Moet ek my bril die hele tyd dra? | Vrouekeur

Moet ek my bril die hele tyd dra?

Daar is ’n rede waarom jy ’n bril gekry het en dit is ’n mite dat jy jou oë sal verswak of lui maak as jy jou bril die hele tyd dra

Daar is ‘n rede waarom jy ‘n bril gekry het en dit is ‘n mite dat jy jou oë sal verswak of lui maak as jy jou bril die hele tyd dra sê Inge Loubser, optometris by Mellins i-Style.

Die refraktiewe status van die oog – dit wil sê of jy versiende of bysiende is of aan astigmatisme ly – word deur verskeie faktore bepaal:

  • die lengte van die oog (As die oog te lank is, veroorsaak dit bysiendheid; as die oog te kort is, veroorsaak dit versiendheid.)
  • die kurwe van die kornea, en
  • die kurwe van die oog se lens.

Om ‘n bril te dra, kan nie die lengte of kurwe van die oog verander nie. Dit beteken ‘n bril kan nie die refraktiewe status van die oog verander nie. As jy gemaklik is daarmee om ‘n bril te dra, is daar geen rede waarom jy dit nie die hele tyd kan ophou nie. Jy kan nie ‘afhanklik’ word van jou bril nie. Jy kan egter aan die duidelike sig gewoond raak en dus verkies om jou bril permanent te dra.

Hoe werk ’n lensvoorskrif? Klik hier en vind uit

Die lengte en kurwe van die oog is egter veranderlike faktore omdat die oog aanhou groei tot by puberteit.
Dit is belangrik dat kinders hul bril die hele tyd dra as dit deur hul optometris of oftalmoloog voorgeskryf is. Kinders se oë moet nog ‘leer’ om te sien. As hulle nie die regte bril dra of nie hul bril die hele tyd dra nie, kan hulle ‘n ‘lui oog’ of ambliopie ontwikkel omdat die retina ‘n onduidelike prentjie ontvang en nie gestimuleer word nie.

Baie pasiënte dink die oog is ‘n ‘spier’ wat hulle kan oefen om hul sig te verbeter. Hulle wil dus nie hul bril die hele tyd dra nie want hulle dink hul oë gaan ‘lui’ word.

Inge sê: ‘Jy kry ‘n bril om fokusprobleme reg te stel, nie om vir ‘n lui spier te vergoed nie. Dit is waarom jou oë nie lui sal word as jy permanent jou bril dra nie.’

Gaan gereeld vir oogondersoeke

Dit is belangrik om ten minste elke tweede jaar vir ‘n volledige oogondersoek te gaan. As jy ‘n bril nodig het, sal jou optometris verduidelik waarom. Mense ouer as 40 kan byvoorbeeld sukkel om op naby voorwerpe te fokus (presbiopie). In só ‘n geval het hulle dalk net ‘n leesbril nodig. Mense wat bysiende is, het dalk net ‘n bril nodig wanneer hulle bestuur of na iets in die verte kyk.

Gebruik tegnologie tot jou voordeel

Afhangende van wat jy doen, kan die opsit en afhaal van jou bril stremming op jou oë plaas of bloot onprakties wees. Multifokale lense bevat verskillende lenssterktes wat jou kan help om voorwerpe op alle afstande te kan sien.

As jy kontaklense dra en die hele dag digitale werk doen, kan ‘n akkommoderende ondersteuningsbril soos Zeiss se EnergizeMe-lense jou help. Die bril help om oë wat moeg is te laat ontspan, voorkom oogstremming en ondersteun duidelike visie.

Praat met jou optometris oor die bril wat reg is vir jou

As jy voel jou visie is nie duidelik genoeg nie, as jou oë maklik moeg word, as jy in ‘n digitale omgewing werk of as jy meer inligting nodig het oor die opsies wat vir jou beskikbaar is, praat met jou optometris.
‘Jou oë is kosbaar. Vind liewer uit hoe jou optometris jou kan help om jou sig te verbeter as om te lank uit te stel,’ sê Inge. Dit is tans Nasionale Oogsorgbewustheidsmaand van 23 September tot 18 Oktober en Wêreldsigdag op 11 Oktober, dus die ideale tyd om oogsorg en ooggesondheid te prioritiseer.

Besoek www.mellins.co.za vir meer advies en wenke oor ooggesondheid.

Send this to a friend