Wynmaker: Stuart Botha

Stuart Botha is die nuwe wynmaker by TOKARA Landgoed buite Stellenbosch

Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf

Stuart en sy vrou, Gemma, woon op die plaas en hy sê dis heerlik om midde-in ’n 18-uur-skof in oestyd te kan oorstap huis toe vir iets om te eet en om sy vrou te sien.

Hy was die afgelope tien jaar by Eagles’ Nest, wat hy van die begin help uitbou het. Om by TOKARA wyn te maak, was nog altyd sy droom en toe die pos laat verlede jaar beskikbaar word, het hy die geleentheid aangegryp.

Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ons loop regoor die wêreld wynliefhebbers raak wat die kelder die een of ander tyd al besoek het. Hulle het altyd die beste storie en herinneringe en kan nie wag om nuwe oesjare op die proef te stel nie. Ek glo TOKARA het ’n openbare beeld as ’n premium-wynprodusent en dis vir ons belangrik om daardie persepsie te handhaaf. Suid-Afrika is besig om op internasionale vlak al hoe meer naam te maak as dit kom by premiumwyne en ook teen beter pryspunte. Die bedryf het dit nodig om toekomstige volhoubaarheid te verseker en ek glo TOKARA kan hier ’n positiewe bydrae lewer.

Waar is jou belangstelling in wyn geprikkel?
Ek was 15 jaar oud toe my ouers my vir ’n uitstappie na die wynlande geneem het. Ek onthou hoe ek deur Vergelegen se pragtige landgoedtuine gestap het en daar besef het dis ’n bedryf waarvan ek graag sal wil deel wees.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het as student by Simonsberg in die proelokaal gewerk en my eerste wynmaakpos was as assistent-wynmaker by Constantia Glen.

Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Ek het by verskeie wynkelders aangedoen om beter insig in die bedryf te kry nadat ek besluit het ek wil wynmaak. Die eerste wyn wat my regtig in my spore laat stop het, was die Morgenster Estate Blend 2001. Wowzers.

Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Tokara het sy naam gevestig met sy klassieke Bordeaux-variëteite soos cabernet sauvignon en  sauvignon blanc en hul gekose versnit-vennote. Cabernet sauvignon is die koning van die druiwe op die eiendom. Dit is ongelooflik gepas om die terroir van die landgoed te vertoon. Jare se deeglike beplanning en raad van bure soos Giles Webb van Thelema, wat die wynmaak-pionier in die Banghoek-vallei was, het gemaak dat die regte variëteite van die begin af op die plaas geplant is. Ek is regtig opgewonde om te sien hoe die ouer wingerde in die toekoms sal presteer, soos ons die terroir nog beter leer ken en verstaan.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Daar is heelwat dinge, maar ek dink ’n skoon wynkelder en aandag aan die fynere detail is van die belangrikste. 

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek het nog altyd geglo dat goeie wyn sy herkoms moet vertoon en dus uniek in sy uitdrukking wees. Deur minimaal in te meng, glo ek my wyne doen juis dit. 

Hoe verskil Tokara van ander wynplase waar jy al gewerk het?           
Tokara is by verre die grootste Suid-Afrikaanse wynplaas waar ek nog gewerk het. Die plaas besit wingerde in twee verskillende streke, wat die wingerdboukundiges baie besig hou en ook verseker dat die wynkelder gedurende oestyd ’n miernes van bedrywighede is.

Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Martin Meinert.

Van watter beroep het jy op skool gedroom?
’n Botanis.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Riesling.

Wat glo jy is die uitdaging of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Om wyne te maak wat op die wêreldverhoog kan meeding.

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Om die trofee vir beste shiraz op skou te wen by die International Wine and Spirits Competition (IWSC).

Watter kultivar gee jou die meeste grys hare?
Pinot noir, en dis hoekom ek dit glad nie maak nie.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die vermoë om ’n rou produk te omskep in ’n pragtig afgeronde produk.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Probeer iets anders as wat jy altyd koop. Deur altyd dieselfde wyne te drink, verbeur jy kanse om iets ongeloofliks raak te drink.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Die wynmaker van Chateau Ausone in Saint Emillon Bordeaux, Pauline Vauthier.

Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
Ek het ’n Bordeaux-wynproe van die 1928- en 1929-oesjare meegemaak. Die wyne was verbasend goed en dit het my oë laat oopgaan.

Wat was jou uitdagendste oesjaar tot dusver en hoe was die wyne van daardie jaar?
Beslis 2009. Ek onthou die analise en druiwe se smaak van daardie jaar was absoluut handboek-perfek. As ek vandag van daardie oesjaar se wyne oopmaak, word dit weer bevestig.

Is daar ’n land waarheen jy graag reis vir hul wyne?
Ek was al in soveel wynmaak-lande, maar vanjaar reis ek na Champagne en Boergondië om meer te ontdek en nuwe juwele te vind.

Send this to a friend