Ons gesels met: Christia Visser

christia_visser

Christia Visser is ’n veelsydige kunstenaar wat ewe tuis as akteur, sanger, danser, stemkunstenaar of skrywer is. Hierdie langbeenmeisiekind het groot planne vir die toekoms, skryf Maryke Roberts

MARYKE ROBERTS

12 vrae aan Christia Visser, wat binnekort in I, Alison te sien is:

As jy in reïnkarnasie sou glo, as wat sou jy eendag wou terugkom?

’n Kat in die Visser-huis. Ons katte word só bederf met aandag en liefde. Boonop slaap, eet en speel hulle net. Wat meer wil jy hê?

Watter akteurs in ons bedryf bewonder jy?

Ek kyk op na mense soos Nicola Hanekom, Jana Cilliers, Annamart van der Merwe, Rolanda Marais, Jana Strydom, Erika Wessels, Nicole Holm en Tinarie van Wyk Loots. Ek het ’n ellelange lys. Van hierdie mense kan ek bel en raad vra en baie van hulle ken my nie eens nie, maar sonder dat hulle dit besef, help hulle my om te verstaan watter soort aktrise ek graag wil wees.

Is daar iemand spesiaals in jou lewe?

Daar is iemand, maar dit is nog baie nuut, so ek wil nie nou te veel daaroor verklap nie. Behalwe dat hy avontuurlustig en ’n ware gentleman is.

Jy dans graag – verkies jy ’n spesifieke styl?

Ek is van kleins af baie lief vir dans en het al verskeie style gedoen. Ek geniet almal, maar my gunsteling is seker Latyns-Amerikaans. Ek het dit twee jaar op hoërskool gedoen en baie geniet. Dans is nie iets wat ek al ooit oorweeg het om professioneel te doen nie – ek dink daar is baie dansers baie beter as ek. Ek raak te gou verveeld en druk myself partykeer net ’n bietjie te ver en doen dan beserings op.

As ek ’n vriendin sou vra, wat sou hulle sê is jou beste eienskap?

Ek het hulle sommer gevra! Lojaliteit, spontaneïteit en dryfkrag is die drie wat die meeste opkom.

Hoe ontspan jy?

Soms met ’n goeie boek, soms om ’n braaivleisvuur met ’n glas wyn, soms op die dansvloer, soms ontspan die sout seewater my en soms ’n lekker fliek.

Van watter tipe flieks of reekse hou jy?

Ek is eintlik oor die algemeen baie agter met rolprente, maar ek geniet ’n goeie fliek. Ek hou van enige genre eintlik, afhangend van my bui. Ek probeer net wegbly van horrors af, my verbeelding is veels te ooraktief!

Na watter musiek luister jy?

Ek hou baie van Indie/folk/rock/country – enigiets van Mumford and Sons, Lucy Spraggan, The Staves tot Sam Hunt, Queen of Karen Zoid en Francois van Coke.

Lees jy graag en indien wel, wat?

Ek het op skool baie meer gelees as nou – die tyd is maar min. Maar ek lees graag fiksie.

Wat is op jou bedkassie?

Boeke, ’n notaboek en pen, Bybel, ’n Bluetooth-luidsprekertjie, Codependent no More deur Melody Beattie, Whiplash deur Tracey Farren en Film Art deur David Bordwell en Kristin Thompson. Ook Tabard – muskiete is mal oor my bloed – en 90% van die tyd ’n koppie koffie.

Is daar een ding aan jouself waarmee jy ontevrede is, soos jou neus of lengte?

Ek sou vreeslik graag ’n pragtige sagte, skoon vel wou hê, daar is veels te gereeld ’n puisietjie wat my kom koggel. Ek het ook die slegte gewoonte om my hare, wimpers en ooghare uit te trek, as ek moeg of gestres is. Maar oor die algemeen voel ek elke mens is mooi in sy of haar eie reg en moet trots wees daarop.

Watter woorde anker jou?

“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” – Filippense 4:13.

 

Hier is ‘n voorskou van Alison the movie, wat van 12 Augustus 2016 in alle NU METRO-rolprentteaters te sien is

[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/WIvFTrJGWCY” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

SOURCES
ROBERT HAMBLIN (Hare en grimering Colleen van Rensburg Stilering Catherine Zachariou)

Send this to a friend