Die storie agter die storie - 23 Augustus 2013 | Vrouekeur

Die storie agter die storie – 23 Augustus 2013

Willie Burger kyk vandeesweek na ‘n verhaal uit die Afrikaanse kortverhaalboek

Willie Burger kyk vandeesweek na ’n verhaal uit die Afrikaanse kortverhaalboek

Abraham H de Vries se bloemlesing van Afrikaanse kortverhale, die bekende Afrikaanse kortverhaalboek, is seker die invloedrykste versameling Afrikaanse kortverhale. Vir dekades reeds word dié bloemlesing telkens uitgebrei en aan bykans elke universiteit voorgeskryf en het dit, byna soos die gewilde Groot verseboek, ’n gesaghebbende plek ingeneem. In dié reeks oor die kortverhaalkuns gaan ons in die volgende paar aflewerings na van die verhale uit die bundel kyk. Die vroegste Afrikaanse verhaal wat in die Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem is, kom uit 1893. Die kort stukkie prosa is in die 1970’s deur Pieter W Grobbelaar ontdek in ’n aantekeningboek van Pulvermacher wat uit die 1890’s dateer. Natuurlik beteken dit nie dat dit die heel eerste keer was wat iemand in Afrikaans ’n “storie” vertel het nie. Afrikaans het teen daardie tyd al langer as ’n eeu as spreektaal bestaan – ’n “taal” wat dikwels as “afwykende Nederlands” beskou is wat deur plattelanders, slawe en onopgevoede werkers gepraat is. Dit spreek vanself dat hierdie mense, wat reeds Afrikaans gepraat het, onder mekaar ook stories sou vertel. Maar hierdie stukkie prosa uit die pen van Pulvermacher is een van die eerste pogings om prosa in Afrikaans te skryf. Pulvermacher was die skuilnaam van Adam Gabriel de Smidt (1836-1910). Sommige mense onthou dalk nog sy gedig, “Dopper Joris en zijn zijltje” wat oor al die jare een van die eerste gedigte in die Groot verseboek was. In die gediggie word vertel van die verhouding tussen Dopper Joris en Speekje: “onder een boompie bij de watersloot / Zit Speekie met haar Joris te vrij …” In ’n poging om haar te beïndruk, vertel hy haar van al sy besittings (waarvan die meeste maar erg onindrukwekkend is). Heel laaste vertel hy haar dat hy ook ’n wa besit, maar dat die wa sonder ’n seil is, en dan vra hy vir Speekje om sy hart se seiltjie te wees. Wat die hedendaagse leser eerste van die kort prosateks “Gebet van Tities Tokaan” opval, is die taalgebruik. Dit lyk nog baie na Nederlands. Die belangrike motivering vir pogings om in Afrikaans te skryf, was natuurlik ’n nasionalistiese gevoel. Heelwat Afrikaanse mense wou hulself van die Britse koloniale oorheersing distansieer deur juis nie Engels te gebruik nie, maar hulle het hulself ook nie as Nederlanders beskou nie. Om in ’n eie taal te skryf, was deel van hul poging om ’n eie identiteit te skep. “Gebet van Tities Tokaan” lyk dalk nie met die eerste oogopslag na ’n “verhaal” nie. Dit word immers as ’n “gebed” aangebied. In die gebed word God aangeroep – en soos die tradisie bepaal, word die gebed aangehef deur ’n lofprysing aan God. Maar hierna vertel “Tities Tokaan” eintlik die storie van Jeremias. Dit word uit die gebed duidelik dat Jeremias terwyl hy ’n onverskillige, sondige lewe gelei het baie teenspoed ervaar het. Hy het egter tot inkeer gekom en sy gedrag aangepas. Nietemin het dit nie daartoe aanleiding gegee dat hy nou God se seën ervaar nie. Terwyl Jeremias “in zonde was”, het sy beste voor-os gevrek en sy seuntjie het in ’n seeppot verongeluk. Hierdie terugslae word beskryf as God se manier om Jeremias tot bekering te laat kom. Jeremias kom toe inderdaad tot bekering, maar teen die verwagting in hou die teenspoed nie op nie. Eers word sy melkbokke deur die weerlig doodgeslaan en toe vreet die aasvoëls die vleis voor sy kinders weg. Die voorbidder, Tities Tokaan (’n naam wat dalk ook op Paulus se helper Titus kan dui), verduidelik dan opnuut hoe goed God vir almal is, dat die oeste belowend lyk, maar hy wys verder daarop dat Jeremias niks van God se goedheid ervaar nie. Die gebed word nou eintlik ’n klagte teen God se onregverdigheid: Jeremias het hom immers bekeer, waarom kan God hom nie maar vergewe nie? Tities redeneer dat indien die rolle omgeruil was, Jeremias vir God sou vergewe het omdat hy nie haatdraend is nie en vra dat God dieselfde moet doen. Die gebed word met ’n “Halleluja” afgesluit. Al het die “verhaaltjie” ’n ligte en spottende toon, waardeur moontlik met die eenvoudigheid van mense se beskouings van God, met die Afrikaanssprekendes se klein wêreldjie en oningeligtheid die spot gedryf word, kan ’n mens die verhaal ook as die oopmaak van ’n ernstige geloofsvraag lees en in hierdie opsig is dit ’n verhaal wat talle gevestigde opvattings oor God en godsdiens uitspel en bevraagteken. Vk

Send this to a friend