PG du Plessis: ’n Meesterverteller

PG_du plessis klein

PG du Plessis is op 7 Junie 2017 ná ʼn stryd met prostaatkanker oorlede. Hy het ʼn wonderlike literêre nalatenskap gelos.

Lees hier wat ons boekresensent Willie Burger in 2014 oor sy werk geskryf het

PG du Plessis was verantwoordelik daarvoor dat die woord “beswaard” ’n baie spesifieke betekenis in Afrikaans gekry het. Die manier waarop Genis in Du Plessis se geliefde Koöperasiestories die woord “beswaard” gebruik het (eers in die kortverhale, maar later ook in die TV-reeks), behels meer as bloot die woordeboekbetekenis van beswaard as “bekommerd” of “gegrief”. In Genis se stroewe mond het “beswaard” ’n hele klomp bagasie bygekry wat iets van ’n lewensinstelling oordra, ’n hele geskiedenis van blindelingse vashou aan dogma, van sobere afwysing van alle plesier.

Teen die tyd wat die gewilde Koöperasiestories op Donderdag (1980) verskyn het, het Du Plessis egter reeds ’n Hertzogprys vir drama verower. In 1972 het die Hertzogprys gegaan aan wat later seker een van die bekendste Afrikaanse dramas sou word: Siener in die suburbs. ’n Jong Sandra Prinsloo en Marius Weyers het in 1971 vir hul spel in Siener bekendheid verwerf. Meer as 30 jaar later het dieselfde akteurs weer in dieselfde drama gespeel – hierdie keer nie in die rolle van die jong Tiemie en die roekelose Jakes nie, maar as “Ma” en “Giel”, die “oues van dae” in dié beroemde drama.

LEES OOK: Nuwe produk om water te bespaar

Siener in die suburbs was Du Plessis se tweede drama (Die nag van legio het in 1969 verskyn). Dit speel af in een van die minder gegoede Johannesburgse woonbuurte in die vroeë 1970’s toe daar nog ’n paar ducktails oor was. Die brose Tjokkie, wat met “die helm gebore is”, word teen sy sin gedwing om te “sien” – om verskeie mense se vrae oor die toekoms (of verlede) te beantwoord. Giel, die man wat by Tjokkie se ma woon (die pa het nooit uit die oorlog teruggekeer nie), wil hê Tjokkie moet “sien” watter perd die resies by Turffontein gaan wen, sodat hy geld op die regte perd kan verwed om uit sy finansiële verknorsing te kom. Jakes, die tawwe motorfietsryer – ’n “operator” wat “gepay” het – dwing uiteindelik vir Tjokkie om te “sien” wie regtig die pa van Tiemie (Tjokkie se suster) se kind is. Wat Tjokkie uiteindelik sien, is nie heeltemal eenduidig verstaanbaar nie, maar die gevolge daarvan, die manier waarop verskillende mense daarop reageer, is skrikwekkend.

Deur die jare is Siener in die suburbs dikwels voorgeskryf en telkens weer opgevoer sodat dit seker een van die bekendste dramas in Afrikaans is. Tiemie, die mooi jong meisie uit die suburbs, se woorde teenoor haar ma bly tot vandag toe ontroerend. Sy vertel van die mense by haar werk en sê dat daardie mense nie eens van hul bestaan in die “suburbs” weet nie. Tiemie sê vir haar ma: “Ek wil van geweet wees.” PG du Plessis se hele oeuvre (dramas, kortverhale en romans) word telkens gekenmerk deur hierdie soort lewenswysheid en insig in die menslike psige.

LEES OOK: Willie Burger kyk na vier lekkerleesboeke

Die gewilde TV-reeks van so ’n paar jaar gelede Feast of the Uninvited het talle kykers ontroer juis omdat daar soveel menslikheid in elk van die karakters, Boere en Britte, is. Die Afrikaanse romanverwerking hiervan het ’n blitsverkoper geword. Daar word vertel dat PG in ’n stadium sy skrywersloopbaan met ’n tuinier vergelyk het. Die tuinier het eers rose gekweek, sou Du Plessis vertel, en toe hy ’n besonder mooi roos gekweek het, het al die kenners kom kyk en vir hom ’n prys gegee omdat hy so ’n mooi roos gekweek het. Toe besluit die tuinier om pampoene te kweek. En toe hy ’n reusagtige skoupampoen kweek, kom kyk al die kenners, maar hulle trek hul neuse op en maak die pampoen met een snedige opmerking af: “Dit is nie ’n roos nie!” Met dié vertelling het hy laat blyk dat sy werk deur die “kenners” met die Hertzogprys vereer is, maar toe hy daarna besluit om nie meer daardie soort “hoë literatuur” te skryf nie, maar eerder iets soos Koöperasiestories, is dit nie deur die kenners erken vir wat dit is nie.

Enigeen wat egter Du Plessis se ander werk sedert Siener lees, sal dadelik moet erken dat hy ’n meesterverteller is met ’n ongelooflike oor vir dialoog, maar veral dat sy werk deur ’n diep mensekennis en ’n deernis met menslike foute gekenmerk word wat die leser telkens ontroer. Een van die onvergeetlikste verhale in Afrikaans is juis een van die Koöperasiestories waarin die verstandelik gestremde seuntjie, wat nooit met die volwassenes op die klein dorpie praat nie, telkens een van die volwassenes se hand kom skud en groet. In die nag of dag daarna sterf daardie volwassene. Die gevolg is dat hierdie arme kind al hoe meer vermy word en deur die hele gemeenskap uitgeskuif word. Die ouer (beswaarde) inwoners van die dorp vermy die kind tot elke prys, wil van hom ontslae raak en isoleer hom nóg meer. Maar dan kom groet die seun tóg vir Genis. Genis bly die hele nag wakker om die dood af te weer. Teen dagbreek verneem hy dat die seun in die dam verdrink het en dit is duidelik dat hy self, en die hele dorp, aan hierdie dood aandadig is.

Send this to a friend