Sjef: Jeane Morkel

Jeane Morkel is die eienaar van en uitvoerende sjef by 14 on Chartwell in Umhlanga, wat vanjaar hul vierde verjaardag vier

Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf

Jeane het Hotelbestuur by Varsity College studeer en daarna sy sjefopleiding by Fern Hill Hotel in die KwaZulu-Natalse Middellande voltooi.Hy het sy liefde vir kosmaak by sy ma gekry en noem haar tot vandag nog sy kos-mentor.

Hoe verskil hierdie restaurant van vorige restaurante waar jy gewerk het?
Behalwe die lekker disse, fokus ons op craft bier, en jenewer-mengeldrankies in ons kontemporêre kroeg en gemakskos met ’n kinkel. Daar is ook lekker vingerkos as jy net na werk wil kom vir drankies en iets om te eet.

Geniet jy dit om die restaurant te besit sowel as om die sjef te wees?
Elke dag is ’n uitdaging, mens weet nooit wat die dag mag inhou nie, maar ek hou van uitdagings.

Hoe sal jy jouself as sjef beskryf?
Passievol oor wat ek doen; ek hou van uitdagings en om ander te inspireer.

Jy het al regoor die land gewerk, hoekom geniet jy Umhlanga so baie?
Die leefwyse in Durban is so lekker en ontspanne, niks is ‘n gejaag nie en ons het die beste weer in die land.

Is daar een familieresep wat jy graag maak, wat al jare met jou familie aankom?
Ouma se soetvleis wat met lamsnek gemaak word.

Is daar iets wat jou ma maak waarvan jy net nie genoeg kan kry nie?
Ma se varklendtjops en kapokaartappels.

Wat is trooskos vir jou as jy af voel?
Pizza en Tin Roof-roomys

Wat was sover jou grootste hoogtepunte as sjef?
Ek het al vir vele bekendes gekook, waaronder sir Elton John, Michael Buble, Enrique Iglesias, James Blunt, Andrea Bocelli, Paris Hilton en Bryan Adams.

Wat eet jy graag en gereeld?
Pizza en braaivleis

Wat bestel jy as jy uiteet?
Dit hang af waar ek eet, maar gewoonlik maar ’n lekker stuk steak.

Jy is ’n alleenloper. Wat berei jy as jy vinnig iets aanmekaar moet slaan na ’n lang skof?
Ek is nie meer so alleen nie, ek het ´n wonderlike mens ontmoet. Gewoonlik maar ’n kaasbord en ’n goeie bottel wyn.

Het jy ’n gunsteling-kosgesegde?
Keep it simple and fresh

Waarsonder kan jy nie kook nie?
Knoffel, botter en room

Wat is jou gunstelingdrankie?
’n Goeie enkelmout-whisky op ys of ’n goeie bottel rooiwyn, gewoonlik ’n pinotage of merlot.

Wat bly vir jou lekker aan jou loopbaan?
Om komplimente te kry van gaste wat kom eet, is altyd maar ’n hoogtepunt van mens se dag en dit maak die ure wat ons as sjefs insit, die moeite werd.

Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om gelukkig getroud te wees en een of twee kinders te hê.

By wie het jy al die beste raad gekry?
Gewoonlik maar my ma.

Hoeveel kookboeke het jy?
Te veel om te tel!

Kyk jy kosprogramme op televisie?
So nou en dan, maar ek verkies eerder ’n lekker leesboek.

Waar was jou lekkerste tyd as sjef nog en hoekom?
By die Selborne Hotel & Spa aan die Suidkus, want ek kon twee keer ’n week gholf speel.

Hoe ontspan jy?
Op die bank met ’n goeie boek en bottel rooiwyn.

Het jy ’n groente- of kruietuin?
Ja, ’n lekker kruietuin.

Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Knoffel, tiemie en rooiwyn.

Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
Goeie droëwors

Watter gereg staan vir jou uit oor die jare (wat jy berei het, of wat jy iewers geniet het).
Die lamskenkelpastei wat ons hier by die restaurant maak. Dit is baie gewild onder ons kliënte. Ek deel die resep graag met Vrouekeur-lesers.

Sjef Jeane Morkel van 14 on Chartwell se lamskenkelpastei

Bestanddele

450 g lamskenkel
100 g komyn
100 g kaneel
1 liter rooiwyn
1 liter water
50 g vars tiemie
50 g vars roosmaryn
1 hele knoffelhuisie
1 grofgekapte ui
2 fyngekapte wortels
4 middelslag-aartappels
2 kg bereide blaardeeg (maak 6 x 150 g pastei-deksels)
2 kg bereide blaardeeg (maak 6 x 150 g pastei-deksels)
1 eier om die blaardeeg mee te verf

Metode

Voorverhit die oond tot 180 ºC.

  1. Rol die skenkel in die komyn-en-kaneel-mengsel tot dit heeltemal bedek is.
  2. Plaas op ’n bakplaat en bedek met die res van die bestanddele.Bedek met twee lae foelie, blink kant binne en rooster vir 2 – 4 ure, afhangende van die oond.
  3. Wanneer dit gaar is, haal die vleis uit die pansappe en laat rus vir 10 min. Behou die pansappe en gaar groente, want dit vorm deel van die pasteivulsel.
  4. Sit die lamskenkel, met been en al, in ’n pasteibakkie. Skep groente en pansappe in, bedek met die blaardeeg wat met eier geverf is en bak in ’n voorverhitte oond teen 180 grade vir 10 minute of tot die deeg-deksel goudbruin is.
  5. Sit voor met skyfies en rooiwyn-jus. Garneer met mikro-kruie of vars koljander.

Send this to a friend