Redakteursbrief: Wat maak mens se lewe die moeite werd?

eldaleen-web
Redakteur Eldaleen Hugo

Stel jou voor, jy wen miljoene en jy sterf op slag. Dis mos nou net verkeerd op soveel vlakke

Onlangs het ’n man in die Kaap ’n klein meevallertjie van R232 miljoen gekry. Hy het die lotery gewen.Doen jouself ’n guns en kyk die fliek Waking Ned Divine. Dit gaan oor iemand in ’n klein dorpie in Ierland waar die inwoners almal se doen en late ken, wat die lotery wen. Ek wil nie die storie hier bederf en vertel wat gebeur nie, maar glo my, as ek die Lotto sou wen (miskien moet ’n mens dit speel om mee te begin), gaan ek hopelik nie ook van skok die emmer skop by die hoor van die nuus nie.

Stel jou voor, jy wen miljoene en jy sterf op slag. Dis mos nou net verkeerd op soveel vlakke. Al daai geld en jy kan dit nie geniet nie. Kom ons wees nou maar eerlik, ons almal sal graag ’n meevallertjie wil wen om ’n gat of ’n paar gate toe te stop. Hoe op aarde bring ek die lotery en dit waaroor ek hierdie week wil skryf by mekaar uit? Twee artikels (bl 16 en bl 26). Ons almal ken iemand of weet van iemand wat met kanker gediagnoseer is. Dalk is jy self die een wat dié nuus moes aanhoor.

Ek weet nie van jou nie, maar die mense in my lewe wat kanker gekry het, se grootste begeerte of wens is als behalwe om ’n lotery te wen. Om gesond te word en te bly leef, is nommer een op hul lys. Vir hulle is dit baie beter nuus as om ’n lotery te wen. As mens gesond is, aanvaar jy dit maklik as vanselfsprekend. Dis eers as jy (of iemand na aan jou) regtig met ’n lewensbedreigende siekte gediagnoseer word, wat jy die waarde van gesondheid besef. Rykdom, roem en sukses lê dan ver onder op die lys van belangrike goed in jou lewe (waar dit eintlik hoort).

Ek kan jou verseker dat baie mense al hul geld sal weggee as hulle net gesond kan word. Hoekom ruk ’n ingrypende gebeurtenis soos kanker mens tot stilstand en doen jy dán ’n bestekopname van jou lewe en prioritiseer dit wat belangrik is? Wel, as jy met ’n lewensbedreigende siekte gediagnoseer word, raak jou dood noodwendig ’n groter moontlikheid as voorheen. Maar wat is die realiteit? Ons gaan almal sterf, tog leef ons dikwels asof ons vir ewig gaan leef. Ons stel uit om planne te beraam om ons drome te vervul, ons baklei met mense, ons werk nie om te leef nie, maar ons leef om te werk, ons verloor ons medemenslikheid in die proses, ons verloor perspektief en besef nie hoe broos ons lewens is en hoe jou lewe in ’n oogwink onderstebo kan draai of tot ’n einde kom nie.

Ons leef maklik onbewus. Jy kan blakend gesond wees en een oggend opstaan om oudergewoonte rykdom, roem en sukses na te jaag. En jy kan in die proses daai dag aan die einde van jou lewe kom. Plotseling. Die dood onderskei nie tussen mense nie. Die storie van rykes, armes, mooies, minder mooies, goeies, slegtes, kortes, langes, jonges, oues, slimmes en minder slimmes … se laaste hoofstuk eindig almal met … die einde. Die laaste hoofstuk is egter nie die enigste een in ons stories nie.

Dis die voorafgaande hoofstukke wat ons stories uniek maak. Dis daardie hoofstukke wat mense van mekaar onderskei. En jou lys van prioriteite in die lewe bepaal die trant van jou storie. Ek dink bo-aan die lysies van mense wat regtig al deur die dood in die gesig gestaar is, is dinge soos: geliefdes se nabyheid, vriendskap, vrede, die wonder van die heelal … elke dag. Is dit nie wat mens se lewe die moeite werd maak nie?

Send this to a friend