Wynmaker: Hugo Truter

Wynmaker Hugo Truter vertel meer oor sy passie vir wynmaak

Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf

Die wynmaker en mede-eienaar van Truter Familie Wyne buite Wellington, Hugo Truter, het ’n paar jaar gelede toevallig op ’n 30-jarige Grenache-wingerd op die kruin van Piekenierskloofpas afgekom. Hierdie ontdekking het tot die bekendstelling van Blokhuis 2016 Grenache Blanc gelei, waarvan net 300 bottels uit ’n enkelvat vrygestel is.

Dit is die eerste kultivar wat onder die Blokhuis-etiket bekendgestel is, waaruit daar jaarliks ’n aantal innoverende handgemaakte wyne voortgebring sal word. Die naam Blokhuis verwys na die behoue blokhuis buite Wellington, ’n nasionale monument wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Britse Magte opgerig is. Die blokhuis is een van ongeveer 8 000 regoor Suid-Afrika en die mees suidelike een.

Hugo en sy vrou, Celeste, beide gesoute wynmakers, het hul eerste wyn in 2010 vrygestel en albei werk sedert 2013 voltyds in die Truter Familie Wyne-besigheid.

Hoe het jy die Grenache-wingerd ontdek?
Ons as gesin hou van natuurvakansies en tydens een van die wintervakansies het ek die wingerd gesien, maar het nie besef watter kultivar dit is nie. Eers ’n paar maande later, toe ek weer in die Piekenierskloofgebied was, het hierdie blok Grenache Blanc my opgewonde laat dink dat ek daarvan wyn kan maak. Ek kon nie wag dat die druiwe ryp word vir parstyd nie, ek was oortuig dat so ‘n pragtige wingerd net so ´n uitstaande wyn sal maak. 

Wat maak jou opgewonde oor sulke vondse waarvan jy sulke unieke wyne kan maak?
Ek dink dit is die onbekende van die nuwe gebied en kultivar en net die lekkerte om te sien hoe die natuur perfek in balans kan wees. Ook omdat sekere areas baie male nie geag word as goeie wynproduserende gebiede nie en dat mens dan graag die underdog ’n kans wil gee.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
As student het ek in Durbanville by Hillcrest my eerste wingerd-ondervinding opgedoen en by Niel Ellis in Stellenbosch het ek my praktiese wynmaak-opleiding gekry. By beide hierdie plase was my leerkurwe vinnig met heelwat verantwoordelikhede. My eerste werk as wynmaker was by Swartland Kelder – ’n ou bekende in die wynbedryf.

Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Jong, hierdie storie het twee antwoorde, hang af wie jy vra. My vrou sal sê dat ek agter die liefde vir haar (en vir wyn) my inskrywing van Ingenieurswese na B.Sc. Wingerd en Wynkunde verander het. My weergawe het dieselfde uiteinde, maar die feit dat ek myself eerder in die wingerde en kelder kon sien, het ’n groot rol in my besluit gespeel.

Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Versigtig konserwatief. My wynmaakstorie is ook Celeste se storie; sy is eerder die voortvarende een – ons maak ’n baie goeie span.

Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Dis ’n moeilik vraag, maar deesdae is eko-toerisme belangrik en veral etiese praktyke in wingerd, wyn en plaas.

Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Ons soek na die perfekte rooi pasmaat vir die grenache blanc, natuurlik moet dit ook my hart vinniger laat klop, nes die grenache blanc.

Woon julle op die plaas en wat is die voor- en nadeel daarvan?
Ons woon op die dorp – Wellington – ons is die trotse eienaars van 3 rye wingerd. Ons droom van ons eie stukkie wingerd-grond waar ons die eerste generasie Truters kan wees.

Het julle kinders en indien wel, wat is hul name en ouderdomme?
Ja twee seuns, ’n tweeling, Chris en Basson. Hulle is nou 12 en is baie betrokke by daaglikse take. Dit is ’n regte familiebesigheid – almal moet help!

Vertel my van jou honde?
Thandi (Staffie) en Chivas (Jack Russel), wat verlede jaar oorlede is en Bacardi, is ons eerste kinders. Ons het hulle gekry net na ons troue (ja, al drie, sommer gelyk – in een week). Thandi se naam kom van ’n wyn af en Chivas is vernoem na Chivas Regal, terwyl die gemmerkat vernoem is na die drankie Bacardi Breezer. Hulle is altyd saam met ons en is dol daaroor om in die wingerde fisante te jaag. Die kat is meer van ’n gesofistikeerde gedierte en sal eerder saam met my op die rekenaar werk (terwyl sy die muis bekruip).

Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Ek moet bieg dat die grenache blanc my styl mooi opsom. Ek geniet die vrug wat chenin blanc gee, met die kompleksiteit en intensiteit wat mens van ’n goed gemaakte chardonnay verwag.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Pinot noir is nog vir my ’n onafgehandelde saak, ek sal dit graag eendag met die regte wingerd wil bemeester.

Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om ’n wyn-entrepreneur in ’n kompeterende bedryf te word.

Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek was die wynmaker wat die Generaal Smuts-trofee vir die Jongwyn van die Jaar in 2007 met ’n pinotage gewen het (die vorige keer wat dit met ’n pinotage gewen is, was 50 jaar vantevore) en natuurlik is ek besonder trots op Blokhuis, ’n bewys dat mens jou eie drome moet volg.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Fermentasie, fermentasie, fermentasie… een ding waarmee jy jouself lekker kan vasloop, maar dit is ook die bevredigendste proses om reg te kry, om die gisting te beheer met temperatuur-verstellings en ’n paar ander wyntruuks en dan te sien hoe dit ontwikkel na die prentjie wat jy in jou kop gehad het.

Wie is jou wynmaakhelde?
Daar is nie een spesifieke persoon nie, maar ek het heelwat wynmentors wat my deur die jare baie geleer het van die wynbedryf. Die bedryf het baie fasette en dit is ook wat dit so interessant maak om daarin te werk. Ek respekteer wynmense wat jaar in en jaar uit gehaltewyn kan lewer en vooruitgaan in die kan bedryf.

Watter foute maak mense as hulle wyn koop en by die huis stoor?
Baie keer om nie die wyn te drink nie, maar eerder te verouder bo in die klerekas teen die dak, waar dit in die somer lekker warm raak. Ek is ’n voorstander om wyne te koop en te geniet, aangesien dit telkens gebeur dat die wyn verouder en dan oor sy beste is as jy dit oopmaak. Moenie bang wees om te eksperimenteer nie en drink waarvan jy hou.

Wat maak jou opgewonde aan die toekoms vir SA wyne?
Suid-Afrika se reputasie vir hoëgehalte fynproewerswyne raak steeds beter en beter. Veral die nuwe generasie wynmense wat die grense toets met nuwe kultivars en unieke wynmaakmetodes. Ons word beslis bederf met al die enig-van-sy-soort, kleinvolume wyne wat sorgvuldig deur passievolle trendsetters gemaak word.

Send this to a friend