Trek julle saam in? Bestuur jul finansies só

finansies

Trek julle saam in? Dan’s dit tyd om jul finansies te bespreek.

Het jy en jou lewensmaat al op die punt in jul verhouding gekom waar julle gereed voel om saam in te trek? Baie paartjies wat besluit om dié stap te neem, besef hulle moet gereed wees om nuwe uitdagings in terme van die verhouding aan te pak, maar die manier hoe julle jul finansies bestuur gaan noodwendig ook verander.

“Paartjies moet nie net aan mekaar se daaglikse gewoontes gewoond raak nie, hulle moet ook besef hoe belangrik dit is om mekaar se finansiële gewoontes, waardes en bestuur te verstaan,” sê Eunice Sibiya, hoof van FNB se Verbruikersopvoeding.

Een van die grootste voordele daarvan om saam met iemand anders te woon, is dat rekeninge gedeel word en dit mens in staat stel om duurder goed te koop, soos meubels en huishoudelike toestelle.

Maar hou ook dié vyf goed in gedagte om verantwoordelike gesamentlike finansiële bestuur te verseker.

Vyf goed om te onthou wanneer paartjies besluit om saam in te trek

1. Wie is verantwoordelik vir die huur of huispaaiemente?

 

  • As julle huur kan julle die uitgawes eenvoudig elke maand gelykop deel.
  • As een persoon die huis besit – gaan die ander persoon huur betaal of nie?
  • Hoe deel julle: huishoudelike versekering, munisipaliteitsrekeninge, instandhouding, vernuwings- en restoureerwerk, ander uitgawes soos giesers wat bars?
  • Daar is nie ’n regte of verkeerde manier nie, solank albei van julle gemaklik is met jul reëlings – veral voordat julle enige groot beleggings in die huis maak.

2. Geld in – geld uit

Is jy gemaklik met jou lewensmaat se bestedings- en spaargewoontes? Dis ’n belangrike vraag, want mense verander nie sommer hul gewoontes nie.

Jy en jou lewensmaat moet ook ’n eerlike gesprek oor elkeen se finansiële posisie hê. Stel die volgende vas tydens dié gesprek:

  • Elkeen se besteebare inkomste (die bedrag geld wat jy oor het na inkomste belasting afgetrek is)
  • Die minimum bedrag wat julle tans maandeliks aan skuld betaal
  • Die totaal wat julle maandeliks betaal aan aftrekorders
  • Die bedrag wat julle maandeliks wil spaar

Onthou: Om saam te woon beteken dat beide van julle daarvoor verantwoordelik is om tot huishoudelike instandhouding by te dra.

Bespreek ook op watter goed julle geld wil spandeer omdat julle dit wil hê en op watter goed julle geld moet spandeer omdat julle dit nodig het. Wees ook eerlik oor dit waarop julle nie bereid is om te laat gaan nie – soos ’n maandelikse massering of daaglikse koppie koffie by jou gunsteling-kafee. Dit sal julle help om ’n realistiese begroting op te stel.

3. Hoe gemaak met maandelikse huishoudelike rekeninge?

Daar is verskillende maniere om maandelikse rekeninge te betaal.

  • Jy kan ’n huishoudelike rekening skep en aan die begin van elke maand geld daarin deponeer
  • Julle kan ’n lys van ál jul uitgawes maak en dit gelykop tussen julle verdeel. Dis makliker vir elke persoon om verantwoordelikheid vir spesifieke rekeninge te neem as om elke maand al jul rekeninge op te deel.
  • Lê reëls neer aangaande wat gekoop mag word en hoeveel daarop spandeer mag word met die geld in jul huishoudelike rekening.
  • Skep ook ’n spaarrekening met ’n stel reëls. Elke persoon moet maandeliks ’n bedrag geld daarin deponeer – dit kan onttrek word in noodgevalle.

 

“Wanneer jy reëls hiervoor vasstel, dink verder as die gewone uitgawes en neem gebeure soos vriende se troue in gedagte – sal julle die trougeskenk met die geld in die huishoudelike of spaarrekening koop? Dit is ook baie belangrik om mekaar verantwoordbaar te hou wanneer die reëls oortreë word,” maan Sibiya.

4. Skuld: wat is joune en wat’s nie joune nie

Dit sou ideaal wees indien elke persoon hul eie skuld kon bestuur en terugbetaal. Dinge word egter bemoeilik wanneer items saam gekoop word, veral groter items wat op winkelrekenings gekoop word.

“As julle saam iets koop, moet julle net daar en dan ooreenkom hoe julle die skuld gaan terugbetaal. Die persoon wat die geld skuld, kan ’n maandelikse afbetaling elektronies oorbetaal of die ander persoon se skuld namens hom/haar terugbetaal totdat die oorspronklike skuld afbetaal is,” sê Sibiya.

Onthou bates wat saam gekoop is beteken elke persoon kan aanspraak maak op die bate wat nie noodwendig onderverdeel kan word nie.

5. Wees realisties oor die einde van die verhouding

Wanneer mens verlief is, is dit moeilik om te dink dat julle ooit sal opbreek, maar dis baie belangrik om dit te bespreek. Besluit vooraf wie sal uittrek, wie sekere items wat saam gekoop is, sal ontvang, wie verantwoordelikheid vir troeteldiere sal neem en hoe rekeninge hanteer sal word.

Moet nooit impulsief saam intrek nie en moet dit ook nie doen omdat jy dink dis ’n goedkoper opsie nie. Maak seker dat daar ’n sekere mate van vetroue in die verhouding is.

“As jy reg voorberei, sal julle dit goed regkry om saam te woon. Daar is geen rede om finansies toe te laat om tussen julle te kom nie. Goeie finansiële beplanning en toegewydheid sal julle help om jul rykdom te groei.

Send this to a friend