Hondsdolheid: die feite

Sterftes as gevolg van hondsdolheid kan voorkom word. Wees bewus van die gevare

Deur: Ansja Ferreira

Hondsdolheid is een van daardie siektes waarvan ’n mens bewus is, maar wat jy dink jou nie werklik sal raak nie. Tot jy berigte begin lees oor hondsdolheid in jou omgewing en skielik is dit nie net iets wat “ander mense” raak nie. ’n Leser vertel van haar ondervinding toe ’n verdagte hondsdol hond haar gebyt het: “Dit was ’n luilekker somersdag toe ek en my man om die blok gaan stap het,” vertel Hanlie* van Bloemfontein.
“Ek was ses maande swanger met my dogtertjie en ons het ons planne vir die Desembervakansie bespreek. Uit die bloute het daar ’n boerboel uit mense se erf gestorm en my op twee plekke op my been gebyt. Dit het vreeslik gebloei. “My man het my ongevalle toe geneem en ek het daar ’n klem-in-die kaak-inspuiting en ’n breëspektrum-antibiotikum gekry.
Die hond se eienaars het gesê hulle het die hond present gekry en dat die hond die laaste ruk baie vreemd opgetree het. Daarom kon hulle nie bevestig dat die hond wel teen hondsdolheid ingeënt was nie. My ginekoloog het besluit om die hondsdolheid-immunoglobulien tesame met die hondsdolheidentstof aan my toe te dien en het dit in sy spreekkamer gedoen.
Hierdie behandeling is nie deur my mediese fonds gedek nie en het ongeveer R5 000 beloop. Die eienaars van die hond het onderneem om dit te betaal. Die onsekerheid het my egter klaargemaak. Ek was bang dat die byt en die voorkomende behandeling my baba sou benadeel.
Gelukkig het alles goed uitgewerk en ek en my baba was gesond en niks ernstigs het verder gebeur nie. Eienaars van diere moet sorg dat hul diere se inentings op datum is.”

’n Dodelike infeksie

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word gevalle van hondsdolheid in mense in 150 lande gerapporteer. Daar word beraam dat nagenoeg 59 000 mense elke jaar aan die siekte sterf. Die meeste gevalle word in Afrika en Asië aangetref.
Ongeveer 40% van mense wat deur verdagte hondsdol diere gebyt word, is kinders onder 15 jaar oud. Elke jaar ontvang meer as 15 miljoen mense wêreldwyd voorkomende behandeling nadat hulle aan moontlike hondsdol diere blootgestel was.
Dit word beraam dat honderde duisende hondsdolheidsterftes jaarliks voorkom word. “Hondsdolheid is ’n baie ernstige, dodelike infeksie van die brein,” sê dr Jacqueline Weyer, ’n mediese wetenskaplike, verbonde aan die Sentrum vir Opkomende en Soönotiese siektes en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes. Sy verduidelik verder: “Die siekte word deur die hondsdolheidvirus veroorsaak wat hoofsaaklik deur besmette honde na mense versprei word. Die siekte het die hoogste mortaliteitsyfer van enige virusinfeksie, selfs meer as gevreesde siektes soos ebola. “Die siekte kan wel voorkom word. Voorkoming is tweeledig.
Eerstens versprei die virus nie tussen mense nie, maar oordrag van die virus is telkens van ’n besmette dier na ’n mens. As ons hondsdolheid in honde en ander diere kan beheer, sal daar dienooreenkomstig ’n laer risiko vir mense wees.
Tweedens, as mense dan wel blootgestel word, kan hondsdolheid-inentings en immunoglobulien-behandeling die persoon teen die infeksie beskerm.” As ’n persoon moontlik blootgestel is, is dit baie belangrik dat mediese advies so gou moontlik verkry word.
Die risiko vir blootstelling word gemeet aan die soort dier wat betrokke was, die hondsdolheidinentingsrekord van die dier, die toestand van die dier en die geografiese ligging waar blootstelling plaasgevind het, verduidelik Jacqueline. Sekere diere is meer geneig om hondsdolheid op te doen en te versprei.
“In Suid-Afrika word die meeste menshondsdolheidgevalle ná blootstelling aan honde teruggevoer. Hondsdolheid word gekenmerk deur verandering van temperament en gedrag, byvoorbeeld ’n dier wat gewoonlik vriendelik en toeganklik is, word baie kwaai en aggressief, en natuurlik andersom,” sê sy.
As die dier gesond voorkom en die verandering in gedragspatrone nie waargeneem word nie, is die risiko vir hondsdolheid by uitstek laag. Natuurlik word mense ook aan rondloperdiere blootgestel en dit is moeilik om te oordeel of die dier siek is of nie.
Die geneesheer wat so ’n geval ondersoek, sal vrae vra soos of die aanval met of sonder uitlokking van die dier gebeur het, om die risiko vir oordrag van die virus te bepaal. Jacqueline vertel as daar risiko vir oordrag was, sal die geneesheer ’n reeks hondsdolheid- inentings voorskryf.
In die meeste gevalle word hondsdolheid-immunoglobulien ook aanbeveel. Dit bestaan uit vooraf gevormde teenliggaampies, wat ’n mens oombliklik beskerming teen die virus bied.
Alle bytwonde word ook behandel deur die wonde skoon te maak en te ontsmet, en die geneesheer sal evalueer of antibiotika en klem-in-die-kaak-inentings ook voorgeskryf moet word. Dit is besonder belangrik dat honde en katte teen hondsdolheid ingeënt moet word.
Dit is ook wet in Suid-Afrika dat troeteldiereienaars hul troeteldiere teen die siekte moet inent.
Op hierdie manier word nie net die troeteldier teen hondsdolheid beskerm nie, maar ook die eienaar. Honde is sosiale diere en “groet” graag ander diere met fisieke kontak, dit is dus nie moeilik om te verstaan dat daar ’n risiko vir blootstelling is vir troeteldiere wat saam met jou reis nie.
As die hondsdolheid-inentingsrekord vir die troeteldier nie op datum is nie, word dit sterk aanbeveel dat die troeteldier na ’n veearts geneem word vir opvolg ten minste twee weke voordat jy met die dier reis. As die troeteldier per vliegtuig reis, behoort die diensverskaffer die inentingsertifikate van die troeteldiere te eis voordat die reis plaasvind. Maak seker dat troeteldiere se inentings op datum is.
Gevalle van hondsdolheid is al voorheen gemeld in diere wat oënskynlik nie blootgestel behoort te wees nie, soos vir troeteldiere wat in omheinde tuine aangehou word. So het ’n hondsdolheiduitbraak in die suidwestelike gedeelte van Johannesburg in 2010 onder diere versprei wat nie geënt was nie en het dit ’n jaar geneem om die uitbraak onder bedwang te bring.
Die voorkoms van hondsdolheid fluktueer van plek tot plek en oor tyd, sê Jacqueline. “Byvoorbeeld was daar vanaf April 2016 ’n toename in hondsdolheid in jakkalse in Gauteng. Die meeste van die gevalle is in die Muldersdrift-omgewing aangemeld.
Die groot bekommernis is dat die virus na honde toe sal oorspoel en daar is ook nou ’n groter risiko vir die siekte in beeste.” Dit is belangrik dat mense dus altyd op hul hoede sal wees en vir mediese hulp sal aanmeld in die geval van moontlike blootstelling en natuurlik hul troeteldiere se inentingsrekords op datum te hou,” waarsku Jacqueline.

Dit moet jy weet

Volgens Chitra Bodasing Harduth, ’n woordvoerder van ER24, is een van die kommerwekkende kwessies met betrekking tot hondbyte dat mense behandeling weier of nie behandeling wil ondergaan as beserings klein is nie. Mediese aandag is noodsaaklik as ’n voorkomende maatreël veral as die status van die dier onbekend is, sê sy. “Dit word aan die mens oorgedra hoofsaaklik deur die speeksel van ’n besmette dier (wild of mak).
Dit kan gebeur deur ’n byt, krap of wanneer die dier stukkende vel op ’n persoon lek,” sê Chitra. Hondsdolheid by die mens kan voorkom word as die korrekte voorkomende behandeling toegedien word ná blootstelling aan ’n hondsdol dier. Mense wat met die siekte besmet is en die simptome ontwikkel, oorleef egter selde aangesien daar geen doeltreffende behandeling is nie.
Ongelukkig is baie van hierdie sterftes jong kinders. Simptome kan ’n paar weke tot jare ná blootstelling aan die siekte ondervind word, insluitend hoofpyn, koors, spierswakheid, probleem om te sluk, angs, vrees vir water, verlamming en konvulsies. As ’n persoon deur ’n dier wat hulle glo hondsdol kan wees, gebyt of gekrap word, moet hulle onmiddellik die wond vir minstens 15 minute met water en seep was.
Dit is belangrik vir enigiemand wat gebyt of gekrap is, selfs in die geval van geringe beserings, om dringende mediese aandag te soek. Dit sluit as ’n voorsorgmaatreël ook volwassenes in wat die hondsdolheid-inenting ontvang het toe hulle jonk was.
Behandeling van byte hang af van die erns van die besering, asook of die hond ’n verdwaalde dier of ’n troeteldier was en of die dier ingeënt was. Die pasiënt sal behandel word gegrond op die aanname dat die hond nie ingeënt is nie as die status van die hond onbekend is of as bewys van immunisering nie voorsien kan word nie.

Voorkomende behandeling ná moontlike blootstelling aan hondsdolheid behels:

Klein krappies of skaafplekke op die oppervlak van die vel As die hond ingeënt is, word ’n tetanusinenting vir die pasiënt gegee en die wond word skoongemaak en met droë verbande bedek. As die status van die hond onbekend is of as dit nie ingeënt was nie, word ’n tetanus- én teenhondsdolheidentstof toegedien.
Dieper skrape, wonde of steekwonde Die wond moet met kraanwater gewas word en ’n met droë verband/ bedekking toegebind word. ’n Tetanusentstof sal aan die pasiënt gegee word en in gevalle waar die hond nie ingeënt is of waar dit is onbekend is, sal hondsdolheidimmunoglobulien toegedien word saam met die teenhondsdolheid-entstof. Om die kanse te verminder dat jou honde besmet word, sorg dat hulle teen die siekte ingeënt word. As jy jou hond vreemd of aggressief sien optree, selfs al word dit nie uitgelok nie, vra die hulp van professionele mense. *Skuilnaam  

Send this to a friend