Redakteursbrief: Lewe en dood loop hand aan hand

In ons Vrouekeur-familie is twee mense se ma’s onlangs ná ‘n lang lyding oorlede. Hoewel ons van die verloop van die proses bewus was, moed ingepraat en geluister het, kan nie een van ons ons in hul situasie indink nie.

En hoewel albei vriendinne geweet het wat die uiteinde gaan wees, was, en is dit nog, ‘n onbeskryflike gevoel van verlies.

Op bl 12 vertel twee vroue van die lyding van sterwende ouers en hoe pynlik dit was om dit saam met hulle mee te maak. Nie een van hulle het tydens dié ervarings aan onbenullighede in hul verhoudings met hul geliefde pa en ma onderskeidelik gedink nie. Wat hulle uitgemergel het, was die magteloosheid om die swaarkry te sien en dit nie fisiek beter te kon maak nie. Ons praat nie graag oor die dood nie. Dit kan ‘n mens bang en angstig maak. Per slot van rekening is dit nie ‘n gawe gedagte om te dink jou geliefdes, en jy, gaan sterf nie. Maar ek dink dit is belangrik dat ‘n mens in gedagte hou dat ons op ‘n dag gaan ophou asemhaal. Dit is die lewe. Ons kan dit nie beheer nie – al probeer ons – dit gee ons net die illusie van sekerheid.

My pa het verlede jaar 80 geword en vanjaar is dit my ma wat dié mylpaal bereik. Hulle is vanjaar ook 60 jaar getroud. Nie een van hulle lyk 80 nie. Trouens my pa was verlede week weer vinnig vir ‘n blitsbesoek Washington toe vir werk. Albei is gesond, helder van verstand en leef asof daar nog 80 jaar voorlê. As ‘n mens egter basiese wiskunde doen, weet hulle, en ek, ‘n verdere 80 jaar is nie ‘n realiteit nie. Maar of jy nou hierdie jaar 80 of 56 (soos ek) word, kan dit enige dag gebeur dat jou lewe of ‘n geliefde s’n tot ‘n einde kom. Ek wonder of ons nie minder sal tob oor dit wat ons pla, bekommer, bang of kwaad maak as ons besef daar is ‘n beperking op leef soos ons dit ken nie.

Iemand wat op ‘n sterfbed lê, of diegene wat langs die sterfbed staan, gaan nie kosbare energie mors op gedagtes aan ‘n moeilike kollega, of die soort motor wat in die motorhuis staan nie. Die irrelevansie van sulke gedagtes of goeters is dan glashelder. Sonder om morbied te raak, moet ons sterflikheid nie uit die oog verloor nie, want dit kan leef juis beter en makliker maak. Die enigste sekerheid in die lewe is verandering. Dood is verandering. Dit help egter nie ons bekommer ons oor veranderings wat kan of gaan plaasvind nie. Dit haal die vreugde uit die “nou”. Ek hou van wat Steve Jobs oor die dood en die lewe gesê het: “Bykans alles – alle eksterne verwagtinge, alle trots, alle vrees vir verleentheid of om te faal – dié goed verdwyn in die aangesig van die dood en los net dit wat regtig belangrik is. Om te onthou dat jy gaan sterf, is die beste manier wat ek ken om nie in die strik te trap en te dink jy gaan iets verloor nie. Jy is reeds kaal. Daar is dus geen rede vir jou om nie jou hart te volg nie.” Kom ons leef voluit terwyl ons kan, want dit gaan ophou.

Send this to a friend