Appelstrudel

Jo-Ann Strauss is mal oor die tradisie van appelstrudel – dit is al geslagte in my man se familie en dit is die lekkerste nagereg ná ’n dag van ski! 

Die lieflike Jo-Ann Strauss hou van kosmaak, veral as haar man by is. Hulle is die perfekte kookvennote. Sy’s mal oor seekos en seekosrisotto sal haar laaste maal op aarde wees as sy kan kies. “Seekosrisotto laat my altyd aan lekker vakansies aan die Amalfi-kus in Italië dink. Ek reis graag na Italië – dis ’n ware kosmekka met pizza, pasta en risotto.”

KOOKWENKE Moenie nuwe disse probeer as jy gaste kry nie. Ek hou nie van te veel kombuisstres met baie gaste nie – ek doen dan iets makliks en maak seker daar’s genoeg lekker sjampanje.

 

Appelstrudel

4 tot 6 porsies

 

4 groen appels, geskil, ontpit en in skyfies gesny

125 ml (½ k) rosyntjies

15 ml (1 e) suurlemoenskil, fyngerasper

125 ml (½ k) suiker

5 ml (1 t) fyn kaneel

50 g (½ pakkie) gemaalde amandels

6 fillodeegvelle

100 g (1/5 blok) botter, gesmelt

30 ml (2 e) ekstra botter

250 ml (1 k) vars broodkrummels

 

Stel oond op 180 °C.

  1. Meng appels, rosyntjies, suurlemoenskil, suiker, kaneel en gemaalde amandels in mengbak.
  2. Plaas een fillodeegvel op werksoppervlak en verf met gesmelte botter. Sit volgende fillodeegvel bo-op en verf met botter. Hou so aan tot al die fillodeegvelle gebruik is.
  3. Verhit ekstra botter in braaipan. Voeg broodkrummels by en roerbraai tot ligbruin. Sprinkel broodkrummels oor fillodeeg.
  4. Skep appelmengsel op een kort kant van fillodeeg. Laat ’n 5 cm-opening aan bokant (kort kant) van fillodeeg en 2 cm aan kante (lang kante).
  5. Vou kante van fillodeeg in om appelvulsel toe te maak en rol op.
  6. Sit op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Verf nog gesmelte botter oor.
  7. Bak vir 40 minute of tot ligbruin bo-op.
  8. Laat effens afkoel. Sprinkel versiersuiker oor en sit saam met styfgeklitste room voor.

WENK Vervang rosyntjies met gedroogde bosbessies (cranberries)

 

Send this to a friend