Sjefs: Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien

Die gewilde tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien van die kosprogram Kaap, kerrie en koesisters op DStv, kanaal 147, het nou hul eie kookboek by Human & Rousseau die lig laat sien

Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Michelle Parkin

In Kaap, kerrie & koesisters neem Fatima en Gadija ons op ’n tradisionele Kaap-Maleise kosreis wat terselfdertyd ook ’n lewensreis is, want die resepte word saamgesnoer met herinneringe aan hul grootwordjare op die Kaapse Vlakte en die vroue wat so ’n groot rol gespeel het om ’n liefde vir koskook en bak by hulle te kweek.

Die susters glo aan lekker huiskos en resepte wat vinnig, maklik en bekostigbaar is – soos hul geliefde oorlede ma, Wasiela, se kookstyl ook was. Hulle dra die boek aan haar en hul pa, Abduragmaan, op.

Fatima is ’n ervare huiskok en baie gewild vir haar spyseniering. Haar daaglikse Facebook-inskrywings onder Cape Malay Cooking with Fatima Sydow word verslind deur huiskokke en kosliefhebbers regoor die wêreld.

Gadija, die bredie-queen, is ook ’n kranige bakster en bekend vir haar snow balls. Sy is ewe tuis in die kombuis en biblioteek as hoofbibliotekaris by Laerskool Seaview in Mitchells Plain.

Wat is daardie een resep wat jy oor en oor maak en nie jy of jou gesin ooit moeg voor word nie?
Fatima:
Dit sal altyd ’n lekker warm pot split pea-sop wees met vars brood.
Gadija: ’n Pot hoenderkerrie met roti.

Is daar een resep uit jou kookboek wat jy sou bestempel as die gunsteling van alle gunstelinge?
Vir ons albei is dit Tamatiepootjies (die resep is op bladsy 106).

Watter resep van jou ma is vir jou kosbaar en maak jy gereeld?
Fatima:
Penskerrie
Gadija: Lensiekerrie

Wat is die een bestanddeel wat vir jou as eg Kaap-Maleis uitstaan en elkeen in sy huis behoort te hê?
Fatima:
Masala-mengsel
Gadija:
Leaf Masala

Hoe het die kosprogram op Via ontstaan en wat geniet jy daaraan?
Gadija:
Fatima se baie populêre Facebook-blad wat meer as 300 000 aanhangers het, het David Sweeny, televisie-produksie-eienaar se oë gevang. Hy het uitgereik na beide my en Fatima, en soos hulle sê, the rest is history. Ons geniet dat ons as tweeling-sussies kan saamwerk in die kombuis, ons gunstelingding om te doen. Te kook, lag en heimwee te gee aan die verlede.


Fatima, hoe het jou Facebook-inskrywings begin en wat geniet jy daaraan?
My bedoeling was om die kosse wat ons mee opgegroei het, met die publiek te deel. Kosse van my oorlede ma, ouma, ander familielede en vriende; resepte wat hulle ons geleer het. Nooit het ek kon dink die reaksie sal so ontploffend wees nie. Mense van heel oor die wêreld is nou aanhangers van my Facebook-blad. Die inskrywings van hoe maklik die resepte is om te maak en die herinneringe wat dit bring van hul geliefdes wat nie meer saam met hulle is nie, maak my hart so warm.

Gadija, hulle noem jou die bredie-queen, wat is jou vroegste herinnering aan bredie en watter een is jou persoonlike wenner?
As ek moet terugdink aan my kinderjare, was my eerste kennismaking met ’n bredie die populêre “wortel-en-ertjie bredie”. Omdat kerries so baie in ons huis gemaak is, was die bredie ’n lekker verandering van al die kerries, nie dat ek nie van kerrie gehou het nie, ek is mal daaroor. My gunstelingbredie is ’n steak-bredie met soetpatat.

Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?
Fatima:
Celene Dion: ek is ’n groot fan van haar musiek en hou van haar besigheidsetiket.Amanda Strydom, ek het opgegroei met haar musiek en verskillende talente in teater en TV. Ek hou van haar nederige persoonlikheid en sy motiveer my altyd met haar inskrywings op my fb-blad.Chad Chitter, ek is ’n groot aanhanger en baie lief vir sy sosiale-mediablad, Chad Chitter aka DJ Skouers.
Gadija:
Emo Adams, ek is so trots op sy  prestasies, van ’n jong seun opgegroei in Mitchells Plain en om te bereik wat hy vandag tot stand gebring het. Wow!Annelie van Rooyen, sy is my gunsteling- Afrikaanse sangeres. Ek het opgegroei met haar musiek. Wil net vir haar sê hoe haar musiek my deur moelike tye gehelp het.Jill Levenberg, ek is mal oor haar talent as aktrise. Haar rol in Die Ellen Pakkies Storie het my asem weggeslat.

Wat sal op die spyskaart wees?
Peuselhappies: samoosas, dhalthies en half-moons met ’n soet, sterk sous. Hoofgereg: roti en kerrie en prawn akhni en nagereg: suurlemoenkaaskoek, aartappelpoeding met gestoofde droëvrugte en melktert.

Wat was jou grootste kombuisflater?
Fatima:
Meringue
Gadija:
Melktert

Drie bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie?
Fatima:
Sout, knoffel en masalas
Gadija:
Knoffel, gemmer en brandrissies.

Hoe onthaal jy, met wit lapservette, blomme en kerse, of hou jy van eenvoud?
Dit hang af van die okkasie, maar ons like ons tafel moet mooi lyk.

Het jy ’n gunstelingkookboek?
Fatima:
Op die oomblik is dit Yudikha Sujanani se Curry me Home.
Gadija:
Fatima se eerste boek, The Journey of Cape Cooking with Fatima Sydow.

Wie het jou al jou beste raad gegee?
Vir ons albei is dit ons oorlede ma, wat gesê het: “kook van die hart”.

Wat is jou gunstelingkruie of -speserye?
Fatima:
Geroosterde masala, komynsaadjies en breyani masala
Gadija:
Rooiblaar-masala, pickle masala en hoenderbraai-masala

Fatima en Gadija se groenterys, heerlik saam met ’n gebraaide gereg of gebakte vis

Bestanddele

3 eetlepels kookolie
1 ui, in dun skyfies gesny
½ groen soetrissie, in dun skyfies gesny
½ rooi soetrissie, in dun skyfies gesny
5 ml (1 t) brandrissievlokkies
1 eetlepel fyngekapte knoffel
swartpeper na smaak
1 eetlepel piekel-masala
2 koppies gemengde gevriesde groente (wortels, mielies, ertjies)
4 koppies gaar basmati-rys   
Halwe koppie gekapte vars koljander

Metode

Verhit die olie in ’n kastrol of ’n pan oor matige tot hoë hitte en braai die ui en soetrissies tot goudbruin. Voeg die brandrissievlokkies, knoffel, peper en piekel-masala by en laat stowe vir 1 minuut. Voeg 45 ml (3 e) water by en laat stowe vir nog ’n minuut.

Voeg die gemengde groente by en roerbraai vir 5 minute. Voeg die rys by en meng goed. Verlaag die hitte en laat prut vir 5 minute. Strooi die koljander oor net voordat die rys voorgesit word.

Send this to a friend