Kies ‘n boek: Boereverneukers en Onaantasbares

boereverneukers

Dit is dié tyd van die jaar wat jy solank boeke moet bymekaarkry om die vakansie te lees. Dalk wil jy ’n paar boeke vir Kersgeskenke aankoop. Willie Burger gee idees

Almal, so wil dit lyk, hou van stories oor skelms. Veral vermetele en sjarmante skelms wat daarin slaag om mense te bedrieg, is baie gewild. Boeke, flieks en TV-reekse oor die mafia, oor waaghalsige rooftogte, swendelary en smokkelary bly gewild.

Izak du Plessis se boek, Boereverneukers, is op hierdie skynbaar onversadigbare mark vir nuuskierigheid oor skelms en hul stories gerig. Hy trek die net egter nouer en in plaas van die stereotipiese skurke uit Amerikaanse flieks wat met Italiaanse of vreemde Russiese aksente praat of wat ’n Latyns-Amerikaanse voorkoms het, is al sy skurke Afrikaanssprekendes.

In Boereverneukers word die stories van 14 Afrikaanssprekende swendelaars vertel (eintlik meer as 14, as ’n mens ook die skurke se vriende, wat dikwels breedvoerig by die stories betrek word, in ag neem). Sommige is huishoudelike name. Wie kan byvoorbeeld die “kubuskoning” van die 1980’s, Adriaan Nieuwoudt, vergeet? Ander skurke is minder bekend, soos Scotty Smith of Martin Radloff. Party lesers sal dalk die wenkbroue lig omdat die president van die ou ZAR, Paul Kruger, ook as ’n “boereverneuker” bespreek word. Hy word immers in geskiedskrywing as boereheld beskryf. Soos egter reeds in verskeie ander publikasies aangetoon is, het “oom Paul” byvoorbeeld korrupte tenderpreneurskap aangewend meer as ’n eeu voordat die verskynsel algemeen onder die Zuma-regering geword het. (Dink byvoorbeeld aan Carel van der Merwe se studie oor Eugene Marais, Donker stroom, waarin breedvoerig geskryf word oor Marais se pogings om Kruger se korrupsie te onthul).

Skurke se lewens word dikwels geromantiseer, en die swierige lewenstyl wat sommige swendelaars lei, dra daartoe by dat party boewe soms ook as sjarmante helde voorgehou word. Du Plessis probeer om deurgaans ’n nugter blik te gee en slaag soms daarin om deur ironie sulke geromantiseerde beelde te ondermyn. Die boek word opgedra aan joernaliste wat deur hul onverdrote arbeid dikwels die mense is wat onwettige bedrywighede blootlê en skurke ontmasker. Du Plessis se navorsing steun ook swaar op die werk van joernaliste en sommige van die stories word hoofsaaklik uit koerantberigte opgebou.

Hierdie is lekkerleesstories vir die vakansietyd. Jy kan ’n paar van die feite onthou en vriende daarmee vermaak wanneer julle kuier. Die styl is ook een van ’n gemaklike storievertelling langs die braaivleisvuur. Ongelukkig dra die styl ook daartoe by dat party van die stories nie juis samehangend is nie. In ’n poging om boeiend te vertel, word chronologie meestal vermy, wat natuurlik ’n treffende vertelstyl in ervare hande kan wees, maar ongelukkig lei dit soms tot ’n moeilik volgbare, ietwat onsamehangende vertelling. Hoewel ’n slordigheid van vertelling en taalgebruik hinderlik is, is dit ’n ideale boek vir peuselleeswerk tydens brokkies leestyd. Interessant genoeg duik die naam van Steve Hofmeyr in Boereverneukers op wanneer Du Plessis die “Godfather van die Wes-Rand”, Ralph Haynes, se storie vertel. Volgens Du Plessis se beskrywing, het Hofmeyr partytjies by Haynes bygewoon en is soms in (gesteelde) luukse voertuie van Haynes gesien. Dalk het Hofmeyr se kontak met Haynes se onderwêreld hom gehelp om ’n spannende misdaadroman te skryf.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Die laaste wals

Die onaantasbares is ’n besonder bedrewe misdaadroman waarmee Hofmeyr bewys dat hy nie slegs ’n celebrity is wat probeer om ook ’n boek te skryf en sy bekendheid uitbuit om dan die boek te bemark nie. Almal wat met hierdie soort agterdog na Hofmeyr se misdaadromans kyk, moet hul vooroordeel laat staan en gaan lees. Hofmeyr kán skryf.

Die onaantasbares is die aksiebelaaide verhaal van ’n huurmoordenaar wat as “die Sluiper” bekendstaan. Hy was eers ’n huursoldaat, maar word dan ’n baie suksesvolle huurmoordenaar. ’n Suksesvolle huurmoordenaar moet ’n koel kop hou en onbetrokke bly om alles so helder en eenvoudig as moontlik te hou. As hy egter verlief raak, verander alles. Die intrige is vol talle onverwagte wendings en die vaart neem die leser op sleeptou – soos dit in hierdie genre behoort te wees. Die temas van wraak en mense wat in hul eie onaantasbaarheid glo, word dikwels in misdaadromans ondersoek. Maar Hofmeyr doen iets meer as om net die resep van hierdie genre te volg. Die taalgebruik is vol interessante afwisseling en daar is skreeusnaakse tonele, ten spyte van die erns. Daarom is dit ’n boeiender misdaadroman as baie ander. En Hofmeyr se Sluiper is ook filosofies ingestel met trefseker insigte soos: “Die dag wanneer begrip van jou sterflikheid oor jou neerdaal, is die dag wat jy sien dat jy nie in beheer van alles kan wees nie.”

onaantasbares

Send this to a friend