Wynmaker: Roelof Lotriet

Roelof Lotriet is die wynmaker by die bekende Delheim Wynlandgoed buite Stellenbosch

Deur MARYKE ROBERTS
Foto Jaap Klaver

Roelof is getroud met Laura, wat by Zest Fruit in Stellenbosch werk, waar sy die logistiek vir die uitvoermark vir sitrusvrugte hanteer. Hulle het nie kinders nie, want hul twee golden retrievers hou hulle te besig. Roelof vertel hulle woon ongelukkig nie op die plaas nie, maar met al die bergfietsroetes op en rondom Delheim, sou Laura hom nooit gesien het nie.

Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Dit was eintlik my ouers. Hulle het nog altyd ’n wyndrink-kultuur by die huis gehad met die gevolg dat dit indirek deel van my grootword was. Dit was eers in my tweede jaar op universiteit wat die gogga my regtig gebyt het.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
As ’n student was ek in die proekamer by Rust en Vrede, waar ek meestal net wyn geskink en die verskillende wyne aan gaste verduidelik het.

Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Soos hulle sê,  Iheard it through the grapevine. As ’n ikoniese plaas soos Delheim ’n wynmaker-pos beskikbaar het, versprei dit soos ’n veldbrand.

Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Ongelukkig ja, my interns noem my “Papa Bear”.

Jy werk op ’n pragtige wynplaas wat internasionaal bekend is en wie se wynmakers legendes is. Bring dit meer of ander verantwoordelikhede na jou as die wynmaker?
Dit is een van die redes waarom ek by die Delheim-span aangesluit het. Dit is vir my baie belangrik om saam met ’n wynmakery te werk wat so ’n goeie baanrekord en geskiedenis het. Ja, ek moet inderdaad groot skoene volstaan, maar dit gaan meer oor die skep van die volgende hoofstuk in die geskiedenis en om uit die verlede te leer.Dit is wat plase wat deur families besit word, so belangrik vir die wynbedryf maak. As jy ’n bottel Delheim koop, koop jy nie net wyn nie, jy koop ‘n stuk geskiedenis.

Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Ek hou nie van die woord vlagskip nie, aangesien dit dikwels gesien kan word dat ek meer van een wyn as ’n ander hou. Ek probeer om elke druppel wyn so goed as wat dit moontlik kan wees, te maak. Die wyne van die wingerdblokke ontwikkel verskillend met die gevolg dat as dit by versnitte kom, selekteer ek die blokke wat ek dink die styl van die beoogde wyn pas. Met ’n plaas wat so divers soos Delheim is, met al die verskillende areas en grondtipes, is dit moeilik om te sê dat daar een kultivar is en dat dit die pad vorentoe is.

Die cabernet sauvignon op die landgoed is uitsonderlik en net so is die chenin blanc, maar in dieselfde asem dink ek dat die Gewürtztraminer of die pinotage rose net so belangrik vir die Delheim-identiteit is. Die wingerde is altyd aan die verander en net so is die klimaat. Derhalwe kan ons vind dat die tempranillo die blok kan wees wat die beste in die toekoms doen. Ons sal altyd probeer en verbeter, maar terselfdertyd verseker dat ons die kern DNS van Delheim intak hou.  

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Ek het verskeie baie goeie mentors gehad wat vir groot name in die wynbedryf werk soos Kevin Arnold, Coenie Snyman en Miles Mossop. Elkeen van hulle het my baie geleer, maar die grootste les het meer te make met jou ingesteldheid en dat jy altyd moet poog om te verbeter.

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Stilisties het ek nie net een styl wat ek regdeur toepas nie, elke wyn verleen sigself tot ’n bepaalde styl. Ek hou daarvan om groot cabernet sauvignon-wyne te maak en sou hierdie styl beslis nie op syrah of grenache toepas nie, aangesien die styl veel eleganter moet wees. As ek een styl moes kies, sou dit wees om ‘n wyn te maak wat elegant en kragtig is, ‘n rede waarom ek van mening is dat chenin blanc so goed in Suid-Afrika vaar.

Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Ek het ‘n paar idees waarvan die meeste daarop gefokus is om te verseker dat ons vorentoe ontwikkel, maar terselfdertyd die Delheim-“ruggraat” intak hou. Ek kan nie nou te veel sê nie, maar dit gaan baie opwindend wees.

Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Dit het gewissel van ’n vegvlieënier tot ’n chemiese ingineur. Ek kom van Bloemfontein af, so om ’n wynmaker te wees, was nie regtig ’n bekende professie nie.

As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sou vir jou noodsaaklik wees?
Die “vloei” van die wynmakery. Hoe beter die vloei is, hoe doeltreffender is dit en hoe minder tyd word gebruik om wyn te prossesseer en hoe beter is die kwaliteit van die wyn.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Daar is ‘n spesiale pizza-plek in Somerset-Wes waarheen ek en my vriende die meeste naweke  gaan om pizza en wyn te geniet. Jy kan bykans enige wyn met pizza pasmaat of omgekeerd (miskien is dit hoekom dit altyd werk). Maar dit is eintlik die geselskap waarin jy jouself bevind, en vir my is ‘n leë bottel wyn iets wat ‘n storie vertel en om die storie met jou vriende en familie te deel, is onvervangbaar.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Tempranillo. Gelukkig is daar ’n wingerdblok aangeplant net voor ek by Delheim aangekom het. Dis iets waarna ek baie uitsien.

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Waarskynlik die feit dat ek bevoorreg was om goeie vriende te maak toe ek op ’n Chateau in Bordeaux gewerk en gewoon het en waar ek ’n paar jaar later my vrou om haar hand gevra het.

Wat glo jy is die uitdaging en/of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Sommige kultivars word vroeër ryp as gewoonlik en dan ons sal daardie wyne moet monitor.

Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Rookskade wat deur die brande veroorsaak word. Gelukkig het ek daarin geslaag om die wyn te laat werk en dit is ’n ervaring wat ek nie weer wil herhaal nie.

Watter een van jou pryse is jou hart se punt?
Ek het ‘n paar wyne gehad wat 5 Platter-sterre en 95 Tim Atkin-punte behaal het, maar daar is een wyn wat ek en my span daardie jaar letterlik “uit die vuur uit getrek het”. 2016 was nie my gunsteling-oesjaar nie, dit is wat hulle ’n wynmakersjaar noem as die druiwe nie noodwendig goeie wyn maak nie. ’n Blok chenin blanc wat baie belowend was, het heel onder standaard ingekom en ons het daarin geslaag om een van my gunstelingwyne te maak waaraan James Molesworth (Wine Spectator) 92 punte toegeken het.

Watter kulitvar gee jou die meeste grys hare?
Pinotage! Dit fermenteer so vinnig!

Wat pla jou aan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Ons is geneig om baie min vir wyn te betaal. Ons bedryf sal altyd internasionaal in die goedkoop en gemoedelike kategorie bly as hierdie ingesteldheid nie verander nie. Ons het uitsonderlike kwaliteit en moet hoër pryse haal.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Daar is meer aan die wêreld van wyn as sauvignon blanc en merlot. Probeer elke naweek iets anders. Indien jy twyfel, koop ’n bottel Delheim.

Watter wynmaker het die grootste indruk op jou loopbaan en lewe gemaak?
Waarskynlik Coenie Snyman van Rust en Vrede. Hy het die platform van my wynmaak-loopbaan gevorm. 

Watter wynproe staan vir jou oor die jare uit?
Yves Gangloff, hy maak volgens my die beste wyn in die wêreld. Ek was gelukkig genoeg om ’n vatproe in die Rhone-vallei saam met hom te doen en was totaal oorweldig oor hoe goed sy wyne is. 

Watter land se wynmaakpraktyke beïndruk jou die meeste?
Die Franse was nog altyd die pioniers van die wynbedryf en hou by hul tradisies – nie altyd goed nie, maar baie interessant hoe elke streek dinge verskillende doen.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Jean Louis Chave, hy moet ’n tradisie vir sy familie laat voortleef en hy produseer ook fantastiese wyne.

Send this to a friend