Wynmaker: Mariëtte Stofberg

Mariëtte Stofberg

Mariëtte Stofberg is die afgelope vyf jaar die wynmaker by Stofberg Family Vineyards in die Breedekloof Wynvallei

Deur: Maryke Roberts

Foto: verskaf

Mariëtte was voorheen die wynmaker by Welbedacht Wynlandgoed, ook bekend as Schalk Burger & Sons in Wellington.

Sy het aan die Universiteit Stellenbosch BSc Agric met wingerd- en wynkunde studeer. Sy en haar man, Deon Coetzee en hul kinders Mía (4) en Daniël (1) woon op haar ouers se familieplaas in Rawsonville.

Hoekom wynmaker?

Ek het in my oupa Piet se bakkie grootgeword en saam met hom tussen die wingerde getoer en kelders besoek. Oupa was self ’n wynmaker en sy passie en liefde vir wyn is só aan my oorgedra.

Hoe het jy by die plaas beland en hoe lank is jy nou daar?

Ek het op hierdie plaas grootgeword en het eers by verskeie ander plekke gewerk voor ek die moed gehad het om vir my pa te sê ek wil plaas toe kom om ’n kelder op te sit. Ons het vyf jaar terug begin en dit was ’n onbeskryflike reis sover. My pa geniet dit om te sorg dat die druiwe reg is om die beste moontlike wyn te maak.

Watter een toekenning staan vir jou uit?

Elke toekenning gee ´n mens ´n breëborsgevoel, maar die een wat vir my uitstaan, is die Michelangelo Garagist-trofee wat ons in 2016 vir die Mía Chenin blanc 2016 gewen het. Dis ’n toekenning wat ek altyd graag wou hê en die vreugde was groot toe ons hom kry.

Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?

Kompetisies doen ongelooflik baie vir ’n onbekende handelsmerk soos ons s’n. ’n Goeie toekenning maak dat ’n koper ’n kans sal waag met ’n handelsmerk wat hulle nie ken nie. Vir my is die Michelangelo Internasional Wine and Sprits Awards heel bo-aan my lys van kompetisies, want dit word blind geproe deur ’n groot verskeidenheid internasionale beoordelaars. Ons neem elke jaar aan kompetisies deel, maar omdat ons so klein is, kan ons nie aan al die kompetisies deelneem nie. Meeste van die jare het ons ten minste een wyn wat ons vir Michelangelo, Veritas en Vitis Vinifera se toekennings inskryf.

Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?

Ek hoop dat ons met ons beeld na buite regkry om te fokus op kwaliteit-wyne en kultivars eg aan ons streek. Ons probeer ook om ’n verskil te maak aan die mense op ons plaas. Met die restaurant, bierbrouery, distilleerdery en restaurant het ons dit sover reggekry om ten minste klein verskille vir die mense te maak. Hopelik gaan ons namate ons besigheid groei, nog meer geleenthede skep vir almal om te groei.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Wyn is misterieus. Die beste gevoel is om ’n bottel wyn oop te maak, sonder om te weet wat om te verwag en dan elke wyn se storie op sy eie te leer ken.

Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?

Die wynbedryf laat geen ruimte om aan jouself of jou vermoëns te twyfel nie. Werk hard – die bedryf skuld jou niks – en vertrou jou eie oordeel.

Wat is die grootste verskil, volgens jou, om vir ’n koöperatiewe kelder te werk teenoor ’n landgoed of enkelkelder?

Ek dink die werk bly dieselfde, net die skaal daarvan verskil. Ek bring dalk 5 ton druiwe in op ’n dag en ’n ander kelder 50 ton, maar ons ure bly dieselfde, want my masjien is klein en kan minder op ’n slag hanteer. Een voordeel wat ek wel het, is dat ek nie al die druiwe moet neem nie en dus net op kwaliteit kan konsentreer.

Wat was dusver jou grootste uitdaging as wynmaker?

Om as ’n vrou my voet in die deur te kry as ’n wynmaker. Dit was moeilik om die bedryf te oortuig ek kan dieselfde werk as die sterker manlike wynmaker doen.

Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?

Ons het ’n suksesvolle boetiek-kelder in vyf jaar staangemaak en verskeie medaljes oor die vyf jaar verower.

Watter uitdagings staar wynmakers in 2017 in Suid-Afrika in die gesig?

Dit gaan swaar met die wynbedryf en die wynmark is ongelooflik kompeterend. Dit is ’n groot uitdaging om ’n plekkie in ’n reeds vol wynbedryf te kry.

Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?

Ons sukkel soms om in onsself en ons kwaliteit op die internasionale platform te glo. Ons gebruik in die meeste gevalle prys om onsself te onderskei, en dis verkeerd. Ons moet leer om ons eie storie, wynstyl en kwaliteit beter aan die mark te kommunikeer.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?

Méthode Cap Classique se tweede gistingsproses wat in die bottel plaasvind en gevolglik die borrels maak, is dieselfde bottel waarin die verbruiker dit koop. Elke bottel is dus ’n klein tenkie wat teen sy eie tempo klaar gis. Dis regtig towerkrag in ’n bottel.

Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?

Min Suid-Afrikaners waardeer ’n goeie MCC. Ons MCC is dieselfde standaard as die Franse sjampanje, maar tog word sjampanje steeds op die troon geplaas of word soeter vonkelwyn verkies.

Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?

Om saam met die natuur te werk om ´n produk te maak wat mense geniet en laat praat.

As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?

Daar is niks wat ek anders sou wou doen nie, wynmaak is in my bloed.

Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?

Mariëtte Chenin blanc 2015 -– die eerste wyn in ons Winemakers Signature-reeks en chenin blanc is ’n baie veelsydige kultivar wat baie goed vaar in ons Breedekloof-klimaat en -grond. Hierdie wyn is ’n baie mooi voorbeeld hiervan.

Watter wenke het jy vir mense wat bang is om te eksperimenteer met nuwe wyne?

Moenie bang wees om jou opinie te gee en vrae te vra nie, die stigma rondom wyn is onnodig. As jy eksperimenteer, sal jy dalk op iets afkom waarvan jy nooit eers geweet het jy hou nie.

Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?

Wine is constant proof that God loves us and loves to see us happy. – Benjamin Franklin

Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?

Jacques Wentzel, hy het my alles geleer van MCC maak en ek het baie respek vir hom.

Waarvan droom jy vir die toekoms?

Ek droom dat dit sal beter gaan met ons wynbedryf en gevolglik die wyndruifboere ook, sodat dit nie sal nodig wees om wingerde uit te haal en ander gewasse te plant vir ’n bestaan nie.

Send this to a friend