Wynmaker: PJ Geyer

PJ-Geyer-web

PJ Geyer is die wynmaker en wingerdboukundige by Aaldering Wynlandgoed in die Devonvallei buite Stellenbosch

Deur MARYKE ROBERTS

Foto Clifford Roberts

Hy beskryf sy wynmaakstyl as natuurlik; hy probeer die wingerd met balans, elegansie en styl in jou glas sit.

PJ is versot op sy vrou, Wilmari, wat tot onlangs ’n suksesvolle geleentheidsbeplanner was, maar hom vanjaar in die kelder as assistant-wynmaker gehelp het. Hy voorspel die 2018-oes op Aaldering gaan die beste wyne ooit maak. Hulle woon op die plaas en het twee kinders, Ettienne (5) en Emily (4).

PJ het al in sy 22 jaar as wynmaker op vyf kontinente op wynplase gewerk en is dankbaar dat hy weer sy slag in sy eie land kan wys.

Wie is jou wynmaak-helde?

Alain Moueix, my mentor. Hy het my gehelp om wyn van my kop na my hart toe te laat val.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?

Jean-Claude Berrouet, die wynmaker van Ch. Petrus; die bekendste en seker duurste wyn in die wêreld. Ek wil ’n broodjie saam met hom eet en sy swakste wyn proe …

Hoe het jou belangstelling in wyn begin?

Ek wou vir ’n vriend ’n geskenk vir sy verjaarsdag maak. Jy word 16, wat kan jy nie kry nie, maar is dan nogal belangrik? Alkohol natuurlik. Ek besluit toe om tafeldruiwe te koop en ’n wynmaker te bel vir vinnige raad. Ek moes die uitgedrukte wit sap (sommer met my Ma se lemoendrukker) in die yskas se deur sit, wat natuurlik die beweging gaan veroorsaak en die gistingsproses aanhelp. Ek het net half geluister en nie ’n gaatjie in die proppie gelos nie. Ja, dit was nogal snaaks om een oggend 02:00 ’n ontploffing in die kombuis te hoor, met die yskasdeur oopgeskiet en alles vol gissap. Dus, my eerste belangstelling was hierdie plofbare chemie.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?

Swartland Koöp in 1995. Ek het op een van die presse gewerk. Verstaan tog, ek is van die Vrystaat. Sauvignon blanc, cabernet, en so meer het nie vir my sin gemaak nie. Ek het net gevra of dit wit of rooi is en dan die tenke volgens kleur volgemaak. Tot vandag toe weet ek nie of ek dalk verantwoordelik is vir hul eerste versnit nie. Ek is bly ek het daar begin werk, want die werksure was lank en dit was goed om my eerste bekendstelling met die waarheid hier te begin. Daarna is ek Fairview toe, daarna gaan studeer, toe Hamilton Russel, Springfield, VSA en toe Nieu-Seeland. My ware leerskool was toe ek in 2001 deur die Franse familie Moueix aangestel is om hul SA kelder oor te neem. Alain Moueix het my die ware hart en liefde vir wyn geleer. Ek het vir agt jaar heen en weer tussen Frankryk en SA gependel om daar en hier wyn te maak.

Hoe het jy in jou huidige pos beland?

Ek is een van daardie sitters wat nie sommer van werk verander nie. ’n Wynmaker moet die grond, klimaat en terroir leer ken voor jy die ware natuur in die glas kan sit. Die eienaar van die vorige plaas is skielik oorlede en hierdie plaas het ’n wynmaker benodig. Ek het ´n bietjie navorsing oor die grond en kwaliteit gedoen. Ek was onmiddellik oortuig van die kombinasie en toe ek die eienaar ontmoet, kon ek sien ons het een ding in gemeen: kwaliteit!

Jy werk op ’n pragtige wynplaas wat internasionaal bekend is. Bring dit meer of ander verantwoordelikhede na die wynmaker as met ander plase?

Ek sien my beroep amper soos ’n dokter se verantwoordelikheid en die belofte wat hulle teken. Jy moet die beste doen met wat Moeder Natuur gee en sensitief genoeg wees om te kan luister na haar fluisterende raad. Dus, ek gee nie werklik om oor die verantwoordelikheid wat op my geplaas word nie, want ek geniet dit wat ek doen, terdeë.

Hoe het jou werk oorsee jou uitkyk op die SA wynbedryf beïnvloed?

Die wêreld is klein! Ek het op elke kontinent iets besonders geleer. My wynfilosofie is gebou op my ondervinding van “never think and do; taste and feel”. Ek moet sê dat ons kwaliteit in Suid-Afrika nie vir enige land hoef terug te staan nie.

Vertel my van jou tyd oorsee?

Na my studies het ek vir twee jaar by Springfield gewerk. Ek het vinnig besef dat mens nie uit ’n boek leer wynmaak nie, maar leer terwyl jy wyn maak. Ek doen toe wild aansoek regoor die wêreld. Ek was deel van ’n uitruilprogram en het ’n pos in Washington State by Washington Hill Cellars gekry. Hier het ek vir nege maande gewerk en my oë het oopgegaan; daardie mense is groot dinkers (nie drinkers nie!). Naby die einde van my tyd daar het ek aansoek gedoen by meer as 40 kelders in Nieu-Seeland en in Auckland by Villa Maria werk gekry. Ek was ’n student en wou leer; hulle dog hulle stel ’n ervare wynmaker aan en gee my die verantwoordelikheid oor die boetiek-rooiwynafdeling. Diep kant is mos waarin ons Suid-Afrikaners glo. Ná my kontrak is ek terug SA toe, al het ek permanente poste by my vorige twee oorsese werkgewers gehad. My ouers wou my graag terughê en ’n koerant-uitknipsel vir my gegee wat ’n wynmakerspos vir Ingwe Wynlandgoed adverteer, wat ek toe kry. Ek moes twee maande in Frankryk in St. Emilion op die wynplaas CH. Fonroque deurbring. My werk was om een van hul klein kelders, CH. Moulin du Cadet, te bestuur. Dit was die weirdste onderhoud van my lewe. My werk by Ingwe het afgehang van die kwaliteit van my wyn aan die einde van die oes in ’n topgehaltekelder. Die ekonomie het hulle ná agt jaar gedwing om hul verbintenis met Suid-Afrika te stop en eerder die geld in Frankryk te belê. Ek sal nooit vergeet hoe ek en Alain Moueix plat op die kelder se sementvloer met ’n Franse brood, salami en twee fantastiese bottels wyn gesit het. Dit was na ure, die kelderdeure was gesluit en daar op die vloer verduidelik hy my die ware hart van wyn, met sy vinger wat hy in die wynglas doop en grafieke op die vloer teken.

LEES OOK: Wynmaker: Reenen Borman

Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?

As jy by die plaas inry, kan jy sien daar is kwaliteit. Dit is ontsaglik belangrik vir ons. Alles het net ’n goeie gevoel hier, van die verpakkingsmateriaal tot die vate – nie wat bekostigbaar is nie, maar die beste van die beste. My toerusting in die kelder en in die wingerd is van topgehalte. Jy moet ’n blerrie goeie wynmaker wees om swak wyn hier te maak, want dit is feitlik onmoontlik.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het, wat jy nie verwag het nie?

Wees nederig, want Moeder Natuur hou daarvan om ’n voorbeeld te maak van ’n arrogante mens. Moenie in die pad staan van haar rigtingwysers nie.

Wat beplan jy vir die volgende paar jaar?

Ek plant in 2019 vyf nuwe kultivars aan: Merlot, cabernet sauvignon, cabernet franc, petit verdot en malbec. ’n Versnit is soos ’n troue. Merlot is die vrouefiguur en cabernet is die manlike een, dus het jy meer vrou nodig as man om die balans te vind. Cabernet franc is die kultivar wat soos sampioene en aarde ruik en is dus die priester wat merlot en cabernet met mekaar trou. Alle troues het die “skoonma” spicy, zesty en bitsig, nodig, naamlik malbec (soos die Afrikaanse mal-bek) en dan: almal het ´n oupa wat op die stoep sit met sy pyp. Hy het die wêreld se raad en kan die rugstring wees as die jonges net wil luister. Dit is petit verdot. Daar het jy die perfekte versnit…

Julle fokus meestal op die oorsese mark, maar het planne vir plaaslike uitbreiding. Hoekom daardie besluit?

Jou buurman MOET weet hoe jou wyn smaak … ek dink ook dit is belangrik dat ons die kwaliteit kan deel met ons mede-Suid-Afrikaners. Dit bring trots in ons land…

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Wanneer jy by ‘n ete aankom en mense is ´n bietjie skaam aan die begin. Hou die tafel op ‘n afstand dop. Skink goeie wyn (dit moet goeie wyn wees) en sien hoe gesellig dit in ‘n oogwink raak.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?

’n Mens moenie wag vir die geleentheid nie … skep dit. Maar veral rondom ’n tafel en/of oop vuur, saam met my geliefde vrou. Dit is wanneer ons die toekoms uitlê en alles maak net sin.

Wat was tot dusver jou grootste oorwinning as wynmaker?

Om opsetlik sonder woorde voor ’n persoon te sit wat negatief oor die kwaliteit van die SA bedryf is. Na ’n proe met van ons SA wyne en geen oortuiging te gebruik nie, net om te sien hoe sy opinie verander en hy ’n volgeling van ons wyne word. Onthou, ’n wynmaker kry een keer ’n jaar kans om sy skilderdoek te skilder. Konsentrasie en beplanning is oneindig belangrik. Ek dink om elke pars suksesvol af te handel sonder dat swak beplanning die kwaliteit beïnvloed, is vir my ’n jaarlikse oorwinning…

Het jy al ’n toekenning ontvang wat jou regtig aangedaan gehad het?

Elke jaar as my vrou my wyn proe en sy hou daarvan. Ek kan sien wanneer dit vir haar ’n goeie wyn is; sy raak geselserig.

Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei?

Doen navorsing of word ingelig oor wyn en die proses. Ons het dit op ons voordeur en maak van die beste wyne in die wereld.

As jy nie ´n wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?

Seker ’n wyndrinker … ek weet nie of ek so ’n werk sou kon kry nie…

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?

Laai die toep, ViVino, op jou slimfoon af. Neem ’n foto van die etiket en lees wat die normale publiek se opinie oor die wyn is. Jy sal vinnig besef watter kultivars jou aandag trek. Begin by een kultivar en proe dan vir ten minste twee maande niks anders nie. Mettertyd gaan jy besef watter geure in daardie kultivar jou laat glimlag. Hou so aan en werk deur die kultivars.

Send this to a friend