Kies ‘n boek: Adam Small

Willie Burger kyk na een van ’n reeks huldigingsboeke oor Hertzogpryswenners – hierdie week is dit Adam Small

Adam Small is seker een van die bekendste en geliefdste Afrikaanse digters/dramaturge. Sy bekendheid en die waardering vir sy poësie en dramas was in die verlede soms omstrede weens die diep verdeeldheid en vooroordele wat apartheid in ons land veroorsaak het. By geleentheid het Small juis hieroor opgemerk: “Wanneer jou werk verskyn en al wat mense raaksien, is Kleurling, Kleurling, Kleurling, dan maak dit séér …”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het begin om ’n reeks huldigingsboeke oor Hertzogpryswenners uit te gee. Die eerste in hierdie beplande reeks handel, heel gepas, oor Adam Small. Adam Small: Denker, digter, dramaturg – ’n huldiging, onder die redakteurskap van Jacques van der Elst, bestaan uit 11 hoofstukke deur verskillende kenners van sy werk. Benewens ’n biografiese skets en ’n bibliografie, wat baie nuttig vir navorsers kan wees, is daar tien toeganklike bydraes deur akademici.

Talle lesers het op skool met Small se satiriese verse in “Kaaps” kennis gemaak met gedigte soos Kô, lat ons sing, Doemanie en Oppie parara, of met sy dramas, Kanna hy kô hystoe en Krismis van Map Jacobs. Toe die Hertzogprys vir Drama in 2012 aan Adam Small toegeken is, het die meeste lesers gevoel dat dit die erkenning was wat hom eintlik lank gelede, reeds in die 1960’s, toegekom het. Small het hom as digter en denker reeds in die 1950’s en 1960’s digby ander Afrikaanse skrywers en digters geskaar. Hy het byna ’n heldeverering vir NP van Wyk Louw gehad en hy was (op ’n manier) deel van die sogenaamde Sestigers, ’n groep skrywers en digters waaronder Andre Brink, Jan Rabie, Ingrid Jonker, Abraham de Vries, Bartho Smit, Chris Barnard, Etienne Leroux en Breyten Breytenbach gereken word.

Die vernuwing van die Sestigers word gewoonlik as ’n aansluiting by die modernistiese eksperimentering beskryf, met literêre tegnieke aan die een kant (wat baie mense laat dink het hul werk is “moeilik” of “vreemd”) terwyl hulle aan die ander kant ook wat temas en denkwêreld betref, wyer as die beperktheid van die heersende Afrikaner-nasionalisme en Christelikheid beweeg het (wat baie mense hul werk as volksvreemd en vyandig teen Afrikaners laat beskryf het). Hul werk het ook, veral by skrywers soos Small, Brink, Rabie en Breytenbach, ’n sterk betrokkenheid by die onreg in die gemeenskap gehad.

Small was dus werklik ’n Sestiger in die sin dat sy werk tegnies vernuwend was terwyl hy ook met sy satiriese verse ’n sterk maatskaplike betrokkenheid en verruiming van denke oor Afrikaans en die Afrikaner bepleit het. Drie van die hoofstukke fokus op Small se dramas. Hy het immers die Hertzogprys vir sy bydrae tot dié genre ontvang. Bernard Odendaal bespreek die sentrale posisie wat Small binne die Afrikaanse digkuns beklee. Steward van Wyk se beskrywing van die veranderende perspektiewe op identiteit waarmee Small deur sy lewe geworstel het, is ’n besonder insiggewende bydrae oor hierdie komplekse kwessie.

LEES OOK: Só skryf ‘n wenner ; 25 Mei 2012

Hy plaas Small se identiteitskonstruksie in die konteks van die “politieke verwikkelinge binne die bruin/Kleurlinggemeenskap”. Die idee van “Kleurlinge” is ’n skepping van die apartheidstaat wat uiteenlopende mense van diverse kulturele, historiese en godsdienstige agtergronde vir politieke en administratiewe doeleindes saamgegroepeer het. Sommige mense binne hierdie geskepte groep het aanvaar dat Kleurlinge ’n aparte etniese groep is en met die Nasionale Party saamwerk (en só ’n bevoorregte posisie bo swart mense probeer bevorder). Ander het gewoon geweier om die identiteit wat deur die apartheidsideologie op hulle afgedwing is, te aanvaar en in verset teen die etiket eerder hulself met nierassigheid identifiseer (en aangesluit by die breër verset saam met almal wat deur apartheid uitgesluit is).

Van Wyk verduidelik hoedat Small aanvanklik, in die laat 1950’s en vroeë 1960’s, probeer het om by Afrikaners aansluiting te vind. Sy beskouing was dat Kleurlinge eintlik Afrikaners is wat deur die apartheidspolitiek vervreem is. Die ontsettende vernedering en verwerping wat Small, ook persoonlik ervaar het (waaroor Hein Willemse treffend in ’n ander hoofstuk, na aanleiding van die gedig Vryheid, skryf) lei daartoe dat hy in die 1970’s eerder met die Swartbewussynbeweging identifiseer. In hierdie tydperk publiseer hy in Engels. Uiteindelik het Small in die 1990’s weer ’n versoenende houding teenoor Afrikaners ingeneem – al het hy aan die openbare lewe onttrek. In sy laaste skryfwerk sluit hy by ’n breër menslikheid (weer in Afrikaans) aan.

Small word in hierdie huldigingsbundel as digter, denker en dramaturg geëer. In ’n tyd wat boeke oor skrywers, digters en dramaturge nie dikwels uitgegee word nie, moet die Akademie geloof word vir hierdie projek om boeke oor Hertzogpryswenners die lig te laat sien. Die tydsberekening, ná die opspraak rondom die Hertzogprystoekenning aan Small (wat deur Van der Elst in ’n hoofstuk bespreek word), is goed. Onreg en foute van die verlede kan inderdaad nie reggestel word nie, maar die boek erken Small se groot bydrae tot die verruiming van die Afrikaanse letterkunde.

Send this to a friend