Ken jou storie: Maak letterkunde ons beter mense?

Willie Burger vra die vraag of letterkunde ons beter mense maak

Baie mense meen dat blootstelling aan “hoë kuns” beter mense van ons maak. As dit waar was, sou boekwurms, leeskringlede, resensente en akademici verbonde aan kuns- en letterkundedepartemente by universiteite waarskynlik veel “beter” mense as die res van die bevolking gewees het.

Ten spyte van wat sommige van hierdie mense oor hulself mag dink, is dit duidelik dat mense wat baie blootstelling aan kuns het, nie moreel beter of slegter as ander mense is nie. Dit laat die vraag ontstaan: Waarom lees mense dan gedigte of luister na musiek of besoek kunsgalerye? Wat help dit as hierdie blootstelling aan kunswerke (wat soms met moeite en onkoste gepaardgaan) nie ’n beter mens van jou maak nie? Die Bosniese skrywer en joernalis wat nou in die VSA woon Aleksandar Hemon het eenkeer in ’n onderhoud opgemerk dat hy ook eens op ’n tyd die illusie gekoester het dat blootstelling aan kuns veredelend is.

Die skrikwekkende realiteit van die oorlog in Sarajewo het hom egter van hierdie illusie genees. Hemon behoort te weet waarvan hy praat. Hy was toevallig op besoek aan die VSA toe die oorlog in Sarajewo uitgebreek het en skielik kon hy (byna soos daardie Tom Hanks-karakter in die rolprent The Terminal) nie na sy eie land terugkeer nie. Die beleg van Sarajewo het vier jaar geduur en Hemon het uiteindelik as vlugteling verblyfreg in die VSA gekry en hom in Chicago gevestig. Nadat ek The Lazarus Project (2008) gelees het, was ek sommer dadelik ’n aanhanger van Hemon. (The Lazarus Project is in die 4 Julie 2014-uitgawe op hierdie blad bespreek.) Wat sy werk soveel merkwaardiger maak, is dat dié Bosniër eers op die ouderdom van 27 uit Serwië na die VSA verhuis het en dat hy in sy tweede taal, Engels, skryf. Max Liu skryf in die Britse Independent oor ’n onderhoud wat hy na aanleiding van Hemon se jongste roman, The Making of Zombie Wars (2015), met hom gevoer het:

The war in Bosnia, Hemon has said, destroyed his illusions about the nobility of art because it demonstrated that people who read poetry and listen to symphonies can also be fascist butchers. So, why write? “What else can I do?” he says. “Literature gives us the chance to imagine an alternative to this reality that claims itself to be self-evident. When I write, I have to question every sentence and step outside who I am to become someone else temporarily. I have to test the proposition: ‘Maybe I’m an asshole, like Joshua.’ It’s an ethical exercise.”

 Hemon gee hiermee ’n belangrike antwoord op die vraag oor waarom ons dan wel letterkunde lees – nie om moreel beter mense te word nie, maar omdat letterkunde ons die geleentheid bied om alternatiewe tot ons bestaande wêreld te verbeel. Te maklik raak ons gewoond aan “hoe die ou wêreld nou maar eenmaal is”, te maklik aanvaar ons dat daar geen alternatiewe bestaan tot die wêreld waarin ons daagliks leef nie. Die literêre alternatiewe wêrelde wat ons deur middel van ons verbeelding kan ervaar, stel ons in die eerste plek in staat om agter te kom hoedat die wêreld waarin ons leef nie die enigste wêreld is nie.

LEES OOK: Ken jou storie: Literatuurteorie

Dit herinner ons daaraan dat ons daaglikse leefwêreld ook ’n bedinkte wêreld is, ook die gevolg van ’n aantal stories is wat ons oor die wêreld vertel en glo. Hemon merk op dat die blootstelling aan ’n ander wêreld, aan die karakters in ’n ander wêreld, mens ook die geleentheid bied om jouself te ondersoek, om na te dink oor hoe jy is, oor hoe jy sou kon wees. Hierdie blootstelling aan ander wêrelde en die belewenis van ander mense maak mens nie sonder meer moreel ’n beter mens as ander nie, maar dit kan mens anders na jou eie wêreld en jouself laat kyk.

Op die buiteblad van Patagonië deur Maya Fowler word Marita van der Vyver se mening oor die roman aangehaal: “’n Nuwe Afrikaanse stem, oorspronklik en selfversekerd, iets om oor opgewonde te word.” Dit is hoë lof, en welverdiend. Soos die titel aandui, speel die roman hoofsaaklik in Argentinië af. Patagonië is die streek waar talle Boere hulle ná die Anglo- Boereoorlog gevestig het ten einde nie onder die Engelse bewind in Suid-Afrika te woon nie. Elsa Joubert het ’n aangrypende novelle oor die swaarkry van hierdie groep emigrante geskryf, Pampas (opgeneem in Twee vroue, 2002).

Soos in Pampas is hier ook sprake van ’n man wat eers na Argentinië reis en dan later deur ’n vrou daarheen gevolg word. In albei werke kom mens diep onder die indruk van die onherbergsame landskap en die titel dui al aan dat die omgewing ’n sentrale rol in die roman speel. Die verhaal van Tertius de Klerk wat besluit om uit die hedendaagse Stellenbosch na Patagonië te vlug en wat dan deur sy woedende vrou gevolg word, word deur vier stemme vertel, wat van Patagonië ’n boeiende leeservaring maak – vol avontuur, maar met baie insig en mensekennis. (Umuzi)

Send this to a friend