Die storie van letterkunde – 3 Augustus 2012

Willie Burger vertel ons meer van letterkunde as lewenswetenskap

 Willie Burger vertel ons meer van letterkunde as lewenswetenskap

Die Duitse letterkundige Otmar Ette skryf onlangs in ’n artikel dat ons eintlik aan letterkundestudie as een van die sogenaamde lewenswetenskappe moet dink. Dit is ’n vreemde stelling om te maak. Gewoonlik word daar na studievelde soos plantkunde en dierkunde as die lewenswetenskappe verwys. Die lewenswetenskappe is die wetenskappe waarin lewe bestudeer word. Die “bio” in biologie beteken immers “lewe”. Die stelling lyk dus maar so ’n bietjie verwarrend. Boeke, romans of gedigte het immers niks met die biologie, die lewe, te doen nie. Of het dit? Letterkundestudie kan beskryf word as ’n studieveld wat menslike bestaan probeer begryp deur te ondersoek hoe mense hulself in woorde, in talige skeppings, uitdruk. Letterkundiges hou hulle dus besig met woorde, met stories en gedigte wat in mense se verbeelding ontstaan. Om nou te kom sê, soos Ette, dat hierdie verbeeldingsprodukte iets met die lewenswetenskappe te doen het, lyk vergesog. Storieboeke bied vir party mense dalk lekker vermaak, maar dit is nie vergelykbaar met die lewenswetenskappe waar die ouens in wit jasse met “ernstige” goed besig is nie. Navorsing oor stamselle en die ontrafeling van die menslike genoom, dit is nou lewenswetenskappe! Die baie gesprekke oor die menslike genoom, stamselnavorsing, die moontlikheid van kloning en die manipulering van gene het in ons tyd toenemend die indruk begin wek dat ’n klein groepie hoogs gespesialiseerde kundiges uit enkele wetenskaplike dissiplines ál die kennis oor álle aspekte van die menslike lewe dek. Die misterie van die lewe is nou, aan die begin van die 21ste eeu, deur die lewenswetenskappe ontsyfer. As jy kennis oor die menslike lewe wil opdoen, moet jy daar gaan aanklop. Omdat die ervaring van wat dit is om mens te wees ook in taal uitgedruk word, deur mense self, bevat hierdie uitdrukkings kennis oor wat dit is om mens te wees, om te lewe. En daarom is ’n mens, wanneer jy die letterkunde bestudeer, ook besig met kennis oor menslike lewe. Letterkunde gee dus lewenskennis – nie net in die sin van kennis oor die lewe nie, maar ook kennis oor hoe om te lewe. Letterkunde is ’n voortdurend veranderende en interaktiewe opgaarplek van lewenskennis. Wanneer ’n skrywer ’n roman, drama of gedig skryf, neem hy of sy kennis van die lewe daarin op. Die skrywer kan tog nie ’n roman skryf wat absoluut niks te doen het met die kennis wat ons oor die wêreld het nie. Dan sal die leser die roman glad nie kan verstaan nie. As ’n skrywer byvoorbeeld ’n storie vertel oor ’n huis aan die rand van ’n bos waar ’n ma en haar dogter, wat ’n jas met ’n rooi kappie het, woon, kan die leser die storie volg omdat die leser weet wat ’n bos en ’n huis en ’n ma en dogter is. Die skrywer weet ook wat emosies soos woede, haat of vrees is, of kan kennis dra oor filosofie, godsdiens, politiek en medisyne of oor die eetgewoontes van erdwurms. Hierdie soort kennis word in die spesifieke vertelling, deur van die verbeelding gebruik te maak, op ’n unieke manier gerangskik. Die spesifieke verbeeldingryke rangskikking het ’n effek op die leser wanneer hy of sy dit begin lees. Hierdie ervaring word soms ’n “estetiese ervaring” genoem omdat dit nie in die eerste plek oor die spesifieke kennis oor godsdiens of wetenskap of sielkunde gaan wat in die storie opgeneem is nie, maar omdat die leser, wanneer die storie gelees word, daardeur beïnvloed word. Die leser moet op sy of haar beurt ook die rangskikking van die skrywer, deur die leesproses, herrangskik. Dit is ’n proses waarin die leser aktief betrokke is. En juis daarom het dit ’n effek. Dit word ’n stukkie lewenservaring, waardeur kennis van die lewe opgedoen word. 

Send this to a friend