Sjefsprofiel: Peter Ayub | Vrouekeur

Sjefsprofiel: Peter Ayub

Peter Ayub se boek, Sense of Taste, het onlangs by Human & Rousseau verskyn.

Maryke Roberts

Hy is ’n gereelde gesig op Expresso en was ook al op Morning Live. Hy is die sjef en eienaar van Sense of Taste, een van Suid-Afrika se bekendste spysenieringsmaatskappye. Hy het al gekook vir oorlede Nelson Mandela, Jacob Zuma, Beyoncé en Jay-Z, Ruby Wax, asook verskeie internasionale sportsterre en is die mede-eienaar van Sense of Taste-kookskool.

Hy besit ook die gewilde eetplek ON A ROLL-Dog Kitchen in Kaapstad. In sy boek deel hy 22 jaar in die kombuis en al die lesse wat hy met sy wedervaringe geleer het.

Hy neem die leser aan die hand en begin by die begin: om die beste bestanddele te kry. Dan wys hy stap vir stap hoe om die beste geregte te berei. Hoofstukke kyk onder meer na hoender, bees, vark, lam, wildsvleis, vis, groente, vrugte, suiwel en organiese produkte.

Resep Kry Peter Ayub se resep vir tuisgemaakte blomkool-en-neutmuskaatsop hê – klik hier

Watter kosreuke van jou kinderdae is vir jou spesiaal? My ma se gebakte eiers, met tuisgemaakte skyfies en ai, goewermentbrood met botter. Dis nou gelukkige herinneringe.

Hoe sal jy jou kookstyl beskryf? Ongekompliseerd. Ek maak kos vir enige geleentheid, maar perfek gegeur.

As jy vier bekende mense vir ete kan nooi, wie sal jy kies? Steven Gerrard, Paul Bocuse, Annie Lennox en Richard Branson.

Wat was ’n hoogtepunt in jou loopbaan tot dusver? Om te kon kook vir die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, ook vir sangers Beyoncé & Jay Z en vir Kim & Khloe Kardashian. Maar van al hierdie hoogtepunte was Nelson Mandela die grootste.

As jy nie ’n sjef geword het nie, watter ander beroep sou jy kies en kon geniet? ’n Sokkerspeler.

Watter vyf bestanddele is vir jou noodsaaklik en sal jy nooit sonder wil wees nie? Sout, suurlemoen, botter, brandrissie en sojasous.

Wat bestel jy graag as jy gaan uiteet? Kwartel, lam, afval of eend.

Wat is trooskos vir jou? Regina pizza, want dis iets wat ek nooit maak nie en wat ek by die huis kan laat aflewer. Dan sit ek lekker agteroor met ’n koue bier en geniet dit saam met my vrou, Debs, en ons Franse bulhond, Batman.

Wat is jou gunstelingdrankie? Windhoek draught.

Wie het jou nog die beste raad gegee? Gary Rhodes wat my geleer het dat jy nooit geure moet verwar nie; dinge eenvoudig moet hou; en nie moet vergeet om kos reg te geur nie.

Wat is jou gunsteling-kosaanhaling en wie het dit gesê?Art, after all, is nothing but the cause and effect of attuning the senses, whether sight, hearing, or touch. Why, then, refuse taste its place in the genesis and triumph of art?” deur dr Edouard de Pomaine.

Wat was die grootste kombuisflater wat jy al begaan het? Ons spysenieringsmaatskappy, Sense of Taste, moes lamkasserol vir 500 mense berei. Ons het dit die dag voor die geleentheid berei en nie deeglik laat afkoel nie – iets wat van kardinale belang is in kosvoorbereiding. Toe ons die volgende dag die potte oopmaak, het dit geborrel en sleg geruik. Dit was suur en af en ons moes alles weggooi. Gelukkig was die funksie eers daardie aand en ons kon van voor begin. Daardie aand het gaste om 19:00 heerlike, vars lamkasserol geniet. Groot flater, groot koste!

Wat is tans jou gunstelingrestaurant? Natuurlik ON A ROLL-Dog Kitchen in Kaapstad, my gourmet-warmbrak-restaurant! Maar ek geniet ook Bertus Basson se Overture en Liam Tomlin se Chef’s Warehouse.

Wat is die een groot fout wat tuiskokke maak, wat eenvoudig genoeg is om reg te stel? Om te leer om elke bestanddeel reg te geur.

Wat was jou loopbaanhoogtepunt tot dusver? My kookboek is ongetwyfeld een van my trotsste oomblikke! En om die Sense of Taste-Kookskool saam met my besigheidsvennoot, sjef Angie Boyd, te begin. My derde hoogtepunt was toe Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, my gevra het om saam met haar na Turkye te reis om vir twee groot funksies met meer as 100 gaste elk te kook. Die een ete was in Istanboel en die ander in Izmir en dis gedoen om handelsbande tussen Turkye en Suid-Afrika te vestig.

Wat is jou gunstelingkookboek? My motto is “daar is nie iets soos perfekte kos nie, net die idee daarvan…” en daarom het ek so baie gunstelingkookboeke. Maar tans is ek baie mal oor Jerusalem deur Yotam Ottolenghi & Sami Tamimi.

Wat is jou gunsteling-kosbestemming? Libanon, want dis my erfenis/familie-oorsprong. Maar as ek eerlik is, is alle Midde-Oosterse lande se kos my hartskos.

As jy lui is vir kook, watter dis “bestel” jy van jou vrou? Gewis Debbie se bekende Shakshouka met baie brandrissie (haar interpretasie van die resep).

Onverwagse gaste daag op, wat maak jy vinnig vir hulle? Eerstens, moenie paniekerig raak nie. Sit lekker musiek op, gooi vir almal ’n drankie. Maar dis belangrik dat jy altyd ’n paar noodsaaklikhede in jou koskas het: droë pasta (ek verkies penne), uitstekende kwaliteit olyfolie, goeie sout soos Himalayan sout en reënboog-peperkorrels, suurlemoensap, ’n lekker sterk kaas soos gruyere of verouderde wit cheddar en vars kruie uit jou tuin. Ek het pietersielie, tiemie en grasuie in my kruietuin. Noudat almal lekker kuier, kook jy jou pasta – onthou om dit altyd al dente te doen, wat beteken dis nog ferm – spoel dit af in ’n gaatjiesbak en sit terug in die pot waar jy dit met sout, peper, twee teelepels suurlemoensap en goeie olyfolie bedruip en goed deurskud. Gooi dan van daardie verouderde gerasperde kaas en vars kruie op en geniet!

Wat was die moeilikste versoek wat jy nog in die kombuis gehad het? Ek was in Instanbul as gassjef by Asitane Restaurant (wat in Ottomaanse kookkuns spesialiseer) en die eienaar se pa het van sy belangrike gaste onthaal. Hulle het gevra of ek vyf van hul gunstelingdisse sal maak. Die vangplek was dat ek bokvleis moes gebruik. Ek het nie voorheen met bok gewerk nie en boonop was daar twee bokkarkasse, vel en al, in die kombuis! Maar met groot deursettingsvermoë en verbeelding kon ek vier en ’n half uur later – nadat ek die karkas moes skoonkry en opsny – vyf disse aak waarvan een nogal ’n bokbobotie was en almal was baie beïndruk.

Wat is jou drome vir die toekoms? Dat Sense of Taste-kookskool die beste sjefskool in Afrika sal word en dat ek ten minste nog twee kookboeke kan skryf en dat die TV-program wat in die pyplyn is, sal realiseer.

Meer inligting

• Gaan loer by www.senseoftastecookingschool.com (die kookskool), www.dogkitchen.co.za (50’s styl diner-restaurant wat in gourmet-warmbrakke spesialiseer) en www.senseoftaste.co.za (die ekslusiewe spyenieringsbesigheid).

SOURCES
Myburgh du Plessis

Send this to a friend