Hondsdolheid: ’n Afgryslike siekte  

Hondsdolheid is steeds onder die toptienoorsake van sterftes weens aansteeklike siektes wêreldwyd. Essie Bester gee die feite  

Dit tas die brein op ’n wrede manier aan en lei byna sonder uitsondering tot die dood as dit nie betyds behandel word nie. Weet jy genoeg van dié virus wat op uitgeslape manier senuweeselle kaap en dit dan gebruik om vanaf besmette spierweefsels tot binne-in die brein te beweeg?

Gale Coleman van Zwartkrans in Gauteng, is verlede jaar in die veiligheid van haar eie huis deur ’n ratel aangeval. Haar eggenoot Dave het ook deurgeloop toe hy haar te hulp wou snel. Die ratel het heeltemal rasend net aangehou byt totdat Dave dit noodgedwonge in hul swembad moes verdrink. “Die 15 minute lange onderonsie met die ratel was loutere hel,” sê Gale.

Die Colemans moes dadelik met die voorkomende behandeling begin en intussen het die ratel positief vir hondsdolheid getoets. Daar heers steeds baie onkunde oor dié siekte wat deur senuweevesels versprei en al langer as 3 000 jaar met dierebyte verbind word. Boonop weet mense eenvoudig nie wat hulle te doen staan wanneer hulle deur ’n verdagte dier gekonfronteer word nie.

Prof Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) sê: “As jy ná só ’n voorval betyds behandeling kry, hoef jy geensins vir jou lewe te vrees nie omdat dit ’n voorkombare virale siekte is. Maar wanneer die simptome reeds teenwoordig is voordat jy mediese behandeling ontvang, is jou kanse op oorlewing skraal.”

Hondsdolheid kan op een van die volgende maniere aan ’n mens oorgedra word:

  • Wanneer ’n hondsdol dier jou byt of krap en die vel stukkend maak.
  • Wanneer ’n hondsdol dier aan ’n seerplekkie lek of die dier se speeksel in jou slymvliese (byvoorbeeld jou oog) beland.
  • In baie raar gevalle word dit van mens tot mens oorgedra. In een só ’n geval het ’n horingvliesoorplanting vanaf ’n besmette skenker hondsdolheid by die ontvanger daarvan veroorsaak.

Dis meestal ons troeteldiere, en veral ons honde, wat dit aan ons oordra. “Een van die eerste tekens van enige vorm van hondsdolheid by diere is ’n gedragsverandering,” sê dr Kobus Grobler van Bergbosdierekliniek op Rustenburg.

“Wanneer jou troeteldier ophou eet, water drink en asosiaal raak, moet jy op jou hoede wees. ’n Dier wat aan dié dolvorm ly, sal buitengewoon aggressief voorkom met skuim om die bek. Onthou egter dat ’n dier met hondsdolheid nie altyd aggressief optree nie omdat daar verskillende vorms bestaan. Tydens die stomvorm tree diere wat normaalweg wild is, mak op en stap soms doodluiters by ’n woning in. Mense probeer gewoonlik om so ’n dier te hanteer en daarom gebeur blootstelling dikwels op dié manier.”

Blootstelling kan tot ewe afgryslike simptome by die mens lei as behandeling te laat ontvang word. Ongeveer 80% van alle menslike slagoffers ontwikkel rasende hondsdolheid, terwyl sowat 20% die verlammende vorm kry. ’n Gevoel van grieperigheid met hoofpyn, spierpyn, angs, koors, braking en keelseer is van die eerste tekens by albei vorms en dit kan enigiets vanaf vier dae tot so lank as nege maande ná kontak neem voordat die siekte ontwikkel. Hoe nader die bytplek egter aan die brein is, hoe gouer sal die simptome sigbaar word.

Die rasende vorm ontwikkel verdere simptome soos hiperaktiwiteit, opgewonde gedrag en ’n vrees vir water. Verlamming tas die slukspiere aan – dit raak moeiliker om te sluk en die spiere gaan dikwels in ’n spasma wanneer daar probeer word om water te drink of selfs net by die aanhoor van lopende water.

Die verlammende vorm toon minder dramatiese verdere simptome soos spierswakheid, verlies aan gevoel en verlamming, maar die lyding is langer. ’n Diagnose kan deur dokters gemaak word deur die spoeg- en bloedmonsters, veldeeltjies en spinale vloeistof te ontleed. In albei gevalle ontwikkel brein- en rugmurgontsteking wat met tyd vererger totdat die slagoffer vyf tot sewe dae later aan asemhalingsprobleme of hartversaking sterf.

 Kinders is dikwels die slagoffers

Jeanna Giese, ’n tienermeisie van Wisconsin, het in 2004 die eerste persoon geword wat hondsdolheid kon uitoorlê. Nadat sy deur ’n vlermuis gebyt is, het sy reeds simptome van die siekte begin toon voordat die diagnose gemaak is. Sy is deur dokters in ’n kunsmatige koma geplaas wat breinaktiwiteite onderdruk en die vordering van die simptome vertraag het, terwyl antivirale middels toegedien is.

Met dié behandeling, genoem die Milwaukee-protokol, het sy geleidelik haar kragte en koördinasie herwin.

Hoewel die behandeling aanvanklik belowend gelyk het, stel verdere resultate teleur.

Graeme Anderson, ’n 29-jarige boer en kanovaarder van Underberg, wat in 2012 dieselfde behandeling ontvang het, moes uiteindelik breindood verklaar word.

Anderson het hondsdolheid opgedoen nadat ’n rondloperhond wat hy opgetel en huis toe geneem het, ’n seerplek aan sy hand gelek het.

“Dit hoef nie noodwendig ’n byt te wees nie, selfs ’n lekkie of ’n klein snytjie kan jou aansteek,” waarsku dr Malcolm de Budé, hoof van veeartsenykundige dienste in die departement van landbou, bosbou en visserye.

“In 2011 is ’n kind in Gauteng wat deur ’n hond met hondsdolheid in die oog gelek is, oorlede. Kinders se risiko is die grootste omdat hulle daarvan hou om met diere te speel en nie altyd vir ouers van byt- of krapplekke vertel nie.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is meer as die helfte van die slagoffers wat aan hondsdolheid sterf, kinders onder die ouderdom van 15 jaar.

In Suid-Afrika is ’n sesjarige dogtertjie verlede jaar tragies hiervan oorlede nadat haar ouers gedink het sy het griep. Dit was reeds te laat toe hulle haar na die hospitaal in Bloemfontein geneem het en sy is daardie selfde aand nog oorlede. “Sy is die tweede persoon in Suid-Afrika wat in 2016 dié aaklige dood gesterf het waaraan daar jaarliks wêreldwyd nagenoeg 59 000 mense beswyk,” sê Lucille. In die ander geval is ’n 16-jarige seun van KwaZulu-Natal in Januarie oorlede.

Kinders moet geleer word om nie vreemde diere te hanteer nie en ook nie wilde diere as troeteldiere aan te hou nie omdat alle soogdiere draers kan wees. Die algemeenste draers is meerkatte, mak en wilde honde, mak en wilde katte (soos die muskeljaat-, rooi- en swartpootkat), beeste, koedoes, dassies, jakkalse (soos die rooijakkals, bakoor- en maanhaarjakkals), die strandwolf, hiëna, muishond en ratel. Knaagdiere en haassoorte is uiters selde draers terwyl inseken vrugtevretende vlermuise wel kan wees. Maar dis meestal honde wat vir die verspreiding van die virus op plase, plattelandse dorpe en in woongebiede verantwoordelik is.

Dis waarom die wet ons verplig om ons troeteldiere in te ent, en seker te maak dat inentings op datum bly, sê Malcom. “Honde en katte kan hul eerste inentings reeds op drie maande ontvang, wat opgevolg moet word deur nog ’n dosis voordat hulle een jaar oud is en daarna elke drie jaar.” Dit gebeur egter nie altyd nie en daarom moet ons versigtig wees vir enige rondloperdiere. Dis veiliger om te aanvaar dat ’n dier aan hondsdolheid ly wanneer dit simptome toon en skielik byterig raak.

Ons kan hondsdolheid voorkom deur:

  • Gebruik te maak van die veilige, doeltreffende immunisering teen hondsdolheid vir mense.
  • Die wet te gehoorsaam en jou troeteldiere teen hondsdolheid te laat inent.
  • Versigtig te wees vir ’n rondloperdier, ’n siek dier of een wat vreemd optree, en verdagte gevalle dadelik by die naaste veearts aan te meld.
  • Te sorg dat wonde skoon gewas word, ’n antiseptiese middel soos etanol of jodium aangewend word en mediese hulp so gou as moontlik ná blootstelling aan ’n dier wat vermoedelik hondsdolheid het, verkry word. ’n Reeks inspuitings sal voorgeskryf word en dié maatreëls moet toegepas word, selfs by die geringste vermoede van hondsdolheid.

Hoekom so baie?

Kenners sê dat hondsdolheid steeds gedy omdat faktore soos vinnige bevolkingsgroei, die feit dat meer mense deesdae honde vir sekuriteitdoeleindes aanhou, die groter beskikbaarheid van vervoer asook verstedeliking daartoe bydra. Boonop veroorsaak onkunde en ’n gebrek aan kommunikasie tussen veeartsenykundige en mediese spesialiste dikwels dat slagoffers nie altyd die nodige behandeling ontvang nie. Dis egter die WGO se mikpunt om hondsdolheidsterftes teen 2030 wêreldwyd te elimineer. En al gaan dit nie vinnig, maklik of goedkoop wees nie, beplan veeartse om ten minste 70% van alle honde, wat die grootste gevaar vir mense in ontwikkelende lande inhou, vir ’n aantal jare in te ent.

Terwyl hondsdolheid algemeen in ontwikkelende lande in Afrika, Asië en Latyns-Amerika voorkom, is die voorkomende behandeling nie altyd vrylik beskikbaar nie en iets waarop reisigers moet let.

Suid-Afrika se probleemgebiede lê in dele van die Oos-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Bewusmaking lei tot baie positiewe resultate, selfs in KwaZulu- Natal, wat nog altyd die kwaaiste deur hondsdolheid geraak word. Voorheen het daar tot 25 mense jaarliks daaraan gesterf, terwyl die jongste statistieke ’n beduidende afname toon.

Die wrede lyding van slagoffers asook die feit dat dit meestal kinders is, maak hondsdolheid soveel afgrysliker. Boonop bly dit steeds een van die toptienoorsake van sterftes weens aansteeklike siektes wêreldwyd.

Send this to a friend