashigo se bundel kortverhale, Intruders, bevat 12 kortverhale wat nie soseer oor indringers handel nie, maar die verhale self is as ’t ware indringers. Die verhale is indringers in die sin dat hulle kennelik fiksie is, uit die verbeeldingdingswêreld kom, en ons leefwêreld binnedring. Baie van die verhale het ’n gevoel van sprokies en sluit by die tradisie van ditshomo of volksverhale aan, maar dis volksverhale wat ons tegnologiese wêreld binnegedring het, wat as indringers uit ’n ander era vreemd voorkom, maar wat tegelyk, soos dit met volksverhale gaan, ook bekend is.

In sommige verhale word herinneringe, die verlede, op ’n roerende manier ondersoek, soos in The Parlemo (ja, dit is hoe dit gespel is, nie Palermo nie, want wie onthou alles reg?), ’n klein kafee in die middel van die stad wat, volgens oorlewering, deur ’n verloopte Italiaanse krygsgevangene gevestig is en waarheen ouer mense steeds graag gaan, maar wat intussen van naam en eienaar verander het en wat ook deur jongmense besoek word. Die kafee is ’n soort “kluis” waarin mense se herinneringe bewaar word en wanneer mens dinge vergeet het, kan jy daarheen terugkeer om herinnerings uit die kluis op te diep.

Mashigo sluit by stadslegendes van ons eie tyd en by eietydse gebeurtenisse aan. Die verhale is vol van die jongste modes en tegnologie, maar terselfdertyd is daar elemente van ’n magiese wêreld van reuse wat kinders wil eet en slim ma’s wat hul kinders probeer beskerm. Die konsep van “magiese realisme” kom onwillekeurig by mens op, maar hierdie is nie dieselfde soort magiese realisme as wat in Suid-Amerikaanse fiksie voorkom nie. Dit is eg Suid-Afrikaans en ’n oorspronklike en ondermynende mengsel van die bekende en die onbekende. Mashigo het reeds in 2016 die UJ-debuutprys vir haar roman The Yearning gewen (in Junie 2016 op dié blad bespreek (https:// www.vrouekeur.co.za/funksie-artikels/kiesn- boek-the-yearning).

In daardie roman het die invloed van die verlede ook ’n belangrike rol gespeel en sy is in sommige van hierdie kortverhale weer met die verlede gemoeid. Sy stel egter in die voorwoord ook duidelik dat die verhale eintlik oor die toekoms gaan. Die voorwoord dra die titel: Afrofuturism: Ayashis’ Amateki. “Afrofuturism” is ’n begrip wat deur Afrika-Amerikaners gebruik word om fiksie te beskryf waarin hulle as ’n uitgeslote minderheidsgroep as tuis en toonaangewend in ’n tegnologies-gevorderde toekoms uitgebeeld word (soos Black Panther). Mashigo wil nie die begrip oorneem nie en redeneer dat dit onvanpas in ons situasie is. Soos wat té klein tekkies ’n mens se voete laat brand, so pas die Amerikaanse begrip nie presies haar behoefte en wat sy met haar verhale ten doel stel nie.

Sy wil bekende, nommerpas tekkies aantrek, en dit behels ’n aansluiting by haar bekende wêreld ten einde die toekoms te verken. Sy wil die rol van tegnologie in die toekoms verken die moontlikheid dat tegnologie slegs bevoorregte mense gaan baat en dat die meeste uitgesluit daarvan sal moet leef (soos Yuval Harari ook in sy beskouing van die volgende eeu beweer in Homo Deus – bespreek in Mei (https://www.vrouekeur. co.za/nuus-vermaak/homo-deus). Moshigo se verhale betower met hul sprokiesagtige vertelwyse, maar hulle gee insig in ons leefwyse omdat hulle in die realiteit geanker is. Die verhale is ondersoekend, gerig op moontlike toekomstige maniere van bestaan, maar met sekere waardes en ’n eie identiteit wat nie verlore durf raak nie, wat juis ’n sinvolle bestaan in ’n tegnologies gevorderde wêreld moontlik maak. (Uitgegee deur Picador)

LEES OOK: Kies ‘n boek: The Courage to be Disliked

Byna die hele wêreld word tans deur massa- immigrasie gekonfronteer. Beelde van toue Siriese vlugtelinge, oorlaaide bote vol desperate vlugtelinge uit Afrika, ’n groeiende groep arm mense wat uit Venezuela oor die grens na Brasilië stroom en die “optog” van desperate mense wat die Amerikaanse grens uit Mexiko nader (terwyl Donald Trump meer soldate op die grens ontplooi as wat in Sirië diens doen), is daagliks op ons TVskerms en in koerante te sien. In ons eie land kry die meeste van ons daagliks met immigrante uit ons noordelike buurstate, veral uit Zimbabwe, te doen.

Die een probleem met sulke groot migrasies van mense, meestal deur geweld, vervolging of ekonomiese ineenstortings veroorsaak, is dat mens daaraan as “die immigrasieprobleem” dink, aan die getalle, die ekonomiese impak, en nie meer raaksien nie dat dit individuele mense is wat om verskillende persoonlike redes op vlug slaan, desperaat om ’n beter lewe te probeer vind. Sue Nyathi, skrywer van The Polygamist (2012), se nuwe roman, The Gold-diggers, vertel die verhale van ’n groepie Zimbabwiërs wat in 2008, tydens die ineenstorting van Zimbabwe se ekonomie, om verskeie redes in ’n Toyota Quantum op pad is na Suid-Afrika – na die Goudstad.

Verhale oor mense wat na Johannesburg gaan om daar hul fortuin te vind, het ’n lang tradisie in Suid-Afrikaanse letterkunde: die sogenaamde Jim-goes-to-Joburg-literatuur (dink aan FA Venter se Swart pelgrim, Arthur Fula se Jôhannie giet die beeld, Alan Paton se Cry, the Beloved Country). Nyathi se roman sluit hierby aan en haar vertellings oor die verskillende individue is soms hartroerend en dikwels hartverskeurend. (Uitgegee deur Pan Macmillan) 

golddiggers-web

Send this to a friend