3 Junie 2011 – Om te verlang

As ek my selfoon se lui antwoord en met ’n vrolike “Hallo my vrien­din” begroet word, hoef ek nie eers te kyk wie my bel

As ek my selfoon se lui antwoord en met ’n vrolike “Hallo my vrien­din” begroet word, hoef ek nie eers te kyk wie my bel nie. Dis een van my vriendinne wat al 26 jaar deel van my bestaan is en al sien ons in die gejaagdheid van ons lewens mekaar nie baie nie, is dit elke keer goed om haar stem te hoor. Dit voel soos gister wat ons albei met babas, doeke en bottels besig was. Vandag is haar seun, soos my twee kinders, in hul vroeë twintigerjare en is hulle die ouderdom wat ons was toe ons mekaar leer ken het. Dis ’n wonderlike tyd in ’n mens se lewe: Jy’s vol planne, drome, ideale en entoesiasme. Baie dinge het in ons onderskeie lewens gebeur sedert ons mekaar destyds as kommervrye jongmen­se ontmoet het.

Onlangs bel sy weer om my met my ver­jaardag geluk te wens. “Ek koop elke week Vrouekeur en kan nie wag om jou brief te lees nie,” sê my lojale vriendin. “Dit hou my op hoogte van jou gemoedstoestand,” voeg sy by. Ek lag, maar skrik ook so effens. Sjoe, ek het nie gedink ek loop met my hart so op my mou dat ’n mens dit selfs in my weeklikse skrywe kan agterkom nie. Duidelik doen ek en dié week gaan ek dit nie eers probeer wegsteek nie, want waar ek hier sit en skryf, is daar ’n groot knop in my keel en ’n gat in my hart.

Ek moes gister, soos baie ander ma’s al gedoen het en nog gaan doen, my kind op die lughawe groet voor hy op ’n vliegtuig geklim het om die wye wêreld vir ’n paar jaar te gaan verken – vol planne, drome, ideale en entoesiasme. Ek kon die trane nog keer toe hy sy sussie die laaste keer vir ’n lang tyd vasgehou en getroos het nadat sy hom uit die Kaap kom groet het, maar toe dit die volgende dag op die lughawe my beurt was, was dit moeilik. Vir hom ook. Toe hy deur die hekke loop na paspoortbeheer toe, het hy dit vinnig gedoen en nie omgekyk nie. My geliefde het niks gesê nie en my net vasgehou. Hy is ook al deur die groet van ’n kind op ’n lughawe en verstaan. Op pad huis toe bel my seun om te sê als het glad verloop. Hy wag om aan boord te gaan en hy gaan nou sy foon afsit.

Terug by die huis was die herinneringe aan sy verblyf by ons voor sy reis oral te sien. Ek het sy bekende reuk in die kamer waar hy geslaap het ervaar en met ’n koppie tee op die stoep gaan sit en wag vir halftwee om aan te breek – die tyd wat die vliegtuig sou opstyg. Dit was ’n helder sonnige winterdag toe ons lughawe toe gery het, maar die wolke het nou begin saampak. Toe dink ek aan my ma, wat my so rukkie terug gebel het. “Ek sit en koffie drink by ’n koffiewinkel en verlang na jou en mis jou,” sê sy. Ek is reeds 36 jaar gelede uit die huis, maar sy verlang steeds …

Ek kan nie help om ook aan ’n ander vriendin te dink wie se dogter, kort voor haar 21ste verjaardag, in ’n motorongeluk dood is nie. “Ná vier jaar is sy die eerste gedagte in my kop as ek wakker word en saans as ek in die bed klim, is sy die laaste gedagte voor slaap my pyn wegneem,” het sy ’n ruk terug aan my gesê.

En my trane rol, omdat dit vir my so erg is om te dink sy kan nooit weer ’n foon optel en hoor “Hallo Ma” nie. Sy kan nie ’n e-pos stuur of ontvang nie en Skype gaan nie werk nie. Sy kan net verlang.

En toe … 25 voor twee hoor ek die gedreun van ’n vliegtuig waar ek op die stoep sit en na die naderende wolke kyk. Of dit regtig die vliegtuig was waarin my seun op pad was, weet ek nie, maar vir my was dit asof hy vir oulaas ’n draai kom gooi het om te sê: “Hi, Ma, ek’s oukei.” Ek het daar gesit, opgekyk na die wolke en my ore gespits tot ek niks meer kon hoor nie. En toe huil ek eers.

Dié week dink ek aan al die ouers wat kinders in die buiteland en hier het en na hulle verlang en hulle mis, maar ek dink spesiaal aan diegene wat nooit die vervulling van hul kinders se drome kan meemaak nie en so graag sou wou. Dit droog my trane sommer eensklaps.

Tot volgende keer.

Send this to a friend