Die storie agter die storie – 27 Mei 2011

Willie Burger brei hierdie week verder uit oor die rol van die verteller van ‘n storie

 

Die Duitse skrywer WG Sebald, wat gedurende die afgelope klompie jare ’n groot invloed op baie skry­wers se werk gehad het, het eens in ’n onderhoud opgemerk: "Any form of authorial writing where the narrator sets himself up as stagehand and director and judge and executor in a text, I find somehow unacceptable."

’n Verteller wat oor alle kennis beskik – wat presies al die motiverings van elke karakter kan verduidelik en wat oor al die inligting beskik oor wat oral aan die gebeur is – het volgens Sebald teen die einde van die 20ste eeu onaanvaarbaar geword.

So ’n verteller kan, volgens Sebald, dalk aanvaarbaar wees binne ’n wêreld waarin alles helder en duidelik is, waarin die reëls vasgelê is en waarin reg en verkeerd vaspenbaar is.

Ons leef nie (meer) in so ’n wêreld nie en daarom is dit volgens Sebald noodsaaklik dat die verteller ’n mate van onsekerheid toon en sodoende ten minste te kenne gee dat hy/sy nie so arrogant is om te dink dat dit moontlik is om soos ’n god volledige kennis van alles te kan hê nie: "But I think these certainties have been taken away from us by the course of history, and that we do have to acknow­ledge our own sense of ignorance and of insufficiency in these matters and therefore to try and write accordingly."

Daar is verskeie maniere waarop ’n skrywer hierdie ervaring van onkunde en onvoldoende kennis van die verteller kan laat blyk. Die mees voor die handliggende manier is om die verteller self ’n karakter binne die verhaal te maak – ’n "ek"- of eerstepersoons­verteller. So ’n verteller is dadelik aan ’n sekere ruimte gebonde en kan byvoorbeeld nie weet wat op meer as een plek gelyktydig gebeur nie. ’n Eer­stepersoonsverteller kan ook hoogstens bespiegel oor wat in ander karakters se gedagtes aan die gang is.

Hy kan natuurlik ook uiteindelik, ten spyte van die beperkings, ’n samehangende en volledige beeld van die wêreld bied (soos Lemmer in Deon Meyer se Onsigbaar). Dan is daar nie regtig sprake van die twyfel waarvan Sebald gepraat het nie.

‘’n Verteller wat oor alle kennis
beskik, is onaanvaarbaar’

In Alexander Strachan se nuwe roman, Dwaalpoort, is daar om die beurt vyf eerste­persoonsvertellers aan die woord. Hoewel daar dus meer as een blik op gebeurtenisse gegee word, bring dit nie al meer helderheid nie. Die rede daarvoor is dat elke verteller hoofsaaklik sy/haar onmiddellike waarnemings en gedagtes weergee – sonder om hierdie gedagtes of waarnemings binne ’n volledige storie van hul eie persoonlike ge­skiedenisse te plaas en verstaanbaar te maak. Die leser moet dus heeltyd raai waarom ’n karakter sê wat hy sê en optree soos hy optree.

Maar selfs ’n verteller wat buite die verhaalgebeure staan, hoef nie noodwendig alle kennis te hê nie. Soms gee so ’n verteller slegs die beskrywing van karakters se handelinge en hul dialoog en geen gedagtes weer nie. Dit word dan aan die leser oorgelaat om self te interpreteer wat die handelinge beteken of wat die karakters met hul woorde bedoel. Die leser ervaar dan ook onsekerheid en besef dat die wêreld nie volledig geken kan word nie.

Soms gee ’n eksterne verteller net die gedagtes en ervarings van enkele karakters of van slegs een karakter in die verhaal weer. Al is die verteller dan oënskynlik "buite" die verhaal en besig om "neutraal" te vertel – kry die leser veel meer simpatie met die een karakter wie se ervarings as ’t ware van "binne" weergegee word.

In sogenaamde postmodernistiese vertellings word dikwels sommer vir die leser uitgespel dat dit wat nou gelees word, slegs ’n vertelling is; ’n storie wat die verteller vertel ten einde ’n sekere doel te bereik. Die verteller bely sommer openlik sy eie onkunde en bring dit herhaaldelik onder die leser se aandag. Dit is die uiterste van wat Sebald bedoel met ’n blootlegging van die verteller se eie onkunde en onsekerheid.

Dit mag wees dat die eerstepersoons­vertelvorm gedurende die laaste deel van die 20ste eeu oorheersend geword het (soos David Lodge oor die Engelse romankuns beweer) en dat dit gesien kan word as ’n aanduiding daarvan dat mense toenemend bewus geraak het van ons onvermoë om die wêreld te volle te kan ken en verduidelik. Meer nog, dit is ’n aandui­ding daarvan dat mense daarvan bewus is dat enige poging om die wêreld te beskryf, altyd slegs een perspektief is wat noodwendig sekere aspekte buite rekening sal laat.

Daar is ook juis nou skrywers soos Jonathan Franzen wat na die soort se­ker­heid "terugkeer" wat realistiese vertellings van 19de eeuse romans kenmerk – mis­kien om­dat baie mense uitgeput is deur ver­tel­lers wat sukkel om hul sê te sê en omdat daar ’n begeerte na vastighede is. Vk

Send this to a friend