Wynmaker: Johann Fourie

wynmaker_joahnn_fourie

Johann Fourie, keldermeester by KWV in die Paarl, is onlangs aangewys as die 2015 Diners Club Wynmaker van die Jaar.

Maryke Roberts

Hierdie kompetisie, wat sedert 1981 gehou word, word gereken as een van die bedryf se voorste erkennings aan wynmakers. Die toekenning fokus nie net op wyn nie, maar ook op die talent, vaardighede en toewyding van wynmakers.

Behalwe die lekker prysgeld van R50 000, ontvang die wenner twee vliegkaartjies na ‘n wynproduserende land.

Johann vier vanjaar sy 10de oesjaar by KWV en sê die wyngogga het hom erg gebyt tydens sy studies by Elsenburg, wat deur die wêreld se beste wynplase omring word. Hy het by hierdie plase aangedoen en is meegesleur deur die manier waarop die wynmakers en personeel oor wyne gepraat het: tegniese ingewikkeldheid, maar met passie en kreatiwiteit. Hy het wingerdboukunde as vak gehad, maar gou besluit om ook wynbou te studeer, wat hy by CPUT behaal het. Steeds was sy honger vir meer kennis nie gestil nie en swot hy ook wyn-besigheidsbestuur by die Universiteit van Kaapstad, sodat hy al die fasette van wynmaak kon verstaan.

Johann is getroud met Tanja, die bemarkingsbestuurder by Vrede&Lust en hulle het twee kinders, Lize (5) en Louhan (2). Lize vertel gereeld dat sy eendag saam met Pappa ‘n pienk wyn gaan maak.

Hoe voel dit om die titel van Wynmaker van die Jaar te ontvang?

Sjoe, ek was uit die veld geslaan! Om saam met mede-wynmakers na wie ek opkyk en wat my inspireer as finalis benoem te word, was klaar ‘n groot eer, so om jou naam te hoor, is ‘n skok! Dis nou al drie maande later en steeds is dit onwerklik as ek daaraan dink.

Dis ‘n wonderlike erkenning vir die werk en toewyding die afgelope paar jaar. Om wyn te maak, is nie ‘n kuns wat ´n mens ooit heeltemal bemeester nie, maar dis darem ‘n soort-van bevestiging dat jy op die regte spoor is! Die strewe na uitmuntendheid is egter nie iets wat ooit ophou nie en ek is onder geen illusie oor die hoeveelheid werk wat nog op my wag nie.

Die toekenning is ekstra spesiaal omdat dit vir ‘n pinotage was en tweedens by ‘n ongelooflike wynkelder soos KWV; nie alleen omdat pinotage die eerste wyn was wat ek as student by Elsenburg gemaak het nie, maar ook oor die KWV-verbintenis met prof AI Perold, die vader van pinotage. Ek is net passievol oor pinotage én KWV!

Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg?

Ek was nog altyd gefassineer deur die natuur. Ek het aanvanklik landbou gaan studeer met die oog op plaag- en siektebeheer. Ek hou daarvan om met plante te werk (wingerd, vrugte, groente, sitrus en so meer) maar geniet oook die biologie rondom swamme, virusse en insekte wat bestuur moet word in die verbouing van landbouprodukte. Die bestuur – hetsy chemies of biologies – bring weer die chemie na die verhaal, wat ook al van skooldae af ‘n belangstelling was. So het hierdie rigting vir my plantkunde, entomologie en chemie gebring, alles waarvan ek hou, maar dis toe eers later dat ek besef dat wynmaak presies dit alles bied en boonop die geleentheid om ook kreatief te wees! En kom ons wees nou maar eerlik, dis baie lekkerder om ‘n glas wyn te drink as ‘n eindresultaat van jou werk, as om druiwe of ‘n perske te eet!

Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee wees?

Nee wat, as ‘n ‘jong’ wynproduserende land, het ons nog só baie om te verken en te leer van ons eie terroir en dit te belyn met kultivars, wynstyle en uiteindelik wêreldklas handelsmerke. Ek geniet die uitdaging wat ons as bedryf het om ons beeld daarbuite te bou en om ‘n klein rol daarin te kan speel deur middel van ‘n gesogte handelsmerk soos KWV, is beide ‘n groot eer en verantwoordelikheid.

Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en hierdie tipe aanwysings?

By KWV gebruik ons wynkompetisies om ons werk te evalueer en te meet teen die beste daarbuite. Resultate word dan gebruik vir self-ondersoek, vergelyking, om areas van verbetering te identifiseer, te bespreek, te leer en uiteindelik ‘n weg vorentoe te beplan met die doel om voordurend te verbeter op dit wat ons reeds weet en doen. Ons is tot ‘n mate ons eie grootste kritici…

Verder gee dit ons verbruiker, maar ook onsself, die vertroue dat ons produkte, kwaliteit en die wynstyle waarna ons streef, nie net op die regte koers is nie, maar ook wêreldklas is.

Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?

Wêreldwyd is daar ‘n defnitiewe erkenning vir die handelsmerk as ‘n vooraanstaande Suid-Afrikaanse wynprodusent, wat staan vir twee fokus-eienskappe: kwaliteit ten alle koste, en erfenis. Tans is KWV 32ste gelys op die Drinks International se “World’s most admired wine brands’’, wat KWV ook die enigste SA kelder onder die Top 50 maak.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Die feit dat jy met die hele groei-en-maak-proses só naby aan die natuur beweeg. Ons het soveel diversiteit en veranderlikes, die lys is eindeloos. Geen twee jare, kultivars of wyne is dieselfde nie.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?

Saam met ander mense. Ons maak wyn om dit waaroor ons so passievol is, met ander te deel. En om die glimlag en genot wat dit bring vir vriende te sien.

Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?

Hier by KWV was dit om al ons wingerde te leer ken en ongelukkig is daar geen kortpad hier nie, dit kos meer as vyf jaar se werk en ondervinding van die verskillende wingerdblokke, kultivars en oorsprong-areas. As wynmaker moet jy weet wat elke blok jou gee, sodat jy weet hoe om dit in beide die wingerd en die kelder te bestuur, om vir jou die verlangde kwaliteit en wynstyl te gee.

Die eintlike harde werk lê nog voor; ons krap maar nog net die oppervlak van KWV se potensiaal en daar is nog sommer baie werk om te doen, wat natuurlik ‘n wonderlike voorutsig is, gegewe ons reis van aanhoudende stylistiese evolusies en voortdurende verbetering op kwaliteit jaar na jaar.

Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?

Sjoe dis moeilik, ek sou sê die hele 2015 as ‘n geheel. 2015 was ´n besonder goeie jaar vir die wynmaakspan, die beste in die geskiedenis van KWV, en wat verblydend is, is die feit dat ons in beide die plaaslike sowel as die internasionale arena goed gedoen het.

Nie was ons net die Suid-Afrikaanse produsent met die meeste goue medaljes by die Mundus Vini wynskou (Duitsland) en Concours Mondial du Bruxelles (België) nie, maar ons was vir die 5de agtereenvolgende jaar die beste wynprodusent by die 2015 Veritas-toekennings.

Verder het ons ‘n totaal van 14 goue medaljes by die Nasionale Jongwynskou verower wat vir ons drie Suid-Afrikaanse kampioenwyne, die Pietman Hugo Trofee (vir die beste produsent) en die Generaal Jan Smuts Trofee (vir die beste wyn op skou) verower het – ‘n rare verskynsels vir ‘n enkele produsent.

En dan om dit alles te kroon, die Diners Club Wynmaker van die Jaar.

Wat is die uitdagings om in 2016 ´n wynmaker in Suid-Afrika te wees?

Buiten vir moontlike droogtes en dan ‘n kleiner oes, is die ekonomie druk. Waarde vir geld raak belangriker en kleinhandel en prysdruk gaan voortduur, met ander woorde, wyn mag toenemend gekommodiseer raak. Kleiner oeste en voortgesette insetkoste mag maak dat produkte duurder raak, maar dit gaan gesubsidieer word deur die swak rand.

Soos enige ander landbousektor is dit maar uitdagend, in sekere produksiegebiede speel die koste-knyptang ‘n groter rol as in ander. Wingerd-aanplantings is ook aan die afneem as gevolg hiervan, veral in areas wat ook geskik is vir die verbouing van sitrus, appels en tafeldruiwe.

Wynverbruik bly min of meer stagnant en heelwat promosie en aktiwiteite rondom wyn en die verbruikskultuur word benodig. Dit gesê, die wynbedryf bestaan uit ‘n klomp passievolle mense wat dit al vir meer as 350 jaar doen, dus is daar by my geen twyfel nie dat ons sal aanhou om innoverend en aanpasbaar te wees en oor 350 jaar steeds hier sal wees…

Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?

Ons moet wyn, wynterminologie en wynsnobisme afbreek, vereenvoudig en meer toeganklik maak. Kreatiewe verpakking, deel van kennis en die gebruik (wynkultuur) moet gekommunikeer word. Wynmakers moet in die mark kom, die wyne skink en hul unieke stories aan die verbruikers vertel.

Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?

Dis seker die vorm van kuns en kreatiwiteit wat jou die naaste aan die natuur beweeg. Geen twee wyne kan ooit dieselfde wees nie. Gee agt wynmakers presies dieselfde druiwe en jy sal agt totaal verskillende wyne kry, na gelang van elke wynmaker se styl en persoonlikheid. Elke wyn het sy maker se unieke vingerafdruk op.

Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?

Die feit dat ons dink alle witwyne moet jonk gedrink word of van dieselfde oesjaar wees. Dit is moeilik om te weet watter witwyne goed verouder, maar as jy iemand het wat jou bietjie raad kan gee op dié gebied is verouderde witwyne soveel meer kompleks en belonend as toe hulle jonk was.

Mense kan soms só vasgevang word aan een tipe wyn en/of handelsmerk. Die lekker ding van wyn is juis die diversiteit – probeer ander onbekende kultivars van verskillende kelders en gaan so op ‘n wynreis deur die Kaapse wynlande.

Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?

Die feit dat ek nie soggens hoef op te staan om te gaan ‘’werk’’ nie. Ek beoefen elke dag my stokperdjie en passie. Buiten al die verskillende aspekte waaraan wynmakers blootgestel word (wingerd verbouing, bemarking, die wynmaak self) is ons in n dinamiese omgewing, wat vinnig beweeg en internasionaal meeding, en ek het nog altyd n bietjie van ‘n uitdaging en adrenalien geniet.

Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?

Ek het nie ´n gunstelingwyn nie, maar een wat my nogal na aan die hart lê, is ons KWV The Mentors Shiraz 2011. Die druiwe is afkomstig van ons top-rooiwynwingerd in die kelder. Ek is die aand voor ons dié druiwe oes huis toe en sê vir ons laboratorium-analis ek weet nie hoe baie ek gaan kan slaap nie, want die druiwe is nou van die een blok wat jou senuwees opjaag, juis oor die druiwe so goed is. Min het ek geweet dat dit nie die senuwees en opgewondenheid van die volgende dag se pars sal wees wat my heelnag sal wakker hou nie, maar eerder Lize wat daardie nag twee weke te vroeg gebore is!

Ek is die nag deur sonder om te slaap, die oggend 05:00 van die hospitaal af vinnig deur die stort en werk toe, druiwe gepars en wyn gemaak en daardie volgende paar dae op auto-pilot met ma en baba in die hospitaal. Waarom spesiaal? Daardie shiraz-wyn wat ek op Lize se geboortedag gemaak het, het al die pad gegaan om die SA Kampioen Shiraz by die SA Jongwynskou te word, is later gebottel onder ons vlagskip-KWV Mentors-etiket en het oor die jare ‘n hele klomp toekennings ingepalm.

Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?

Die enigte manier wat jy leer en verbeter, is deur foute te maak. Foute maak is deel van groei en vorentoe beweeg.

Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?

“A bottle of wine contains more philosophy than all the books in the world.”

Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?

Ek klop graag by ander aan vir raad. Die mense wat groot indrukke op my styl gemaak het, is mense soos Willie Burger, Henri Swiegers, Bertus Fourie, Richard Rowe, Neil Ellis en Charles Hopkins: mense wat nie prima donnas is of glo hulle is groter as die bedryf nie.

Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?

Dis baie eenvoudig, en het nie op daardie oomblik toe ek net begin werk het as assistant-wynmaker baie sin gemaak nie, maar vandag doen ek dit en besef ek hoe waar dit is! “Doen eers net die basics reg, dit alleen sal jou al ver vat…’’ – Henri Swiegers.

• Vanjaar se Jong Wynmaker van die Jaar wat in 2001 ingestel is, gaan aan wynmakers jonger as 30 jaar en die wenner vir 2015 is Philip Viljoen van Bon Courage buite Bonnievale.

SOURCES
verskaf

Send this to a friend