Hoe lyk jou oggend?

Is daar sekere dinge wat jy in die oggend kan doen wat jou dag makliker en vlotter kan laat verloop? Ons kry wenke

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

My oggend verloop só: Halfvyf gaan my foon se alarm af, ek stamp my foon van die bedkassie af, tel dit op, sit verkeerde dinge af, daarna probeer ek die huis se alarm afsit, druk eers verkeerde knoppie en kry dit uiteindelik af. Dan strompel ek met slaapbenewelde oë kombuis toe, begin koffie maak en pak die kinders se kosblikke.

Teen vyfuur is ek klaar en begin ek spoed optel, maak omtrent in 10 minute myself klaar en dan is ek weg op pad werk toe. Wanneer word ek wakker? Gewoonlik wanneer ek by die werk se parkeerplek indraai.

So wat kan ek doen om my dag wakkerder en positiewer te begin? Kom ons kyk.

Ek het ’n paar wenke vir ‘n goeie oggendroetine gekry:

1. Moenie in die oggend na sosiale media loer nie

Dit kan toksies wees, want jy word dalk heel gelukkig wakker, maar dan lees jy iets van die land se politiek en word jou moermeter in die rooi gedruk. Los dit eerder tot later wanneer jy dit beter kan hanteer.

2 Drink water

Ons wil dit eintlik nie weet nie, maar om jou dag met water te begin, is baie gesonder. Drink dalk vinnig ‘n glas water en daarna jou koppie koffie. Louwarm water met suurlemoen in die oggend het ‘n swetterjoel voordele, sê die mense wat weet.

3. Beplan jou uitrusting en sit dinge reg

Ek het hierdie wenk al hoeveel keer gelees en ek doen dit steeds nie, maar dit werk om in die oggend tyd te spaar. Beplan al die vorige aand wat jy gaan aantrek en as jy kinders het, sit hul klere en tasse vir die volgende dag reg. En onthou om al die vorms te teken …

4. Maak jou kamer netjies voor jy ry

Kyk, as jy in die middag ná werk in ‘n donker kamer moet inloop en die bed is nie opgemaak nie, sit dit jou dadelik in ‘n slegte bui. Probeer om voor jy ry, die gordyne oop te maak, jou bed reg te trek en ‘n paar goed weg te bêre. As jy eerste in die oggend ry, herinner jou geliefde aan wat gedoen moet word …

5. Eet ontbyt

Ek het byvoorbeeld nie tyd by die huis om in die oggend ontbyt te eet nie, dus eet ek ontbyt by die werk, maar daar is nie ‘n manier dat ek nie dit sal eet nie. Mens moet in die oggend iets eet.

6. Raak stil

As jy kans het, sê kenners, sal dit wondere vir jou doen as jy vir minstens tien minute rustig kan sit en dink. Maak kop skoon en hou as ’t ware stiltetyd.

7. Beplan, beplan, beplan

As jy by die werk kom, skryf alles wat jy die dag moet doen neer soos jy dit onthou. Onthou, mens is produktiewer in die oggend so doen dalk die dinge wat die moeilikste is, heel eerste.

8. Kry motivering

As jy sukkel om in die oggend aan die gang te kom en positief te word, plak vir jou ‘n aanhaling of twee iewers op. Laai ‘n toep af om jou gemoed op te kikker of fokus op een ding: Die middag as jy weer by die huis kom.

Lees nog op www.seekingserotonin.com

Send this to a friend